|
|
|
|
Dedicated to the Preservation of History |
|
Burgers Ward II Piet Retief District
|
Reisverslag:
Besoek aan die Oos-Kaap Winburg
Voortrekkermuseum; Somerset-Oos; Baviaansriviervallei; Tarkastad; Cradock;
Bathurst; Port Elizabeth Oktober
2003 Die onderliggende verslag is destyds met die GenForum genealogie gesprekslys gedeel en word netso weergegee: GenFormers, Soos
beloof, hiermee ‘n klein reisverslag omtrent my besoek aan Somerset-Oos, so
drie weke gelede. My
safari op die voetpaaie van die verlede was ongelukkig so bietjie verkort deur
werksverpligtinge, maar ek het nogtans minstens een doelwit gehad op my reis: ek
wou graag sien of ek Freek Bezhuidenhoudt van Slagtersnek-faam se buurplaas kon
vind. Hoewel ek nie kon uitvind wat die plaas se naam was nie, weet ek darem dat
dit is waar my tak Labuschagnes gewoon het tydens die Slagtersnek gebeure, en
die jare net voor die Groot Trek. Met die
hulp van vriendelike GenFormers het ek met ‘n klein bietjie van ‘n ompad by
‘n baie behulpsame persoon uitgekom wat vir my as gids sou dien. Ek was baie
dank verskuldig aan Gideon de Klerk, ‘n boer woonagtig langs die
Cradock-Cookhouse pad, wat bereid was om my te gaan rondwys in die omgewing.
Gideon se pa was vroeër bekend as ‘n redelike kenner van plaaslike
geskiedenis. Wat baie interessant is, is die feit dat Gideon se pa in 1930 begin
dagboek hou het, en nooit ‘n enkele dag gemis het nie. Na sy sterwe het Gideon
die gebruik voortgesit, sodat hulle nou ‘n onafgebroke daaglikse rekord het
van gebeur in en om die omgewing, wat oor ‘n goeie 74 jaar strek. Ook reënval
rekords. Die De Klerk familie woon ook al sedert 1871 nog op dieselfde plaas.
Om met
Gideon te kon gesels oor sy familiegeskiedenis en die interessante lewe wat hy
en sy pa gehad het, was opsigself ‘n belewenis. Alhoewel ek nie eintlik De
Klerk konneksies in my familie het nie, was dit vir my aangrypend dat ons binne
15 minuute gevoel het of ons nog al die jare buure kon gewees het. Dit is asof
die skeiding van meer as 160 jaar byna nie getel het nie, want ons praat nog
steeds dieselfde taal, het dieselfde waardes en norme, dieselfde gewoontes, en
min of meer dieselfde uitkyk op die lewe. Wat ook interessant is, is die feit
dat dit wil voorkom asof die boere in die omgewing tot ‘n mate ook maar weer
sit met die tipe probleme wat ons voorvaders in die vroeë 1800’s gehad
het—tewete ‘n ekonomiese en politieke klimaat wat vir boere maar redelik
onvriendelik is. Gideon
was so vriendelik om my persoonlik na die plek van die Slagtersnek teregstelling
te neem sodat ek kan foto’s neem. Die monumentjie is baie naby aan Cookhouse,
maar daar is groot padwerke en die plek is nou so onopvallend dat mens die
afdraai byna nie sal raaksien tensy jy weet om daarvoor te soek nie. Ek mag dalk
noem, vir die rekord, dat mens moet onthou dat die plek van teregstelling
stengesproke nie eintlik die ware “Slagtersnek” was nie. Heelwat mense besef
dit nie eintlik nie. Slagtersnek is ‘n hele klompie kilometer hoër op in die
Visriviervallei. Dit is waar die handelaars van die kus-omgewing gewoonlik die
plaaslike boere kom ontmoet het om slagveë van hulle aan te koop. Hoekom die
spesefieke terrein vir die teregstelling gekies was, weet ek nie eintlik nie.
Dit is maar bloot ‘n oop stuk aarde met ‘n goeie uitkyk oor ‘n draai van
die Visrivier, en ‘n ou plaas wat in daardie dae as “Van Aardspos” bekend
gestaan het.
Slagtersnek monument naby Cookhouse. In die agtergrond kan geboue by Van
Aardspos gesien word, in 'n bog van die Visrivier. Dit is hier waar die rebelled
publiek opgehang is deur die Britse owerhede. Gideon
het my hier vertel hoe die tereggesteldes moes bymekaarkom vir die voltrekking
van vonnis. Theunis de Klerk, wat aan Gideon se familie verwant was, se seuntjie
het nogal vooruit getreë om sy pa vir die laaste keer te groet. Toe word die
sein gegee, en die veroordeeldes word laat val, net om die grond te tref toe die
toue breek. Desnieteenstaande die antieke ongeskrewe regs-beginsel wat bepaal
dat ‘n gebreekte tou as ‘n teken van onskuld beskou word, is nuwe toue egter
laat. Sonder verdere seremonie is die arme manne nogmaals weereens
opgehang—hierdie keer vir die laaste maal. Dit is
interessant as mens daaraan dink dat die breek van hierdie toue so ‘n
dramatise draaipunt in ons geskiedenis kon veroorsaak het. Was dit nie daarvoor
nie, kon die gebeure by Slagtersnek moontlik maklik in die geskiedenis vervaag
het as bloot nog ‘n voorval waar ‘n korstondige rebellie betyds ontlont is.
Die ophang na die breek van die toue, was egter in baie opsigte ‘n tipe
katalis—‘n soort vonk wat ‘n kruitvat van baie ander ongelukkighede aan
die brand gesteek het. Soos baie historiese wendings het die volksverhuising wat
later plaasgevind het waarskynlik gekom as die sameloop van baie verskillende
gebeurtenisse, maar wat my persoonlik aanbetref was Slagtersnek die simboliese
plek waar die brug van potensiële versoening finaal verbrand is. By die
monument is daar vir my ‘n misterie opgelos waaroor ek al jare gewonder het.
