Free Web Hosting by Netfirms
Web Hosting by Netfirms | Free Domain Names by Netfirms


The Labuschagne Family
http://labuschagne.netfirms.com

Dedicated to the Preservation of History
Verbind tot die Bewaring van Geskiedenis

Home

Links

Origin

Coat of Arms

Object & Purpose

Nobility

Contact

Concentration Camps

Family Register

Eastern Cape Report 2002

Eastern Cape report 2003

Eastern Cape Report 2004

Humour

Medaljerol

Holkrans Murders

Piet Retief Bittereinder List

Burgers Ward II Piet Retief District

Bloukrans Murders List

Labuschagne References

Loose Threads

Graves

Boer War

Wakkerstroom

Research & Background

How to get started

About the author

Vegkop

Slagtersnek & Van Aardspos

Labuschagne hunters

Wakkerstroom se Labuschagnes

Wakkerstroom Huwelike

Labuschagne photographs

 

Foto's van die pad tussen Tarkastad en Glen Lynden aan die Baviaansrivier
Oktober 2002

In Oktober 2004 het ek 'n poging aangewend om met die grondpad van Tarkastad, deur die berge te rei na Glen Lynden, en verby tot waar die pad aansluit met die Port-Elizabeth-Cradock pad. Die betrokke pad word op padkaarte gewoonlik aangedui as 'n redelike standaard nasionale pad, maar die reisiger behoort in ag te neem dat nie alle dele meer goed begaanbaar is nie.

Dit bly nietemin 'n pad met besonderse natuurskoon en is beslis die moeite werd om aan te durf in 'n goeie voertuig. Van Tarkastad loop die pad min-of-meer suid, tot waar die pad vurk. Ek het regs gedraai in 'n poging om die Baviaansriviervallei van bo uit die berge te nader. Hierdie poging sou egter nie geluk nie, en ek moes na ongeveer 20 kilometer weer terugdraai om die suidelike vurk te neem. Op hierdie manier het ek die Baviaansvallei heeltemal gemis, maar die res van die pad was nogtans die moeite werd. Dit bring mens natuurlik egter baie, baie ver van jou beplande bestemming uit.

Die wêreld wat ek op die hooglande gesien het het meer betrekking op persone wat belang het in die geskiedenis van die vroeë setlaars wat saam met Thomas Pringle se geselskap in die omgewing kom woon het.

Hierdie foto is geneem op die regterkantste vurk wat vanaf Cradock na die Baviaansriviervallei wentel. In die agtergrond lê 'n strepie sneeu na onlangse lente-storms nog op Winterberg--'n belangrike landmerk in die lewens van ons voorvaders.

Die pad word mettertyd kleiner en kleiner. In die diep valleie en klein bergpasse vernou dit soms tot 'n klein driespoor-paadjie sodat mens laterw odner of jy dalk die nasionale pad verlaat het en nou op privaat grond verkeer. Buite die vernouings herstel die pad egter gewoonlik weer.

Die omgewing is kenmerkend stil, eensaam en betreklik verlate. Hier vind mens geen kraglyne, telefoondrade of selfoontorings nie. Daar is beswaarlik enige verkeer langs die pad, en selfs van lewende hawe is daar omtrent geen teken nie. Die lug is krakend koel en verfrissend.

Oral het water gestaan, en mens daaraan herinner dat Thomas Pringle en sy Skotse pioniers in hul element moes gevoel het. Hierdie gedeelte veral, was Pringle wêreld, en hulle nasate woon inderdaad vandag nog hier.

Uiteindelik loop die pad oor 'n nuwe stel bergtoppe voordat dit begin afsak na die Baviaansriviervallei. Hier was die pad egter in 'n modderige moeras vertrap wat totaal onbegaanbaar was. Selfs 'n vierwielaangedrewe motor sou hier slegs op risiko kon probeer deurkom. Ek was dus genoodsaak om teësinnig terug te draai op my spore.

Uiteindelik het ek weer die vurk getref waar ek oorspronklik afgedraai het. As jy nou links draai gaan jy terug Tarkastad toe deur 'n reeks valleie wat so bietjie aan die Klein Karoo naby Oudshoorn herinner. As jy regs draai gaan jy Bedford en Adelaide toe. Laasgenoemde was my keuse, terwyl die son laag begin mik het.

