Free Web Hosting by Netfirms
Web Hosting by Netfirms | Free Domain Names by Netfirms


The Labuschagne Family
http://labuschagne.netfirms.com

Dedicated to the Preservation of History
Verbind tot die Bewaring van Geskiedenis

Home

Links

Origin

Coat of Arms

Object & Purpose

Nobility

Contact

Concentration Camps

Family Register

Eastern Cape Report 2002

Eastern Cape report 2003

Eastern Cape Report 2004

Humour

Medaljerol

Holkrans Murders

Piet Retief Bittereinder List

Burgers Ward II Piet Retief District

Bloukrans Murders List

Labuschagne References

Loose Threads

Graves

Boer War

Wakkerstroom

Research & Background

How to get started

About the author

Vegkop

Slagtersnek & Van Aardspos

Labuschagne hunters

Wakkerstroom se Labuschagnes

Wakkerstroom Huwelike

Labuschagne photographs

 

Reisverslag: Besoek aan die Oos-Kaap

Winburg Voortrekkermuseum; Somerset-Oos; Baviaansriviervallei; Tarkastad; Cradock; Bathurst; Port Elizabeth

Oktober 2003

Die onderliggende verslag is destyds met die GenForum genealogie gesprekslys gedeel en word netso weergegee:

GenFormers, 

Soos beloof, hiermee ‘n klein reisverslag omtrent my besoek aan Somerset-Oos, so drie weke gelede. 

My safari op die voetpaaie van die verlede was ongelukkig so bietjie verkort deur werksverpligtinge, maar ek het nogtans minstens een doelwit gehad op my reis: ek wou graag sien of ek Freek Bezhuidenhoudt van Slagtersnek-faam se buurplaas kon vind. Hoewel ek nie kon uitvind wat die plaas se naam was nie, weet ek darem dat dit is waar my tak Labuschagnes gewoon het tydens die Slagtersnek gebeure, en die jare net voor die Groot Trek. 

Met die hulp van vriendelike GenFormers het ek met ‘n klein bietjie van ‘n ompad by ‘n baie behulpsame persoon uitgekom wat vir my as gids sou dien. Ek was baie dank verskuldig aan Gideon de Klerk, ‘n boer woonagtig langs die Cradock-Cookhouse pad, wat bereid was om my te gaan rondwys in die omgewing. Gideon se pa was vroeër bekend as ‘n redelike kenner van plaaslike geskiedenis. Wat baie interessant is, is die feit dat Gideon se pa in 1930 begin dagboek hou het, en nooit ‘n enkele dag gemis het nie. Na sy sterwe het Gideon die gebruik voortgesit, sodat hulle nou ‘n onafgebroke daaglikse rekord het van gebeur in en om die omgewing, wat oor ‘n goeie 74 jaar strek. Ook reënval rekords. Die De Klerk familie woon ook al sedert 1871 nog op dieselfde plaas.  

Om met Gideon te kon gesels oor sy familiegeskiedenis en die interessante lewe wat hy en sy pa gehad het, was opsigself ‘n belewenis. Alhoewel ek nie eintlik De Klerk konneksies in my familie het nie, was dit vir my aangrypend dat ons binne 15 minuute gevoel het of ons nog al die jare buure kon gewees het. Dit is asof die skeiding van meer as 160 jaar byna nie getel het nie, want ons praat nog steeds dieselfde taal, het dieselfde waardes en norme, dieselfde gewoontes, en min of meer dieselfde uitkyk op die lewe. Wat ook interessant is, is die feit dat dit wil voorkom asof die boere in die omgewing tot ‘n mate ook maar weer sit met die tipe probleme wat ons voorvaders in die vroeë 1800’s gehad het—tewete ‘n ekonomiese en politieke klimaat wat vir boere maar redelik onvriendelik is. 

Gideon was so vriendelik om my persoonlik na die plek van die Slagtersnek teregstelling te neem sodat ek kan foto’s neem. Die monumentjie is baie naby aan Cookhouse, maar daar is groot padwerke en die plek is nou so onopvallend dat mens die afdraai byna nie sal raaksien tensy jy weet om daarvoor te soek nie. Ek mag dalk noem, vir die rekord, dat mens moet onthou dat die plek van teregstelling stengesproke nie eintlik die ware “Slagtersnek” was nie. Heelwat mense besef dit nie eintlik nie. Slagtersnek is ‘n hele klompie kilometer hoër op in die Visriviervallei. Dit is waar die handelaars van die kus-omgewing gewoonlik die plaaslike boere kom ontmoet het om slagveë van hulle aan te koop. Hoekom die spesefieke terrein vir die teregstelling gekies was, weet ek nie eintlik nie. Dit is maar bloot ‘n oop stuk aarde met ‘n goeie uitkyk oor ‘n draai van die Visrivier, en ‘n ou plaas wat in daardie dae as “Van Aardspos” bekend gestaan het.  

Slagtersnek monument naby Cookhouse. In die agtergrond kan geboue by Van Aardspos gesien word, in 'n bog van die Visrivier. Dit is hier waar die rebelled publiek opgehang is deur die Britse owerhede. 

Gideon het my hier vertel hoe die tereggesteldes moes bymekaarkom vir die voltrekking van vonnis. Theunis de Klerk, wat aan Gideon se familie verwant was, se seuntjie het nogal vooruit getreë om sy pa vir die laaste keer te groet. Toe word die sein gegee, en die veroordeeldes word laat val, net om die grond te tref toe die toue breek. Desnieteenstaande die antieke ongeskrewe regs-beginsel wat bepaal dat ‘n gebreekte tou as ‘n teken van onskuld beskou word, is nuwe toue egter laat. Sonder verdere seremonie is die arme manne nogmaals weereens opgehang—hierdie keer vir die laaste maal. 