Gideon vertel my dat die balk waaraan die veroordeeldes opgehang was,
uiteindelik in een van die geboue op Van Aardspos ingebou was. Ek het wel geweet
dat die balk na bewering in 1896 laat haal is met die doel om die rebelle van
die Jameson inval daaraan op te hang, maar ek het nog nooit kon uitvind wat toe
van die balk geword het nie. Al wat ek geweet het was dat die balk op die ou end
in die naam van versoening, nooit vir die beplande doel gebruik was nie. Gideon
kon toe aan my vertel dat die balk op die ou end iewers in ‘n pakkamer in
Kaapstad opgeespoor is. Daar word blykbaar nou onderhandel om die balk hopelik
te kan terugkry om in die Somerset-Oos Museum te bewaar.
Inskripsie op Slagtersnek monument Vervolgens
het ons die kronkelende paadjie wat langs die Baviaansrivier na Glen Lynden lei,
gaan opsoek. Hierdie was die vallei waar so baie van ons gemeenskaplike
voorouers gewoon en gewerk het. Dit was baie anders as wat ek my voorgestel het.
Ek het welliswaar die vallei gesien ten tye van een van die swaarste droogtes in
jare, maar ek kon myself nogtans beswaarlik indink hoekom die trekboere juis
hier wou kom woon het. Dit wou tog voorkom asof daar veel meer
landbou-vriendelike gebiede sou gewees het om van te kies. Tog moet mens seker
onthou dat die streek al reeds van vroeë tye af trekboere moes onderhou en met
hulle groot troppe en baie kinders moes die boere groot plase hê. Die
uitsoek-grond langs die Visrivier was sekerlik gou afgebaken, en die laatkommers
moes seker maar die berge invaar om ‘n heenkome te vind. Die berge rondom die
Baviaansvallei sou egter natuurlik ook darem ‘n mate van skuiling bied, sowel
as ‘n bietjie hoër reënval van plek-tot-plek. Dit alles moet faktore gewees
het wat die rustelose pioniersharte bly aantrek het. Soos
mens die vallei dieper invaar, word mens geleidelik al hoe dieper omvou deur
‘n gevoel van totale vreedsaamheid wat gebore is uit die stille afsondering en
natuurskoon van die ou klip-hange. Na die stormagtige jare wat sommige boere
onder Britse administrasie ondervind het, moes die vallei moontlik so bietjie
soos ‘n Bybelse Petra gevoel het—‘n veilige hawe waar die Engelse hulle
nie maklik sou kom pla nie. Ongelukkig het dit natuurlik spoedig geblyk dat
hierdie gevoel eintlik ‘n valse gerusstelling was, want veediefstal en
burokrasie het soos ‘n slegte spook kort op hulle hakke bly volg, maak nie
saak hoe ver hulle getrek het nie. Naby
die begin van die Baviaansvallei maak die pad ‘n skerp draai tussen lieflike
kranse deur, beskilder met antieke swart vlekke, en behang met gordyne van
spekboom wat ‘n sukkel-bestaan teen die droogte voer. In hierdie ellemboog
staan ‘n vreedsame klein roubaksteen huisie, wat voor die Groot Trek glo die
woonplek was van Groot Willem Prinsloo. Hier, volgens Gideon, het die Skotse
settlaars gestop om kennis te maak met die boere met wie hulle die vallei vir
baie, baie jare sou deel. Hier ook, het Willem Prinsloo die moë reisigers
verwelkom met lemoene, pampoene en ander ander voedsel uit sy landerye. Die ou
huisie blyk nog relatief goed bewaar te wees.
Die huisie van Groot Willem Prinsloo met die Baviaansrivier wat tussen die huis
en die pad verby vloei. Hier het Groot Willem die Skotse Setlaars verwelkom met
groente en lemoene uit sy landerye. Van
hier af kronkel die pad male sonder tal heen en weer oor die rivier. Die vallei
herinner nogal baie aan die Ohrigstad vallei naby Lydenburg in die ou Transvaal.
Die veld het vir my redelik oorbewei voorgekom, maar ek is nie ‘n kenner van
Karoo-veld nie, en Gideon het my verseker dat dit eintlik nie in so ‘n slegte
toestand is nie. Wat wel seker is, is dat die moderne boere daar, ook maar
stadigaan begin agteruit boer. Die Baviaansrivier is vandag slegs ‘n small
sand-stroompie, en meeste van die ou landerye staan in onbruik. Die pragtige
Kaaps-Hollandse herehuis wat ‘n tak van die Pringle familie gebou het, lyk
half-verwaarloos, en mens moet verbeelding gebruik om vir jouself die swierige
partytjies voor te stel wat een op ‘n tyd glo daar gehou was. Met die verby ry
kon ek nie help om te dink aan ‘n reëltjie uit ‘n ou Anton Goosen liedjie:
“Flink draf die slawe om almal te verwelkom…” Ek moes glimlag, want mens
kan dit vandag nog maklik voorstel—die geknars van spaaider wiele op die
gruis, gewillige hande om wit-gepoeierde dames met kan-handskoene en kalfsleer
skoene uit die rytuie te help. Manne met tartans, lang wit kouse, en breë
Skotse aksente in skelle kontras met die Afrika-verbrande bruin pioniersvelle. Nie ver
na die ou Pringle herehuis nie, loop die Seekoeirivier min of meer na die
noorde. Dit is hier iewers, waar ek vermoed, die plaas van ou Frans Labuschagne
kon gewees het. Ongelukkig weet niemand daar van ‘n plek met die naam
“Zeekoegat,” wat moontlik die oorspronklike woonplek sou gewees het nie. Die
rooi en wit rigtingwysers op ‘n paal lees soos ‘n kosmopolitaanse spyskaart:
“HK van Dillen—Ven Grove, 19km. CH Moolman—Belmont, 13 km. WD
Pringle—Fair Holt, 5km.”