Die pad na die suide kronkel male sonder tal heen-en-weer oor klein riviertjies en stroompies. Na die lente-vloede was die driffies kwaai verspoel gewees tussen die berge, en op plekke kon mens slegs met moeite verby die opdrifsels, takke en sandbanke kom.

In die riviervallei is daar nog 'n billike mate van boerdery-aktiwiteit. Daar is nie baie huise nie, maar die wat wel sigbaar is is van sandsteen gebou en spreek van karakter. Plaasname skep die indruk dat hierdie vallei nog erg Brits in karakter is.

Na geruime tyd verlaat die pad die riviervallei en begin weer die berge in-kronkel. Soos in Voortrekkerdae van ouds, was daar veldbrande in sommige dele. Destyds het die Xhosas soms die veld aan die brand gesteek en die boere se lewens so vergal. Dit sal vandag egter waarskynlik standaard veldbestuursbeginsels wees om die suurveld in die hooglande periodiek te brand--waarskynlik een maal per jaar, ten einde nuwe vegetatiewe groei in die weiding te stimuleer. Vroeë lentebrande soos hierdie een is egter in meeste gevalle 'n buitengewone negatiewe veldbestuurspraktyk en behoort normaalweg ten alle koste vermy te word.

In die berge loop die pad basies op die hoogste deel van die omliggende topografie, en bied in die laat-middag son 'n reeks uitsigte en natuurtonele wat eenvoudig manna vir die oë is.. Hier kan gesien word watse sagte skoonheid daar op die hooglande en waterskeidingsgedeeltes te vinde is. Dit sou beslis dadelik vir die Skotse setlaars meer tuis laat voel het.

Ten ooste van die grondpad strek die landskap rollend die deinende verte in. Daar in die verre valleie sou in Voortrekkerdae voortdurend moeilikheid uitgebroei het in die land van die Xhosas, wat aanhoudend die grensboere kom beroof en plunder het. Mens kan dus aanneem dat ons voorouers van hier af meer sonder en ergernis gesien het as natuurskoon.

Rofweg wes van van die waterskeiding het 'n aantal pioenier-boere soos die latere trekleier Piet Retief, gewoon. So het die vrugbare valleie daar uitgesien.

Verder na noordwaarts hou Winterberg nog vir oulaas 'n nors oog oor die valleie wat na Xhosaland lei regs in die foto, terwyl die pad verder suidwaarts voortrol. Mens neem half teësinnig van Winterberg afskeid, want dit voel half asof die reuse landmerk aan die reisiger 'n tipe van rigtingvastigheid en selfvertroue bied. Van Winterberg af moet mens egter maar volg waarheen die pad ookal lei. Daar is nie werklik nuttige padaanwysings nie, en kaarte is ook nie van veel nut nie, dus moet 'n mens maar jou kop gebruik en op 'n sin van rigting probeer navigeer.

Oral lê die grashellings rustig en stil in die laaste ligstrale, terwyl mens jou maar net kon probeer verbeel hoe Xhosa moeilikheid van tyd tot tyd in die stille valleie opgesluip gekom het met dodelike bedoelings. Uiteindelik het dit ongelukkig te donker geword om verder foto's te neem, en moes ek die laaste twintig of dertig kilometer so vinnig as moontlik aflê sonder om te stop. 

Ek het uiteindelik in waarslik tasbare duisternis by Adelaide uitgekom--moeg en vol stof en modder. Dit was redelik disoriënterend om so ver van 'n mens se beplande bestemming uit te kom. Van hier af was dit gans te ver om weer terug te draai en 'n wye draai om die voet van die berge terug te ry na die ander punt van die Baviaansriviervallei. Ek het gevolglik maar deur die duisternis aangedruk om uiteindelik 9-uur die aand in Grahamstad aan te kom.

 

Contact: mellivora@hotmail.com 
Copyright 2004, H Labuschagne. All rights reserved. No part of this material may be used for commercial gain. 

Data on this site is managed using Legacy genealogical software.  

Legacy 5.0 is a full-featured professional genealogy program that helps you track, organize, print, and share your family history. Includes source documentation, dozens of beautiful reports, expert merging capabilities, To Do list, pictures, videos, Web page creation, spell checking, Internet searching, relationship calculation, name tag printing and more. The program imports and exports standard GEDCOM files as well as directly reads PAF files. 

Hit Counter