Dit is interessant as mens daaraan dink dat die breek van hierdie toue so ‘n dramatise draaipunt in ons geskiedenis kon veroorsaak het. Was dit nie daarvoor nie, kon die gebeure by Slagtersnek moontlik maklik in die geskiedenis vervaag het as bloot nog ‘n voorval waar ‘n korstondige rebellie betyds ontlont is. Die ophang na die breek van die toue, was egter in baie opsigte ‘n tipe katalis—‘n soort vonk wat ‘n kruitvat van baie ander ongelukkighede aan die brand gesteek het. Soos baie historiese wendings het die volksverhuising wat later plaasgevind het waarskynlik gekom as die sameloop van baie verskillende gebeurtenisse, maar wat my persoonlik aanbetref was Slagtersnek die simboliese plek waar die brug van potensiële versoening finaal verbrand is. 

By die monument is daar vir my ‘n misterie opgelos waaroor ek al jare gewonder het. Gideon vertel my dat die balk waaraan die veroordeeldes opgehang was, uiteindelik in een van die geboue op Van Aardspos ingebou was. Ek het wel geweet dat die balk na bewering in 1896 laat haal is met die doel om die rebelle van die Jameson inval daaraan op te hang, maar ek het nog nooit kon uitvind wat toe van die balk geword het nie. Al wat ek geweet het was dat die balk op die ou end in die naam van versoening, nooit vir die beplande doel gebruik was nie. Gideon kon toe aan my vertel dat die balk op die ou end iewers in ‘n pakkamer in Kaapstad opgeespoor is. Daar word blykbaar nou onderhandel om die balk hopelik te kan terugkry om in die Somerset-Oos Museum te bewaar.

Inskripsie op Slagtersnek monument

 Vervolgens het ons die kronkelende paadjie wat langs die Baviaansrivier na Glen Lynden lei, gaan opsoek. Hierdie was die vallei waar so baie van ons gemeenskaplike voorouers gewoon en gewerk het. Dit was baie anders as wat ek my voorgestel het. Ek het welliswaar die vallei gesien ten tye van een van die swaarste droogtes in jare, maar ek kon myself nogtans beswaarlik indink hoekom die trekboere juis hier wou kom woon het. Dit wou tog voorkom asof daar veel meer landbou-vriendelike gebiede sou gewees het om van te kies. Tog moet mens seker onthou dat die streek al reeds van vroeë tye af trekboere moes onderhou en met hulle groot troppe en baie kinders moes die boere groot plase hê. Die uitsoek-grond langs die Visrivier was sekerlik gou afgebaken, en die laatkommers moes seker maar die berge invaar om ‘n heenkome te vind. Die berge rondom die Baviaansvallei sou egter natuurlik ook darem ‘n mate van skuiling bied, sowel as ‘n bietjie hoër reënval van plek-tot-plek. Dit alles moet faktore gewees het wat die rustelose pioniersharte bly aantrek het. 

Soos mens die vallei dieper invaar, word mens geleidelik al hoe dieper omvou deur ‘n gevoel van totale vreedsaamheid wat gebore is uit die stille afsondering en natuurskoon van die ou klip-hange. Na die stormagtige jare wat sommige boere onder Britse administrasie ondervind het, moes die vallei moontlik so bietjie soos ‘n Bybelse Petra gevoel het—‘n veilige hawe waar die Engelse hulle nie maklik sou kom pla nie. Ongelukkig het dit natuurlik spoedig geblyk dat hierdie gevoel eintlik ‘n valse gerusstelling was, want veediefstal en burokrasie het soos ‘n slegte spook kort op hulle hakke bly volg, maak nie saak hoe ver hulle getrek het nie. 

Naby die begin van die Baviaansvallei maak die pad ‘n skerp draai tussen lieflike kranse deur, beskilder met antieke swart vlekke, en behang met gordyne van spekboom wat ‘n sukkel-bestaan teen die droogte voer. In hierdie ellemboog staan ‘n vreedsame klein roubaksteen huisie, wat voor die Groot Trek glo die woonplek was van Groot Willem Prinsloo. Hier, volgens Gideon, het die Skotse settlaars gestop om kennis te maak met die boere met wie hulle die vallei vir baie, baie jare sou deel. Hier ook, het Willem Prinsloo die moë reisigers verwelkom met lemoene, pampoene en ander ander voedsel uit sy landerye. Die ou huisie blyk nog relatief goed bewaar te wees. 

Die huisie van Groot Willem Prinsloo met die Baviaansrivier wat tussen die huis en die pad verby vloei. Hier het Groot Willem die Skotse Setlaars verwelkom met groente en lemoene uit sy landerye. 

Van hier af kronkel die pad male sonder tal heen en weer oor die rivier. Die vallei herinner nogal baie aan die Ohrigstad vallei naby Lydenburg in die ou Transvaal. Die veld het vir my redelik oorbewei voorgekom, maar ek is nie ‘n kenner van Karoo-veld nie, en Gideon het my verseker dat dit eintlik nie in so ‘n slegte toestand is nie. Wat wel seker is, is dat die moderne boere daar, ook maar stadigaan begin agteruit boer. Die Baviaansrivier is vandag slegs ‘n small sand-stroompie, en meeste van die ou landerye staan in onbruik. Die pragtige Kaaps-Hollandse herehuis wat ‘n tak van die Pringle familie gebou het, lyk half-verwaarloos, en mens moet verbeelding gebruik om vir jouself die swierige partytjies voor te stel wat een op ‘n tyd glo daar gehou was. Met die verby ry kon ek nie help om te dink aan ‘n reëltjie uit ‘n ou Anton Goosen liedjie: “Flink draf die slawe om almal te verwelkom…” Ek moes glimlag, want mens kan dit vandag nog maklik voorstel—die geknars van spaaider wiele op die gruis, gewillige hande om wit-gepoeierde dames met kan-handskoene en kalfsleer skoene uit die rytuie te help. Manne met tartans, lang wit kouse, en breë Skotse aksente in skelle kontras met die Afrika-verbrande bruin pioniersvelle. 