‘n
Entjie verder is Freek Bezhuidenhoudt se ou plaas. Freek se graf is nog
afgekamp, maar die hek wat daarheen lei word byna heeltemal versper deur opslag
doringboompies. Mens sal dit waarskynlik mis as jy nie weet waarna om te kyk
nie. Naby die graf moes sy ou opstal gewees het, maar presies waar weet niemand
nie. Daar is vandag nie eers meer ‘n teken van ‘n kraal, ‘n ashoop of ‘n
fondasie nie. Dit is asof selfs die tyd saamgesweer het om alle rekord van
hierdie moeilike en eiesinnige man te probeer uitwis. Die graf van Freek Bezhuidenhoudt. Volgens Gideon de Klerk is die gevoel dat
Freek se oorspronklike postal min of meer in die omgewing van die graf moes
gewees het. Dat
Freek Bezhuidenhoudt waarskynlik nie ‘n gesogde karakter was soos gemeet aan
algemeen aanvaarbare sosiale standaarde van die tyd nie, blyk relatief seker te
wees. Hy was duidelik nie ‘n man wat hom aan gesag of konvensie gesteur het
nie. Dit kan mens aflei aan die feit dat hy nie wettiglik getroud was nie, nie
sy kinders laat doop het nie, en uiteindelik heel gemaklik saam met ‘n
kleurling hou-vrou gewoon het. Nogtans, moet mens seker ook besef dat tye toe
anders was. So maklik as wat dit vandag is om Freek te kon wegmaak as ‘n
onnosele rebel met ‘n roekelose hart en ‘n dwase verstand, kan mens hom
seker ook uitbeeld as ‘n selfstandige Boere-cowboy wat nog altyd net homself
gehad het om op te vertrou, en wat sy plekkie in die wêreld met kaalhand en
snaphaan alleen moes oopveg. Waarskynlik was hubare vrouens skaars, en van die
wat daar was, sou baie waarskynlik nie in die eensame afsondering van die berge
wou gaan woon het nie. Miskien was ou Freek en sy baster familie heel gelukkig.
Dit is half moeilik om sy omstandighede voor te stel. Ten tye
van die Slagtersnek gebeure was my ou voorvader, Leendert Labuschagne, en ‘n
Erasmus seun werksaam by Bezhuidenhoudt. Die ou landerytjies is nog daar en mens
kan jou voorstel hoe die seuns waarskynlik die skape uit die lande moes hou, of
moes help ploeg of oes. Leenderd was die tweede jongste uit ‘n groot familie,
en dit mag wees dat daar kommer was oor hoe hy en sy jonger broer eendag ‘n
lewe sou moes maak, gegewe die feit dat grond al skaars moes gewees het. Min het
hulle geweet dat sy lewenspaadjie uiteindelik Transvaal-toe sou lei. Die dag
toe die gereg vir ou Freek uiteindelik na vele waarskuwings en dreigemente kom
haal het, het my voorvader Leendert en die Erasmus seun onverklaarbaar verdwyn.
Mens kan maar net raai dat hulle ouers, wat Freek se berugde humeur goed sou
geken het, lankal gewaarsku het dat hulle nie in sy driftige avontuure betrokke
moes raak nie. Sonie, het hulle miskien eenvoudig nie die hart gehad om op
jeugdige ouderdom ‘n goed-gewapende oormag goedsmoeds storm te loop vir ‘n
saak wat baie maklik vreedsaam geskik kon geword het nie. Natuurlik moes Freek
hom seker nie verset het nie, maar daar is altyd twee kante aan ‘n saak. Eers
nadat ek self daar was kon ek verstaan hoekom Freek geweier het om bloot op
aandrang van die outoriteite Graaff-Reinet toe te reis. Dit moes ‘n geweldige
reis gewees het in daardie dae. As Freek werklik gepla was deur rumatiek, soos
hy beweer het, kan mens begryp waarom hy geen lus gehad het om op ‘n tog wat
seker twee of drie weke sou geduur te moes gaan. Monument by die plek waar Freek Bezhuidenhoudt gesneuwel het. In die agtergrond
is landerye wat waarskynlik oorspronklik deur Freek en sy helpers self bewerk
was. Gideon
was jare lank baie betrokke by die Voortekker jeugbeweging en vertel hoe hulle
as kinders elke jaar die Slagtersnek gebeure daar gaan naboots het. Ten aanskoue
van al die ouers wat op Dingaansdag daar kom uitkamp het, het hy en sy maats dan
al skietende die rivier op gevlug langs dieselfde roete wat Feek en sy
baster-seun, Hans, sou geneem het. Gideon was gewoonlik Freek—die held in die
hele verhaal. Die pad van Freek Bezuidenhout se vlug het deur hierdie vallei geloop. Aan die linkerkant van die foto is 'n klein wit kolletjie wat nie ver van Freek se woonhuis sou gewees het nie. Die landerye aan die oorkant kon moontlik reeds deur Freek self bewerk gewees het. Die klipskeur waar Freek Bezuidenhout se lewe geïndig het kan uitgemaak word so entjie onderkant die hekkie regs voor in die foto. By die
klipskeur het almal dan met loskruit Martini-Henri’s geskiet (dit moes eintlik
pangewere gewees het), totdat Freek dan kastig deur ‘n klip of wegskrum-koeël
teen die kop getref was, en dood neergeslaan het. Die klipskeur waar Freek
geskuil het, is nogal interessant en dit lyk heeltemal anders as wat mens
jouself uit die geskiedenisboeke voorstel. Dit was nie ‘n watwonderse skuiling
nie en Freek moes geweet het hy stry ‘n hopelose stryd. Hy was egter duidelik
nie bang vir die dood nie, en het dit waarskynlik verkies bo die vernedering van
‘n geregtelike verhoor. By die klipskeur is ‘n klip monument opgerig wat
weereens, maar baie swak sigbaar is van die pad af. Die bordjie is lankal
verroes en verblyk sodat min mense dit seker sal raaksien.
Die klipskeur waarin Freek Bezhuidenhoudt homself verskans het tydens die geveg.
Van bo af kon klippe maklik in die kuiling afgegooi word, soos die foto aantoon. Op dieselfde pad kom mens uiteindelik by die veel-beroemde Glen Lynden kerk uit. Ek het nie geweet nie, maar daar is eintlik twee. Die ou oorspronklike een, soos gebou deur die Skotse setlaars, en die veel groter en meer indrukwekkende nuwe een. Dit is interessant hoe die geskiedenis maar telkens herhaal. Aanvanklik het die Skotte die kerk vir hulleself gebou, en toe die Boere uitgenooi om maar te kom deel aangesien hulle tot ‘n groot mate dieselfde uitkyk op basiese geloof gehad het. Later het hulle die kerk vir die Boere gegee toe hulle ‘n nuwe kerk op Bedford gaan bou het. Jare later is die kerk aan ‘n swart gemeente oorgedra, en toe die gemeente te klein gekrimp het, het die plaaslike boere dit terug ontvang en gerestoureer. Die plek word nog relatief goed onderhou, danksy die belangstelling van mense soos Gideon en andere.
Die ou, oorspronklike Glen Lynden kerkie. Die Afrikaanse inskripsie op ‘n
brons gedenkplaat teen die muur lees as volg: “OU GLEN LYNDEN-KERK. Deur die
invloed van Thomas Pringle het die regering heirdie kerk in 1828 gebou vir die
Skotse Setlaars en hul Hollandse bure. In 1899 het dit ‘n Nederduitse
Gereformeerde Kerk geword. Opgerig deur die Historiese Monumente-Kommissie.” Elke
jaar met Geloftedag word die ou traporrel nog op Bedford gaan haal, en dan hou
die volk weer ‘n diens in die ou kerk, maar behalwe dit staan alles maar leeg.
Die ou pastorie wat op sy dag ‘n mooi groot huis moes gewees het is nou ‘n
murasie. Die ou De Klerk nagmaalhuis is die enigste een wat nog staan. Die
Baviaansrivier, waar ‘n Engelssprekende seuntjie volgens een van die grafstene
aldaar verdrink het, vloei amper nie meer nie. Net die strepe teen die kranse
langs die rivier vertel nog hoe ons voorvaders, en ook Gideon en sy maats toe
hulle klein was, op aalwynblare die styltes afgegly het. Na die tyd was die
broeke en knieë natuurlik stukkend en as die oumense van nagmaal af teruggekom
het, dan was daar slae uitgedeel en spoeg aangesmeer. Vandag nog sit daar sulke
lang, vaal strepe teen die skuins kranse af—die glimlag-wekkende getuienis van
meer as twee honderde jaar se kinderpret. Die "nuwe" Glen Lynden kerk, na onlangse restaurasie. Die
graf van die seuntjie wat verdrink het, lê tussen die Glen Lyden kerke en die
Baviaansrivier, vlak langs die grondpad. Dit is ‘n klein ommuurde familie
kerkhoffie wat effens verwaarloos is. Die grafstene is egter mooi leesbaar en ek
het van elkeen ‘n foto geneem. Mens kan maar net wonder watse storie agter
hiedie familie se name skuil. Die inskripsies is as volg: ·
In
Affectionate rememberance of Alexander Mitchell Webber eldest of John &
Hendrietta Webber who died at Glen Lynden 16th of Novermber 187(?)
aged 13 months & 4 (?). [Nog ‘n ekstra lyn op die grafsteen ontbreek.
Inskripsie was obskuur deur dooie plantegroei.] ·
In
loving memory of Millicent Ann Webber beloved wife of B.M. Webber who died in
her 57th year at Avondale 8th June 1902. ·
In
loving memory of Benjamin Mitchell Webber beloved husband of M.A. Webber, who
died in his 47th year at Glen Lynden 2nd April 1893. ·
In
loving remembrance of William Nash son of B.M & M.A. Webber who was drowned
while bathing at Glen Lynden Tuesday 20th January 1880 aged 10 years
and 3 months. He loved Jesus. [Hierdie graffie is versier met ou seeskulpe]. Volgens
Gideon is twee van die Skotse predikante van Glen Lynden, binne die kerk self
begrawe, maar ek weet nie wat hulle name was nie. Hier,
in hierdie stil, ver-verlete, maar pragtige vallei, moes baie gelukkige uure oor
baie geslagte deurgebring gewees het. Dit is jammer dat alles vandag, na soveel
jare van lief en leed, weer deur die stilte van die berge en die eensaamheid van
geskiedenis wat besig is om toegewaai te word onder die sand van tyd,
teruggeneem word. En tog, miskien is dit paslik. ‘n Waardige uur in die
geskiedenis van ons voorvaders se plek van herkoms. Moontlik die laaste uur,
want wie nog na Glen Lynden sal omsien na hierdie geslag verby is, kan ons maar
net raai. Met die treurige plattelandse verval wat oral te sien is, mag Glen
Lynden eendag dalk net ‘n reeks ou, toegegroeide fondasies langs ‘n pad vol
slaggate wees. ‘n Pad wat vandag nie eers meer behoorlik op landskaarte
aangedui word nie. So maak die tyd maar met die werke van mensehande. Die pad
wat deur die Baviaansvallei kronkel loop van hier af soos ‘n stowwerige slang
oor die droë, skurwe berge tot waar die Pringles se nasate vandag nog woon.