Nie ver na die ou Pringle herehuis nie, loop die Seekoeirivier min of meer na die noorde. Dit is hier iewers, waar ek vermoed, die plaas van ou Frans Labuschagne kon gewees het. Ongelukkig weet niemand daar van ‘n plek met die naam “Zeekoegat,” wat moontlik die oorspronklike woonplek sou gewees het nie. Die rooi en wit rigtingwysers op ‘n paal lees soos ‘n kosmopolitaanse spyskaart: “HK van Dillen—Ven Grove, 19km. CH Moolman—Belmont, 13 km. WD Pringle—Fair Holt, 5km.”   

‘n Entjie verder is Freek Bezhuidenhoudt se ou plaas. Freek se graf is nog afgekamp, maar die hek wat daarheen lei word byna heeltemal versper deur opslag doringboompies. Mens sal dit waarskynlik mis as jy nie weet waarna om te kyk nie. Naby die graf moes sy ou opstal gewees het, maar presies waar weet niemand nie. Daar is vandag nie eers meer ‘n teken van ‘n kraal, ‘n ashoop of ‘n fondasie nie. Dit is asof selfs die tyd saamgesweer het om alle rekord van hierdie moeilike en eiesinnige man te probeer uitwis. 

Die graf van Freek Bezhuidenhoudt. Volgens Gideon de Klerk is die gevoel dat Freek se oorspronklike postal min of meer in die omgewing van die graf moes gewees het. 

Dat Freek Bezhuidenhoudt waarskynlik nie ‘n gesogde karakter was soos gemeet aan algemeen aanvaarbare sosiale standaarde van die tyd nie, blyk relatief seker te wees. Hy was duidelik nie ‘n man wat hom aan gesag of konvensie gesteur het nie. Dit kan mens aflei aan die feit dat hy nie wettiglik getroud was nie, nie sy kinders laat doop het nie, en uiteindelik heel gemaklik saam met ‘n kleurling hou-vrou gewoon het. Nogtans, moet mens seker ook besef dat tye toe anders was. So maklik as wat dit vandag is om Freek te kon wegmaak as ‘n onnosele rebel met ‘n roekelose hart en ‘n dwase verstand, kan mens hom seker ook uitbeeld as ‘n selfstandige Boere-cowboy wat nog altyd net homself gehad het om op te vertrou, en wat sy plekkie in die wêreld met kaalhand en snaphaan alleen moes oopveg. Waarskynlik was hubare vrouens skaars, en van die wat daar was, sou baie waarskynlik nie in die eensame afsondering van die berge wou gaan woon het nie. Miskien was ou Freek en sy baster familie heel gelukkig. Dit is half moeilik om sy omstandighede voor te stel. 

Ten tye van die Slagtersnek gebeure was my ou voorvader, Leendert Labuschagne, en ‘n Erasmus seun werksaam by Bezhuidenhoudt. Die ou landerytjies is nog daar en mens kan jou voorstel hoe die seuns waarskynlik die skape uit die lande moes hou, of moes help ploeg of oes. Leenderd was die tweede jongste uit ‘n groot familie, en dit mag wees dat daar kommer was oor hoe hy en sy jonger broer eendag ‘n lewe sou moes maak, gegewe die feit dat grond al skaars moes gewees het. Min het hulle geweet dat sy lewenspaadjie uiteindelik Transvaal-toe sou lei. 

Die dag toe die gereg vir ou Freek uiteindelik na vele waarskuwings en dreigemente kom haal het, het my voorvader Leendert en die Erasmus seun onverklaarbaar verdwyn. Mens kan maar net raai dat hulle ouers, wat Freek se berugde humeur goed sou geken het, lankal gewaarsku het dat hulle nie in sy driftige avontuure betrokke moes raak nie. Sonie, het hulle miskien eenvoudig nie die hart gehad om op jeugdige ouderdom ‘n goed-gewapende oormag goedsmoeds storm te loop vir ‘n saak wat baie maklik vreedsaam geskik kon geword het nie. Natuurlik moes Freek hom seker nie verset het nie, maar daar is altyd twee kante aan ‘n saak. Eers nadat ek self daar was kon ek verstaan hoekom Freek geweier het om bloot op aandrang van die outoriteite Graaff-Reinet toe te reis. Dit moes ‘n geweldige reis gewees het in daardie dae. As Freek werklik gepla was deur rumatiek, soos hy beweer het, kan mens begryp waarom hy geen lus gehad het om op ‘n tog wat seker twee of drie weke sou geduur te moes gaan.  

Monument by die plek waar Freek Bezhuidenhoudt gesneuwel het. In die agtergrond is landerye wat waarskynlik oorspronklik deur Freek en sy helpers self bewerk was. 

Gideon was jare lank baie betrokke by die Voortekker jeugbeweging en vertel hoe hulle as kinders elke jaar die Slagtersnek gebeure daar gaan naboots het. Ten aanskoue van al die ouers wat op Dingaansdag daar kom uitkamp het, het hy en sy maats dan al skietende die rivier op gevlug langs dieselfde roete wat Feek en sy baster-seun, Hans, sou geneem het. Gideon was gewoonlik Freek—die held in die hele verhaal.   

Die pad van Freek Bezuidenhout se vlug het deur hierdie vallei geloop. Aan die linkerkant van die foto is 'n klein wit kolletjie wat nie ver van Freek se woonhuis sou gewees het nie. Die landerye aan die oorkant kon moontlik reeds deur Freek self bewerk gewees het. Die klipskeur waar Freek Bezuidenhout se lewe geïndig het kan uitgemaak word so entjie onderkant die hekkie regs voor in die foto.