Hier was ek al vantevore, en dit is ‘n pragtige gebied wat my baie geval. Meer
suurveld, beter reënval, en duidelik ook heelwat kouer in die winter.
Uiteindelik—na baie verlate kilometers waar mens beslis nie wil hê jou motor
moet breek nie, kom die pad weer by Tarkastad uit. By
Tarkastad het ‘n hele klomp van my Labuschagne familie gewoon. Een van die
groot familienedersettings was op Bezuidenhoutskraalmond, ‘n plaas wat net-net
noord-oos van die dorp geleë was. Ek het daar verby gery, maar kon nie so ‘n
plaasnaam sien nie. Dit was al laat en die inligtingsentrum op Tarkastad was al
toe, so ek kon ongelukkig nie verdere inligting bekom nie. Ook
Honingrivierkrans, nog ‘n Labuschagne plaas, het my ontglip. Tarkastad se
weiding is heelwat anders en dit lyk of dit goeie bees-wêreld moes gewees het
in dae van ouds. Daar is heelwat meer gras, en in Voortrekkertye mag dit dalk
wees dat gras meer dominant was as Karoo bossies. Soos dit vandag is, ly die
gebied onder droogte en grootstkaalse oppervlakte erosie. Dit is seker maar die
gevolg van jare se boerdery sonder ‘n kampstelsel, en na dit, waarskynlik
jarelange oorbeweiding tydens tye van droogte. Figuur 9.
Tarkastad in die laat-middag. As
mens van Tarkastad af terug Cradock toe ry, kom mens agter dat die berge rondom
die Baviaansvallei basies soos ‘n onherbergsame swart eiland in die verte lê—‘n
soort misterieuse landmerk wat sy inwoners verwelkom het, en ‘n waarskuwende
vinger vir vreemdelinge sou gewys het. Van Queenstown, verby Tarkastad, links af
by Cradock, en al die pad verby Cookhouse, weer links na Bedfort en Adelaide
loop die pad. Dit omsingel as’t ware die dreigende donker kol berge en klowe
waar die Trekkers van ouds gewoon en geleef het. Ongelukkig sou niks die aanslag
van politieke geweld, roofsug en tyd kon weerstaan nie, hoe veilig die berge
rondom die Baviaansrivier ookal voorgekom het. Die
besoek aan die Baviaansriviergebied was in baie opsigte werklik merkwaardig en
oor en oor die moeite werd. Vir een ding, het ek baie geniet om Gideon de Klerk
en sy aangename familie te ontmoet. Hy het ‘n ou stamboom van De Klerks, en is
altyd gereed om in sy ou geskiedenisboeke of die talle geskiedkundige geskrifte
wat sy pa nagelaat het, te gaan soek na antwoorde op vrae. Gideon is ‘n boer
van die ou skool, maar nogtans ‘n man met ‘n moderne visie en ‘n
self-denkende geaardheid. Die tipe mens wat ons pa’s en oupa’s eens op ‘n
tyd was. Dit sal ‘n treurige dag wees as daar eendag nie meer sulke hartlike,
gasvrye ou Afrikaners sal wees nie. Op die
dorpie Somerset-Oos het ek oornag in ‘n gastehuis van ‘n
buitengewoon-vriendelike tandarts, Dr. Archer. Met Archer, kan mens sit en
gesels oor skilder-kuns, fotografie, en tuinmaak tot die hane kraai en dit het
ek wel ook gedoen. Ek sal nie huiwer om enigiemand aan te raai om van die Archer
gastehuis se akkommodasie gebruik te maak nie. Archer het, interessant-genoeg,
in sy tuin ou kaktusse wat al by die 40, 50 jaar oud is en wat hy van klein
plantjies af versorg het. Ek het nog nooit sulke enorme kaktusse gesien nie.
Party van hulle is so groot soos ou brandewynvate. Diegene wat van plante hou,
sal Dr. Archer se geselskap bepaald baie geniet. Tussen al die gebraat deur oor Cotolydons
en Mesymbrianthenums gaan tyd egter vinnig om en mens moet jouself
behoorlik wegsleur uit Somerset-Oos uit. Ek kon ongelukkig nie tyd inruim om die
museum, Walter Battis kunsgallerei, en ander historiese landmerke te gaan besoek
nie. Van die
Baviaansvallei en omstreke, is ek af Port Alfred toe waar ek meer tyd gaan
bestee het aan my ou 1820 Britse voorvaders wat vandag nog ‘n die dorpie
Bathurst lê en rus. Daarvan sal ek nie nou veel vertel nie, aangesien meeste
GenFormers waarskynlik nie ‘n besonderse groot belangstelling by die
Setlaarsgeskiedenis het nie. Wat ek wel mag noem is dat Bathurst ‘n paar
interessanthede het wat die moeite werd is om te besoek. Vir diegene wat dink
dat die oumense nie ook oud geword het nie—gaan kyk maar in die plaaslike
begraafplase. Daar lê een of twee ou tannies wat lag-lag ‘n 100 jaar of meer
oud geword het. Mens moet ook maar moeite doen om genoeg tyd heir te spandeer,
want die plaaslike mense is vriendelik en as hulle eers begin gesels kom jy nie
weg nie. Daar is
‘n ou boekwinkel (agter in iemand se tuin, langs die grootpad) wat ‘n groot
versameling Africana het, en waar ek onbeheerst gaan kwaad doen het. Ook ‘n
antieke/snuistery winkel me tdie naam “Pennyfarthing”, waar ‘n ou koper
lamp so hard met ope arms gestaan en soebat het dat ek hom moet huis-toe vat,
dat ek maar moes ingee. Onthou om hier fudge te koop. Vra vir “Mud Pies.” Ek
hou van fudge en het al goeie fudge geniet, maar hierdie fudge is in ‘n klas
van sy eie. Dis iets soos R6 ‘n pakkie, maar dis die moeite werd. By die
ingang van die dorp is ook ‘n ou landboumuseum wat ‘n redelike goeie
versameling ou landbou implimente en masjienerie het. Weereens, maak maar reg
vir groot gesels, want die kurators is vriendelik en baie gretig om enige
belangstellende alles te gaan wys en alles te verduidelik. By die
dorp se toposkoop het ek heiligskending gepleeg deur vroeg vroeg die oggend
bo-op die klip pilaar te klim om 360 grade panorama foto’s te neem. Gelukkig
het niemand my gesien nie, behalwe een vrou wat uitgeklim het, baie vinnig
rondgekyk het, en toe laat spat het asof sy baie haastig was of groot geskrik
het. Daar is een pertinente voordeel daaraan verbonde as mens vroeg by die
toposkoop kan opdaag—mens spring op die manier die hordes bedelaartjies vry
wat gewoonlik uit die bosse genael kom sodra ‘n motor opdaag. Dan moet jy net
keer of jy verloor alles van jou brille tot jou valstande, tensy jy ‘n
afkoopsom van kleingeld of toebroodjies betaal. Wees gewaarsku. Ek sien darem
iemand het die koper plate wat deur booswigte gesteel was, weer vervang. Die
toposkoop, vir die wat nie weet nie, is gebou op die terrein van ‘n ou Britse
militêre kamp. Van hier af is die Britse setlaars se plase toegeken en aan
hulle uitgewys. Die plek het ‘n pragtige uitsig oor die omliggende gebied. Die ou
Pig & Whistle hotel in Bathurst is intussen ook bietjie opgegradeer.
Ongelukkig is baie van die ouwêreldse sjarme myns insiens daarmee verlore, maar
miskien moet ek maar eers oordeel wanneer die restaurasiewerk voltooi is. Ek was
vertel dat daar tydens die restaurasie ‘n onontdekte kelder onder die vloer
van die restaurant gevind is. Daar vind hulle toe ‘n baie, baie ou bottel
sjampanje. Ongelukkig was daar ‘n klein gaatjie in die kurkprop en die inhoud
het lankal uitgeloop. Dit is jammer. Ek het gehoor dat sjampanje wat baie oud
word, uiteindelik in iets taai soos sjerrie verander en wou nog altyd weet of
dit waar is. Die
aand toe ek by die Pig & Whistle hotel eet vra die kelnerin my wat ek wil hê.
Ek sê toe: “I’ll have what Lord Charles Somerset had the last time he was
here.” Sy kyk
my toe so half verslae aan en antwoord: “I’m sorry, I don’t know him.” Duidelik
weet nie almal in Bathurst ewe veel omtrent die dorp se geskiedenis nie. Die
kelnerin vra toe waar ek vandaan kom en ek antwoord dat ek van Johannesburg
kom—broeiplek van elke sonde wat in die Goeie Boek genoem word, plus nog ‘n
hele paar wat die mense vir hulleself gaan uitdink het. Sy sug toe en sê sy is
op Bathurst gebore, het daar skoolgegaan, was vir ‘n kort rukkie weg, en nou
is sy weer terug. Sy murmereer toe ewe mankoliek ‘n grafskrif vir haar
klaaglied: “And nothing EVER happens here!” Dit kon
ek sien, maar oor haar versugting na die liggies van die stad kon ek maar net
stilweg prewel: “Poppie, jy moet oppas waarvoor jy wens. Die Chinese het ‘n
gesegde wat sê: ‘Oppas waarvoor jy wens—want wense word soms wel
waar…’” Ewenwel,
die maaltyd van medium-gaar bestelde biefstuk wat toe baie gaar bedien
was, was aangenaam en die nagrus was omtrent dieselfde, ten spyte van sterk wind
wat alles geskud het en takke van die bome afgeruk het. Onthou net om gebottelde
water saam te bring Bathurst-toe. Die plaaslike kraanwater lyk soos flou rooibos
tee en nie eers die inwoners wil dit drink nie. Eet ook maar vroeg, want na
8-uur in die aand verander Bathurst soos enige opregte plattelandse dorpie in
‘n spookdorp wat byna niks verskil van die tyd toe hy gevestig was nie, 184
jaar gelede. Van
hier af is ek Port Alfred en Port Elizabeth toe, waar ek agter ander dinge gaan
aan-snuffel het vir ‘n week. Port Elizabeth se hoof-museum is ‘n besoekie
werd, veral as mens hou van ou skeepskannonne en skeepsmodelle. Ek het met
mooipraat en beloftes uitdeel bietjie film in die museum gebrand, totdat ek deur
‘n totale vreemdelik gevra was om asseblief tog ook foto’s van hom te neem.
Wat die stomme mens in gedagte gehad het, weet ek nie, want hy sou mos nooit die
foto’s weer sien nie? Ek was beslus nie lus om foto’s van ‘n volslae
onbekende persoon te loop neem nie. Dis toe dat ek maar met ‘n paar
agterdogtige kyke oor die skouer weer weggesluip het terug Port Alfred toe. Die
museum het ‘n skeepsmodel van die “Weymouth”—‘n skip waarmee talle van
die bekende 1820 families gereis het. Van my voorvaders was op hierdie skip, en
ek was baie ingenome om ‘n paar foto’s van die model te kon neem, aangesien
‘n gawe persoon so ‘n klompie maande gelede die skip se logboek vir my gaan
afskryf het in Engeland. Met die
terugkom het ek weer langs die Visrivier opgery en gaan kyk of ek op my eie die
ou plaas Vanderlindeskraal kon vind. Die pad oor Slagtersnek is nogal ‘n
avontuur op ‘n paar plekke, maar dis heel gangbaar mits mens nie te
verbouereerd raak wanneer daar lateraan geen padtekens meer is nie. Die plaas
kon ek glad nie vind nie, so ek sal maar weer moet teruggaan as ek tyd het.