By die klipskeur het almal dan met loskruit Martini-Henri’s geskiet (dit moes eintlik pangewere gewees het), totdat Freek dan kastig deur ‘n klip of wegskrum-koeël teen die kop getref was, en dood neergeslaan het. Die klipskeur waar Freek geskuil het, is nogal interessant en dit lyk heeltemal anders as wat mens jouself uit die geskiedenisboeke voorstel. Dit was nie ‘n watwonderse skuiling nie en Freek moes geweet het hy stry ‘n hopelose stryd. Hy was egter duidelik nie bang vir die dood nie, en het dit waarskynlik verkies bo die vernedering van ‘n geregtelike verhoor. By die klipskeur is ‘n klip monument opgerig wat weereens, maar baie swak sigbaar is van die pad af. Die bordjie is lankal verroes en verblyk sodat min mense dit seker sal raaksien. 

Die klipskeur waarin Freek Bezhuidenhoudt homself verskans het tydens die geveg. Van bo af kon klippe maklik in die kuiling afgegooi word, soos die foto aantoon. 

Op dieselfde pad kom mens uiteindelik by die veel-beroemde Glen Lynden kerk uit. Ek het nie geweet nie, maar daar is eintlik twee. Die ou oorspronklike een, soos gebou deur die Skotse setlaars, en die veel groter en meer indrukwekkende nuwe een. Dit is interessant hoe die geskiedenis maar telkens herhaal. Aanvanklik het die Skotte die kerk vir hulleself gebou, en toe die Boere uitgenooi om maar te kom deel aangesien hulle tot ‘n groot mate dieselfde uitkyk op basiese geloof gehad het. Later het hulle die kerk vir die Boere gegee toe hulle ‘n nuwe kerk op Bedford gaan bou het. Jare later is die kerk aan ‘n swart gemeente oorgedra, en toe die gemeente te klein gekrimp het, het die plaaslike boere dit terug ontvang en gerestoureer. Die plek word nog relatief goed onderhou, danksy die belangstelling van mense soos Gideon en andere.

Die ou, oorspronklike Glen Lynden kerkie. Die Afrikaanse inskripsie op ‘n brons gedenkplaat teen die muur lees as volg: “OU GLEN LYNDEN-KERK. Deur die invloed van Thomas Pringle het die regering heirdie kerk in 1828 gebou vir die Skotse Setlaars en hul Hollandse bure. In 1899 het dit ‘n Nederduitse Gereformeerde Kerk geword. Opgerig deur die Historiese Monumente-Kommissie.” 

Elke jaar met Geloftedag word die ou traporrel nog op Bedford gaan haal, en dan hou die volk weer ‘n diens in die ou kerk, maar behalwe dit staan alles maar leeg. Die ou pastorie wat op sy dag ‘n mooi groot huis moes gewees het is nou ‘n murasie. Die ou De Klerk nagmaalhuis is die enigste een wat nog staan. Die Baviaansrivier, waar ‘n Engelssprekende seuntjie volgens een van die grafstene aldaar verdrink het, vloei amper nie meer nie. Net die strepe teen die kranse langs die rivier vertel nog hoe ons voorvaders, en ook Gideon en sy maats toe hulle klein was, op aalwynblare die styltes afgegly het. Na die tyd was die broeke en knieë natuurlik stukkend en as die oumense van nagmaal af teruggekom het, dan was daar slae uitgedeel en spoeg aangesmeer. Vandag nog sit daar sulke lang, vaal strepe teen die skuins kranse af—die glimlag-wekkende getuienis van meer as twee honderde jaar se kinderpret.

 Die "nuwe" Glen Lynden kerk, na onlangse restaurasie. 

Die graf van die seuntjie wat verdrink het, lê tussen die Glen Lyden kerke en die Baviaansrivier, vlak langs die grondpad. Dit is ‘n klein ommuurde familie kerkhoffie wat effens verwaarloos is. Die grafstene is egter mooi leesbaar en ek het van elkeen ‘n foto geneem. Mens kan maar net wonder watse storie agter hiedie familie se name skuil. Die inskripsies is as volg: 

·                     In Affectionate rememberance of Alexander Mitchell Webber eldest of John & Hendrietta Webber who died at Glen Lynden 16th of Novermber 187(?) aged 13 months & 4 (?). [Nog ‘n ekstra lyn op die grafsteen ontbreek. Inskripsie was obskuur deur dooie plantegroei.]

·                     In loving memory of Millicent Ann Webber beloved wife of B.M. Webber who died in her 57th year at Avondale 8th June 1902.

·                     In loving memory of Benjamin Mitchell Webber beloved husband of M.A. Webber, who died in his 47th year at Glen Lynden 2nd April 1893.

·                    In loving remembrance of William Nash son of B.M & M.A. Webber who was drowned while bathing at Glen Lynden Tuesday 20th January 1880 aged 10 years and 3 months. He loved Jesus. [Hierdie graffie is versier met ou seeskulpe].

 Volgens Gideon is twee van die Skotse predikante van Glen Lynden, binne die kerk self begrawe, maar ek weet nie wat hulle name was nie. 

Hier, in hierdie stil, ver-verlete, maar pragtige vallei, moes baie gelukkige uure oor baie geslagte deurgebring gewees het. Dit is jammer dat alles vandag, na soveel jare van lief en leed, weer deur die stilte van die berge en die eensaamheid van geskiedenis wat besig is om toegewaai te word onder die sand van tyd, teruggeneem word. En tog, miskien is dit paslik. ‘n Waardige uur in die geskiedenis van ons voorvaders se plek van herkoms. Moontlik die laaste uur, want wie nog na Glen Lynden sal omsien na hierdie geslag verby is, kan ons maar net raai. Met die treurige plattelandse verval wat oral te sien is, mag Glen Lynden eendag dalk net ‘n reeks ou, toegegroeide fondasies langs ‘n pad vol slaggate wees. ‘n Pad wat vandag nie eers meer behoorlik op landskaarte aangedui word nie. So maak die tyd maar met die werke van mensehande.  