Gideon wou my soontoe vat, maar hy het ander verpligtinge gehad en ek wou hom
nie graag daarvan weerhou nie. Die res
was maar bloot ‘n reis van dorpie tot dorpie. Op Cradock kry mens welliswaar
nou niks te ete op ‘n Sondag nie, maar dit is regtig ‘n lieflike ou dorp.
Johan Pottas moet my maar vergewe as ek ek hieroor my bek rek, maar ek is al die
tyd wel ‘n plattelander in murg en been en heeltemal gewoond aan sulke dinge.
Mens verwag net dat daar met soveel toerbusse in die dorp, ideaalgewys nog ‘n
soort “Ouma se kombuis” sou wees wat afval, gebakte skaapkop, pofadders,
blindevinke, souskluitjies en soetpatats sou bedien. Maar dit was my die beskore
nie, en meeste moderne siele gril seker deesdae vir sulke kos. Die
enigste verdere voorval was tussen naby Steynsburg toe ek moes stop om sekerlik
die grootste bergskilpad wat ek in my lewe gesien het, uit die pad uit te
verwyder. Die ou kind van die berge het ewe verontwaardig vir my geblaas toe ek
hom wegdra sodat hy nie miskien die volgende motoris se hele verkoeler sou
wegslaan nie. Ook sodat die kar wat hom tref, nie dalk die taamlike diep
afgronde langs die pad sou intuimel nie. Dis toe dat ek agterkom my kar het
iewers met die slaggate se tref, ‘n brandstoflekkasie ontwikkel. Van toe af
was dit ‘n gejaag om by ‘n brandstofpomp te kom voordat die tenk leeg was.
Al hoe vinniger en vinniger. Tot my ontsteltenis moes ek vind dat Steynsburg nie
meer brandstofpompe het nie. Ek is eers later die storie vertel van hoekom die
plek nie meer het nie. Tragiese verhaal vir ‘n ander dag, daardie ene. Op
Bethulie kon ek darem met weer die tenk aanvul en gerieflik verder ry tot op
Bloemfontein. Die volgende dag het die agenstkap in Bloemfontein so pateties
onwillig gereageer, dat ek maar self die lekkasie moes lap en verder aansukkel.
Gelukkig kon vriendelike werktuigkundiges in Welkom vir my die probleem sommer
vinnig en gratis herstel. As mens die enigste agentskap is wat ‘n ganse stad
bedien is die versoeking seker maar altyd daar om diens-standaarde tot ver
benede die aanvaarbare norme te laat sak. Dis jammer. Benewens dit was ou
Bloemfontein nog altyd vir my ‘n buitengewone aangename en vriendelike stad
waaraan ek net die beste herinneringe dra. Die stad brei geweldig uit en
heelparty ou landmerke is eenvoudig nie meer daar nie. By
Winburg het ek gestop by die ou Voortrekker bymekaarkom monument waar baie van
ons voorvaders op ‘n tyd staanplek gemaak het. My eie voorvaders het byna
almal vir ‘n tyd lank by Winburg gaan uitspan om voorrade aan te vul, seile te
stop, nawe te ghries, vellings te kort, en alles te doen wat gedoen behoort te
word voor mens die volgende been van ‘n lang reis na die onbekende binneland
verder sou aanpak. Mens kan jouself maklik voorstel hoe dit moes gelyk het in
dae van ouds met dosyne waens wat oral uitgespan gestaan het, en duisende stuks
beeste, skape en perde wat die hele vallei volg gewei het. Hier moes saens
musiek gemaak gewees het, en tot laat in die nag bespiegel geword het oor ‘n
pyp en ‘n beker koffie oor wat die toekoms mag inhou. Ek is seker op ‘n
helder maanlig-aand, as mens mooi luister, sal jy dalk nog ‘n paar vrolike
note van ‘n konsertina en boereviool kon hoor… Die
museum self is tipies van die jare 60 se verbeeldinglose argitektuur, maar die
monument bly darem ‘n interessante landmerk om te besoek. Hoewel dit duidelik
verwaarloos is, is daar in die aanliggende museum nog lewe, al is dit maar
net-net. Meeste van die uitstallings is verwyder. Of dit deur iets nuuts vervang
gaan word, weet ek nie. Omtrent al wat nuut is, is ‘n klein, on-inspirerende
uitstalling wat iets te vertel het oor die geskiedenis van Winnie Mandela. ‘n
Makabere aanvulling tot Voortrekkergeskiedenis, voorwaar, maar nogtans
onweerlegbaar deel van Winburg se stadig-bewegende geskiedenis. Figuur 10.