Die pad wat deur die Baviaansvallei kronkel loop van hier af soos ‘n stowwerige slang oor die droë, skurwe berge tot waar die Pringles se nasate vandag nog woon. Hier was ek al vantevore, en dit is ‘n pragtige gebied wat my baie geval. Meer suurveld, beter reënval, en duidelik ook heelwat kouer in die winter. Uiteindelik—na baie verlate kilometers waar mens beslis nie wil hê jou motor moet breek nie, kom die pad weer by Tarkastad uit.  

By Tarkastad het ‘n hele klomp van my Labuschagne familie gewoon. Een van die groot familienedersettings was op Bezuidenhoutskraalmond, ‘n plaas wat net-net noord-oos van die dorp geleë was. Ek het daar verby gery, maar kon nie so ‘n plaasnaam sien nie. Dit was al laat en die inligtingsentrum op Tarkastad was al toe, so ek kon ongelukkig nie verdere inligting bekom nie. Ook Honingrivierkrans, nog ‘n Labuschagne plaas, het my ontglip. Tarkastad se weiding is heelwat anders en dit lyk of dit goeie bees-wêreld moes gewees het in dae van ouds. Daar is heelwat meer gras, en in Voortrekkertye mag dit dalk wees dat gras meer dominant was as Karoo bossies. Soos dit vandag is, ly die gebied onder droogte en grootstkaalse oppervlakte erosie. Dit is seker maar die gevolg van jare se boerdery sonder ‘n kampstelsel, en na dit, waarskynlik jarelange oorbeweiding tydens tye van droogte.

 Figuur 9. Tarkastad in die laat-middag.

 As mens van Tarkastad af terug Cradock toe ry, kom mens agter dat die berge rondom die Baviaansvallei basies soos ‘n onherbergsame swart eiland in die verte lê—‘n soort misterieuse landmerk wat sy inwoners verwelkom het, en ‘n waarskuwende vinger vir vreemdelinge sou gewys het. Van Queenstown, verby Tarkastad, links af by Cradock, en al die pad verby Cookhouse, weer links na Bedfort en Adelaide loop die pad. Dit omsingel as’t ware die dreigende donker kol berge en klowe waar die Trekkers van ouds gewoon en geleef het. Ongelukkig sou niks die aanslag van politieke geweld, roofsug en tyd kon weerstaan nie, hoe veilig die berge rondom die Baviaansrivier ookal voorgekom het. 

Die besoek aan die Baviaansriviergebied was in baie opsigte werklik merkwaardig en oor en oor die moeite werd. Vir een ding, het ek baie geniet om Gideon de Klerk en sy aangename familie te ontmoet. Hy het ‘n ou stamboom van De Klerks, en is altyd gereed om in sy ou geskiedenisboeke of die talle geskiedkundige geskrifte wat sy pa nagelaat het, te gaan soek na antwoorde op vrae. Gideon is ‘n boer van die ou skool, maar nogtans ‘n man met ‘n moderne visie en ‘n self-denkende geaardheid. Die tipe mens wat ons pa’s en oupa’s eens op ‘n tyd was. Dit sal ‘n treurige dag wees as daar eendag nie meer sulke hartlike, gasvrye ou Afrikaners sal wees nie. 

Op die dorpie Somerset-Oos het ek oornag in ‘n gastehuis van ‘n buitengewoon-vriendelike tandarts, Dr. Archer. Met Archer, kan mens sit en gesels oor skilder-kuns, fotografie, en tuinmaak tot die hane kraai en dit het ek wel ook gedoen. Ek sal nie huiwer om enigiemand aan te raai om van die Archer gastehuis se akkommodasie gebruik te maak nie. Archer het, interessant-genoeg, in sy tuin ou kaktusse wat al by die 40, 50 jaar oud is en wat hy van klein plantjies af versorg het. Ek het nog nooit sulke enorme kaktusse gesien nie. Party van hulle is so groot soos ou brandewynvate. Diegene wat van plante hou, sal Dr. Archer se geselskap bepaald baie geniet. Tussen al die gebraat deur oor Cotolydons en Mesymbrianthenums gaan tyd egter vinnig om en mens moet jouself behoorlik wegsleur uit Somerset-Oos uit. Ek kon ongelukkig nie tyd inruim om die museum, Walter Battis kunsgallerei, en ander historiese landmerke te gaan besoek nie. 

Van die Baviaansvallei en omstreke, is ek af Port Alfred toe waar ek meer tyd gaan bestee het aan my ou 1820 Britse voorvaders wat vandag nog ‘n die dorpie Bathurst lê en rus. Daarvan sal ek nie nou veel vertel nie, aangesien meeste GenFormers waarskynlik nie ‘n besonderse groot belangstelling by die Setlaarsgeskiedenis het nie. Wat ek wel mag noem is dat Bathurst ‘n paar interessanthede het wat die moeite werd is om te besoek. Vir diegene wat dink dat die oumense nie ook oud geword het nie—gaan kyk maar in die plaaslike begraafplase. Daar lê een of twee ou tannies wat lag-lag ‘n 100 jaar of meer oud geword het. Mens moet ook maar moeite doen om genoeg tyd heir te spandeer, want die plaaslike mense is vriendelik en as hulle eers begin gesels kom jy nie weg nie. 

Daar is ‘n ou boekwinkel (agter in iemand se tuin, langs die grootpad) wat ‘n groot versameling Africana het, en waar ek onbeheerst gaan kwaad doen het. Ook ‘n antieke/snuistery winkel me tdie naam “Pennyfarthing”, waar ‘n ou koper lamp so hard met ope arms gestaan en soebat het dat ek hom moet huis-toe vat, dat ek maar moes ingee. Onthou om hier fudge te koop. Vra vir “Mud Pies.” Ek hou van fudge en het al goeie fudge geniet, maar hierdie fudge is in ‘n klas van sy eie. Dis iets soos R6 ‘n pakkie, maar dis die moeite werd. By die ingang van die dorp is ook ‘n ou landboumuseum wat ‘n redelike goeie versameling ou landbou implimente en masjienerie het. Weereens, maak maar reg vir groot gesels, want die kurators is vriendelik en baie gretig om enige belangstellende alles te gaan wys en alles te verduidelik. 

By die dorp se toposkoop het ek heiligskending gepleeg deur vroeg vroeg die oggend bo-op die klip pilaar te klim om 360 grade panorama foto’s te neem. Gelukkig het niemand my gesien nie, behalwe een vrou wat uitgeklim het, baie vinnig rondgekyk het, en toe laat spat het asof sy baie haastig was of groot geskrik het. Daar is een pertinente voordeel daaraan verbonde as mens vroeg by die toposkoop kan opdaag—mens spring op die manier die hordes bedelaartjies vry wat gewoonlik uit die bosse genael kom sodra ‘n motor opdaag. Dan moet jy net keer of jy verloor alles van jou brille tot jou valstande, tensy jy ‘n afkoopsom van kleingeld of toebroodjies betaal. Wees gewaarsku. Ek sien darem iemand het die koper plate wat deur booswigte gesteel was, weer vervang. Die toposkoop, vir die wat nie weet nie, is gebou op die terrein van ‘n ou Britse militêre kamp. Van hier af is die Britse setlaars se plase toegeken en aan hulle uitgewys. Die plek het ‘n pragtige uitsig oor die omliggende gebied. 

Die ou Pig & Whistle hotel in Bathurst is intussen ook bietjie opgegradeer. Ongelukkig is baie van die ouwêreldse sjarme myns insiens daarmee verlore, maar miskien moet ek maar eers oordeel wanneer die restaurasiewerk voltooi is. Ek was vertel dat daar tydens die restaurasie ‘n onontdekte kelder onder die vloer van die restaurant gevind is. Daar vind hulle toe ‘n baie, baie ou bottel sjampanje. Ongelukkig was daar ‘n klein gaatjie in die kurkprop en die inhoud het lankal uitgeloop. Dit is jammer. Ek het gehoor dat sjampanje wat baie oud word, uiteindelik in iets taai soos sjerrie verander en wou nog altyd weet of dit waar is. 

Die aand toe ek by die Pig & Whistle hotel eet vra die kelnerin my wat ek wil hê. Ek sê toe: “I’ll have what Lord Charles Somerset had the last time he was here.”

Sy kyk my toe so half verslae aan en antwoord: “I’m sorry, I don’t know him.”

Duidelik weet nie almal in Bathurst ewe veel omtrent die dorp se geskiedenis nie. Die kelnerin vra toe waar ek vandaan kom en ek antwoord dat ek van Johannesburg kom—broeiplek van elke sonde wat in die Goeie Boek genoem word, plus nog ‘n hele paar wat die mense vir hulleself gaan uitdink het. Sy sug toe en sê sy is op Bathurst gebore, het daar skoolgegaan, was vir ‘n kort rukkie weg, en nou is sy weer terug. Sy murmereer toe ewe mankoliek ‘n grafskrif vir haar klaaglied: “And nothing EVER happens here!”

Dit kon ek sien, maar oor haar versugting na die liggies van die stad kon ek maar net stilweg prewel: “Poppie, jy moet oppas waarvoor jy wens. Die Chinese het ‘n gesegde wat sê: ‘Oppas waarvoor jy wens—want wense word soms wel waar…’” 

Ewenwel, die maaltyd van medium-gaar bestelde biefstuk wat toe baie gaar bedien was, was aangenaam en die nagrus was omtrent dieselfde, ten spyte van sterk wind wat alles geskud het en takke van die bome afgeruk het. Onthou net om gebottelde water saam te bring Bathurst-toe. Die plaaslike kraanwater lyk soos flou rooibos tee en nie eers die inwoners wil dit drink nie. Eet ook maar vroeg, want na 8-uur in die aand verander Bathurst soos enige opregte plattelandse dorpie in ‘n spookdorp wat byna niks verskil van die tyd toe hy gevestig was nie, 184 jaar gelede. 

Van hier af is ek Port Alfred en Port Elizabeth toe, waar ek agter ander dinge gaan aan-snuffel het vir ‘n week. Port Elizabeth se hoof-museum is ‘n besoekie werd, veral as mens hou van ou skeepskannonne en skeepsmodelle. Ek het met mooipraat en beloftes uitdeel bietjie film in die museum gebrand, totdat ek deur ‘n totale vreemdelik gevra was om asseblief tog ook foto’s van hom te neem. Wat die stomme mens in gedagte gehad het, weet ek nie, want hy sou mos nooit die foto’s weer sien nie? Ek was beslus nie lus om foto’s van ‘n volslae onbekende persoon te loop neem nie. Dis toe dat ek maar met ‘n paar agterdogtige kyke oor die skouer weer weggesluip het terug Port Alfred toe. Die museum het ‘n skeepsmodel van die “Weymouth”—‘n skip waarmee talle van die bekende 1820 families gereis het. Van my voorvaders was op hierdie skip, en ek was baie ingenome om ‘n paar foto’s van die model te kon neem, aangesien ‘n gawe persoon so ‘n klompie maande gelede die skip se logboek vir my gaan afskryf het in Engeland.  