Die Voortrekkermonument buite Winburg. Elke vleul bevat die naam van ‘n aparte
trekleier. In hierdie geval, Andries Hendrik Potgieter. Wat die
stop egter die moeite werd gemaak het, was die feit dat ou President Steyn se
geboortehuisie nog daar staan. ‘n Regte ou hartbeeshuisie met misvloere,
riet-plafon en dik klipmuure. Met die aankom kon ek nie help om te dink: “Ag,
hoe elendig om in so ‘n wind-verwaaide, misrabele ou plekke te moes leef
nie.” Tog, as mens die huisie binnekom, val dit jou onmiddelik op dat die
atmosfeer buitengewoon vriendelik is. Die meubels is keurig en van goeie
kwaliteit stinkhout. Alles dui op wat ‘n baie gelukkige pionierslewe moes
gewees het. Van luukshede was daar geen sprake nie, maar ek kon sien dat ‘n
mens op so ‘n plekkie kon woon soos ‘n onafhanklike pioniersgees bedoel was
om te leef: vry en gelukkig, onaangetas deur die gejaag van
tyd, en ongeraak deur die konstante aanhitsing van eksotiese drome en hoë
ideale. Dit is ‘n plek waar mens kon kinders grootmaak. ‘n Waardige plek vir
‘n president om gebore te word. Dit is geen wonder dat President Steyn sy lewe
lank ‘n nederige en buitengewoon ordentlike heer gebly het nie. Die hele plek
getuig van karakter. As mens
deur Bloemfontein ry is dit die moeite werd om die ou presidensie reg oorkant
die magistraatskantore te gaan besoek. Die kontras tussen die twee wonings is
baie treffend aangesien die latere presidentswoning ‘n uiters stylvolle gebou
is, swierig ingerig en met interessante argitektuur. Iets
wat van meer direkte genealogiese waarde is, is ‘n klein begraafplaas so ‘n
150 meter van die ou presidentshuisie by Winburg. Ek het geen konneksie met die
grafte nie, maar het almal maar gaan afneem ingeval dit vir iemand van waarde
mag wees. Die name is as volg: ·
Mattheeuwis
Hendrikus Wessels. 11 Julie 1799—10 Mei 1857 naby Winburg. ·
Gertruida
Jacomina (Jacoba?) [onleesbaar verweer] Wessels. (?) Junie 1838(?)—11 Aug
1883. ·
Johannes
Wilhelmus Wessel Wessels. 1 Junie 1818—22 Oktober 1856. ·
Theunis
Cornelus Wessels. 2 November 1835—13 Nov 1891. ·
Thunis
Cornelus Wessels. 29 Jul 1887—22 Augustus 1888. [Kindergraffie] ·
Cecilia
Johanna Wessels. 6 Februarie 1819—20 Augustus 1855. Wat
opvallend is van hierdie grafte, is eerstens die ongewone spelling van die name,
en tweedens die feit dat ‘n ster op omtrent die helfte van die grafstene
uitgekerf is. Dit lyk baie soos ‘n Ster van Dawid. Mens wonder nou of die
familie dalk ‘n prominente ster in hulle familiewapen kon gehad het, en of
daar ‘n ander simboliese betekenis kon wees? Figuur 11.
Die geboortehuis van President MT Steyn, net buite Winburg. Laastens
moet ek sê dat dit van die hoofpad af lyk of die voortrekkermonument ongemaklik
naby die dorp se groeiende plakkerskamp is. Gelukkig is daar nog genoeg afstand
tussen die twee en dit lyk of dit nog heel veilig behoort te wees om hier aan te
doen. ‘n Besoek hier van nie baie tyd nie en is beslis iets om aan te beveel
vir ‘n reisiger wat lus het om ‘n halfuur lank bene te rek. Wat miskien meer
avontuurvol mag wees, is om ‘n besoek aan Winburg se begraafplaas te bring.
Die begraafplaas is half omsingel deur ‘n laekostebehuisingskema. Dit lyk nie
vir my of ‘n mens sommer sonde goeie rede daar behoort te gaan rondsnuffel
nie. Wees dus maar versigtig. Daarmee
was my reis na die Oos-Kaap ook tot ‘n einde. Onthou net die spietkops wat
oral langs die N1 naby Winburg sit by daardie geel konstruksie-zone spoed-borde.
Hulle vang met kamera’s in die 60, 80 en 100km/h sones en hulle sit sommer so
1, 2 kilometer uitmekaar uit. As ek Freek Bezhuidenhoudt was, sou ek elkeen
miskien net daar bygeloop en met ‘n kareetak die loesing van hulle lewens
gegee het. Pleks dat hulle die roekelose minibusse in Bloemfontein loop vang wat
hulle aan geen wet of reël steur nie, eerder as om toeriste te probeer vang wat
geen veiligheidsgevaar kan inhou teen billike spoed nie. In elk geval, ek het
dit nie gedoen nie, want ek voel ek is nog te jonk om soos Freek Bezhuidenhoudt
in ‘n laaste stand van glorie te moet sterf. Ons sal maar sien of daar later
‘n foto en ‘n spoedkaartjie in die pos aankom. Al wat
ek kan sê is dat ek seker maar ‘n goeie streep van ou Hendrik Potgieter se
bloed in my het. As ek die verval moet sien van wat eers ‘n baie goeie
platteland infrastruktuur was, en die minagting wat daar vandag vir reg en
geregtigheid bestaan, sou ek maklik weer my wa pak en verder trek. Ongelukkig is
daar nou nêrens meer om heen te gaan nie. Afrika het bitterlik beknop geword.
Al vry wêreld wat oorbly is Antarktika, en ek weet nie of ek nou al reg is om
van sneeu en pikkewyneiers te moet leef nie. Miskien later, maar nog nie nou al
nie. ;-) Ek het
heelwat foto’s geneem. As iemand dalk ‘n bepaalde foto oor iets wil bekom
mag ek dit dalk net hê. Voel vry om enige tyd navraag te doen. Beste
groete, |
|
Contact: mellivora@hotmail.com Data on this site is managed using Legacy genealogical software. Legacy 5.0 is a full-featured professional genealogy program that helps you track, organize, print, and share your family history. Includes source documentation, dozens of beautiful reports, expert merging capabilities, To Do list, pictures, videos, Web page creation, spell checking, Internet searching, relationship calculation, name tag printing and more. The program imports and exports standard GEDCOM files as well as directly reads PAF files.
|