Met die terugkom het ek weer langs die Visrivier opgery en gaan kyk of ek op my eie die ou plaas Vanderlindeskraal kon vind. Die pad oor Slagtersnek is nogal ‘n avontuur op ‘n paar plekke, maar dis heel gangbaar mits mens nie te verbouereerd raak wanneer daar lateraan geen padtekens meer is nie. Die plaas kon ek glad nie vind nie, so ek sal maar weer moet teruggaan as ek tyd het. Gideon wou my soontoe vat, maar hy het ander verpligtinge gehad en ek wou hom nie graag daarvan weerhou nie. 

Die res was maar bloot ‘n reis van dorpie tot dorpie. Op Cradock kry mens welliswaar nou niks te ete op ‘n Sondag nie, maar dit is regtig ‘n lieflike ou dorp. Johan Pottas moet my maar vergewe as ek ek hieroor my bek rek, maar ek is al die tyd wel ‘n plattelander in murg en been en heeltemal gewoond aan sulke dinge. Mens verwag net dat daar met soveel toerbusse in die dorp, ideaalgewys nog ‘n soort “Ouma se kombuis” sou wees wat afval, gebakte skaapkop, pofadders, blindevinke, souskluitjies en soetpatats sou bedien. Maar dit was my die beskore nie, en meeste moderne siele gril seker deesdae vir sulke kos. 

Die enigste verdere voorval was tussen naby Steynsburg toe ek moes stop om sekerlik die grootste bergskilpad wat ek in my lewe gesien het, uit die pad uit te verwyder. Die ou kind van die berge het ewe verontwaardig vir my geblaas toe ek hom wegdra sodat hy nie miskien die volgende motoris se hele verkoeler sou wegslaan nie. Ook sodat die kar wat hom tref, nie dalk die taamlike diep afgronde langs die pad sou intuimel nie. Dis toe dat ek agterkom my kar het iewers met die slaggate se tref, ‘n brandstoflekkasie ontwikkel. Van toe af was dit ‘n gejaag om by ‘n brandstofpomp te kom voordat die tenk leeg was. Al hoe vinniger en vinniger. Tot my ontsteltenis moes ek vind dat Steynsburg nie meer brandstofpompe het nie. Ek is eers later die storie vertel van hoekom die plek nie meer het nie. Tragiese verhaal vir ‘n ander dag, daardie ene.  

Op Bethulie kon ek darem met weer die tenk aanvul en gerieflik verder ry tot op Bloemfontein. Die volgende dag het die agenstkap in Bloemfontein so pateties onwillig gereageer, dat ek maar self die lekkasie moes lap en verder aansukkel. Gelukkig kon vriendelike werktuigkundiges in Welkom vir my die probleem sommer vinnig en gratis herstel. As mens die enigste agentskap is wat ‘n ganse stad bedien is die versoeking seker maar altyd daar om diens-standaarde tot ver benede die aanvaarbare norme te laat sak. Dis jammer. Benewens dit was ou Bloemfontein nog altyd vir my ‘n buitengewone aangename en vriendelike stad waaraan ek net die beste herinneringe dra. Die stad brei geweldig uit en heelparty ou landmerke is eenvoudig nie meer daar nie.  

By Winburg het ek gestop by die ou Voortrekker bymekaarkom monument waar baie van ons voorvaders op ‘n tyd staanplek gemaak het. My eie voorvaders het byna almal vir ‘n tyd lank by Winburg gaan uitspan om voorrade aan te vul, seile te stop, nawe te ghries, vellings te kort, en alles te doen wat gedoen behoort te word voor mens die volgende been van ‘n lang reis na die onbekende binneland verder sou aanpak. Mens kan jouself maklik voorstel hoe dit moes gelyk het in dae van ouds met dosyne waens wat oral uitgespan gestaan het, en duisende stuks beeste, skape en perde wat die hele vallei volg gewei het. Hier moes saens musiek gemaak gewees het, en tot laat in die nag bespiegel geword het oor ‘n pyp en ‘n beker koffie oor wat die toekoms mag inhou. Ek is seker op ‘n helder maanlig-aand, as mens mooi luister, sal jy dalk nog ‘n paar vrolike note van ‘n konsertina en boereviool kon hoor… 

Die museum self is tipies van die jare 60 se verbeeldinglose argitektuur, maar die monument bly darem ‘n interessante landmerk om te besoek. Hoewel dit duidelik verwaarloos is, is daar in die aanliggende museum nog lewe, al is dit maar net-net. Meeste van die uitstallings is verwyder. Of dit deur iets nuuts vervang gaan word, weet ek nie. Omtrent al wat nuut is, is ‘n klein, on-inspirerende uitstalling wat iets te vertel het oor die geskiedenis van Winnie Mandela. ‘n Makabere aanvulling tot Voortrekkergeskiedenis, voorwaar, maar nogtans onweerlegbaar deel van Winburg se stadig-bewegende geskiedenis.

Figuur 10. Die Voortrekkermonument buite Winburg. Elke vleul bevat die naam van ‘n aparte trekleier. In hierdie geval, Andries Hendrik Potgieter. 

Wat die stop egter die moeite werd gemaak het, was die feit dat ou President Steyn se geboortehuisie nog daar staan. ‘n Regte ou hartbeeshuisie met misvloere, riet-plafon en dik klipmuure. Met die aankom kon ek nie help om te dink: “Ag, hoe elendig om in so ‘n wind-verwaaide, misrabele ou plekke te moes leef nie.” Tog, as mens die huisie binnekom, val dit jou onmiddelik op dat die atmosfeer buitengewoon vriendelik is. Die meubels is keurig en van goeie kwaliteit stinkhout. Alles dui op wat ‘n baie gelukkige pionierslewe moes gewees het. Van luukshede was daar geen sprake nie, maar ek kon sien dat ‘n mens op so ‘n plekkie kon woon soos ‘n onafhanklike pioniersgees bedoel was om te leef: vry en gelukkig, onaangetas deur die gejaag van  tyd, en ongeraak deur die konstante aanhitsing van eksotiese drome en hoë ideale. Dit is ‘n plek waar mens kon kinders grootmaak. ‘n Waardige plek vir ‘n president om gebore te word. Dit is geen wonder dat President Steyn sy lewe lank ‘n nederige en buitengewoon ordentlike heer gebly het nie. Die hele plek getuig van karakter. 

As mens deur Bloemfontein ry is dit die moeite werd om die ou presidensie reg oorkant die magistraatskantore te gaan besoek. Die kontras tussen die twee wonings is baie treffend aangesien die latere presidentswoning ‘n uiters stylvolle gebou is, swierig ingerig en met interessante argitektuur.  

Iets wat van meer direkte genealogiese waarde is, is ‘n klein begraafplaas so ‘n 150 meter van die ou presidentshuisie by Winburg. Ek het geen konneksie met die grafte nie, maar het almal maar gaan afneem ingeval dit vir iemand van waarde mag wees. Die name is as volg: 

·                     Mattheeuwis Hendrikus Wessels. 11 Julie 1799—10 Mei 1857 naby Winburg.

·                     Gertruida Jacomina (Jacoba?) [onleesbaar verweer] Wessels. (?) Junie 1838(?)—11 Aug 1883.

·                     Johannes Wilhelmus Wessel Wessels. 1 Junie 1818—22 Oktober 1856.

·                     Theunis Cornelus Wessels. 2 November 1835—13 Nov 1891.

·                     Thunis Cornelus Wessels. 29 Jul 1887—22 Augustus 1888. [Kindergraffie]

·                    Cecilia Johanna Wessels. 6 Februarie 1819—20 Augustus 1855. 

Wat opvallend is van hierdie grafte, is eerstens die ongewone spelling van die name, en tweedens die feit dat ‘n ster op omtrent die helfte van die grafstene uitgekerf is. Dit lyk baie soos ‘n Ster van Dawid. Mens wonder nou of die familie dalk ‘n prominente ster in hulle familiewapen kon gehad het, en of daar ‘n ander simboliese betekenis kon wees? 

Figuur 11. Die geboortehuis van President MT Steyn, net buite Winburg.

Laastens moet ek sê dat dit van die hoofpad af lyk of die voortrekkermonument ongemaklik naby die dorp se groeiende plakkerskamp is. Gelukkig is daar nog genoeg afstand tussen die twee en dit lyk of dit nog heel veilig behoort te wees om hier aan te doen. ‘n Besoek hier van nie baie tyd nie en is beslis iets om aan te beveel vir ‘n reisiger wat lus het om ‘n halfuur lank bene te rek. Wat miskien meer avontuurvol mag wees, is om ‘n besoek aan Winburg se begraafplaas te bring. Die begraafplaas is half omsingel deur ‘n laekostebehuisingskema. Dit lyk nie vir my of ‘n mens sommer sonde goeie rede daar behoort te gaan rondsnuffel nie. Wees dus maar versigtig. 

Daarmee was my reis na die Oos-Kaap ook tot ‘n einde. Onthou net die spietkops wat oral langs die N1 naby Winburg sit by daardie geel konstruksie-zone spoed-borde. Hulle vang met kamera’s in die 60, 80 en 100km/h sones en hulle sit sommer so 1, 2 kilometer uitmekaar uit. As ek Freek Bezhuidenhoudt was, sou ek elkeen miskien net daar bygeloop en met ‘n kareetak die loesing van hulle lewens gegee het. Pleks dat hulle die roekelose minibusse in Bloemfontein loop vang wat hulle aan geen wet of reël steur nie, eerder as om toeriste te probeer vang wat geen veiligheidsgevaar kan inhou teen billike spoed nie. In elk geval, ek het dit nie gedoen nie, want ek voel ek is nog te jonk om soos Freek Bezhuidenhoudt in ‘n laaste stand van glorie te moet sterf. Ons sal maar sien of daar later ‘n foto en ‘n spoedkaartjie in die pos aankom. 

Al wat ek kan sê is dat ek seker maar ‘n goeie streep van ou Hendrik Potgieter se bloed in my het. As ek die verval moet sien van wat eers ‘n baie goeie platteland infrastruktuur was, en die minagting wat daar vandag vir reg en geregtigheid bestaan, sou ek maklik weer my wa pak en verder trek. Ongelukkig is daar nou nêrens meer om heen te gaan nie. Afrika het bitterlik beknop geword. Al vry wêreld wat oorbly is Antarktika, en ek weet nie of ek nou al reg is om van sneeu en pikkewyneiers te moet leef nie. Miskien later, maar nog nie nou al nie.  ;-) 

Ek het heelwat foto’s geneem. As iemand dalk ‘n bepaalde foto oor iets wil bekom mag ek dit dalk net hê. Voel vry om enige tyd navraag te doen. 

Beste groete,
Herman Labuschagne
Johannesburg, November 2003
mellivora@hotmail.com 

Contact: mellivora@hotmail.com 
Copyright 2004, H Labuschagne. All rights reserved. No part of this material may be used for commercial gain. 

Data on this site is managed using Legacy genealogical software.  

Legacy 5.0 is a full-featured professional genealogy program that helps you track, organize, print, and share your family history. Includes source documentation, dozens of beautiful reports, expert merging capabilities, To Do list, pictures, videos, Web page creation, spell checking, Internet searching, relationship calculation, name tag printing and more. The program imports and exports standard GEDCOM files as well as directly reads PAF files. 

Hit Counter