|
|
|
|
Dedicated to the Preservation of History |
|
Burgers Ward II Piet Retief District
|
InhoudsopgaweReisjoernaal
Gehou Sedert Jare Gelede
Reisjoernale Gehou Sedert Jare GeledeSedert my
kinderjare het ek die gewoonte gehad om tydens vakansies dagboek te hou van my
wedervaringe. Oor die jare heen, het ek min of meer ‘n tipe dagboek lewendig
kon hou, wat by tye ‘n paar maande, of selfs ‘n jaar oorslaan. Maar een of
ander tyd tel ek altyd die pen weer op, en gaan daarmee voort. Eintlik was ek
‘n kompulsiewe nota-maker sedert ‘n baie jong ouderdom. Ek het nou nog bokse
vol sakboekies en notatjies en ou geskrifte wat waarskynlik teruggaan tot die
ouderdom van tien of so. Ek het nooit daaraan gedink tot vandag toe nie, maar my
oupa was netso. Langs die bokse wat my eie dagboeke en nota’s bevat, staan
‘n boks waarin sy talle notaboekies ook lê. Sy skrif, helaas feitlik
onleesbaar, tot my diep teleurstelling. Een daarvan is ‘n dagboek omtrent sy
jagtogte in ou Portugee-Oos Afrika. Hoe jammer tog, dat mens byna geen woord
daarvan kan ontsyfer nie… Somtyds lees
mens egter weer terug in jou eie joernale, briewe en nota’s en besef jy dat so
‘n dagboek-houery tog die moeite werd is. Dit is asof jy op hiedie manier weer
‘n tipe venster kan oopmaak, waarmee mens kan terugkyk in die verlede. Ek is
maar ‘n “sucker” vir die verlede, soos die kinders sê. Dis ‘n plek waar
ek baie van my tyd spandeer. My reisverslae is basies ‘n produk van my
dagboekhouery wanneer ek op reis gaan. Ander mense rook, vloek, vang vis of
verneuk met hulle belasting vir ‘n stokperdjie. Ek vang min vis, rook nie meer
nie en is nie genoeg van ‘n spesialis om suksesvol met belasting te knoei nie.
Maar ek doen tog ook iets vir ‘n tydverdryf. Behalwe ‘n reeks ander
stokperdjies, verdiep ek myself by voorkeur in die verlede. Dis ‘n snaakse
stokperdjie, maar dit kan darem seker nie so baie kwaad doen nie. Ten minste, ek
hoop nie so nie. Nie ‘n
Eindbestemming nie, Maar ‘n Reis
Daar word
somtyds deur die tandlose wyses van hierdie wêreld opgemerk dat die lewe nie
‘n bestemming is nie, maar ‘n reis. Wanneer mens jou geluk altyd in een of
ander eindbestemming probeer vind, vergeet mens al te maklik dat ware plesier
eintlik eerder langs die pad te vinde is as in een of ander eksotiese droom wat
agter die horizon van begeerte verskuil lê. Om drome na te jaag is dikwels soos
om te probeer naaldekokers vang. Meerendeels vang mens hulle nooit nie, en soms
as jy hulle wel uiteindelik gevang kry, is jy half teleurgesteld. Dis eers in
latere jare dat mens verstaan dat die groot vreugde van naaldekokers vang lê in
die avontuur van hardloop en jaag, en die gelag wanneer jy in die lang gras
neerslaan met ‘n geskeurde net, klitse in jou kouse, blare in jou hare en
grasvlekke op jou beste nuwe kerklangbroek. Met verloop van die jare leer mens
dat dit uiteindelik gaan oor die versameling van herinneringe—nie insekte nie. Vir diegene
wat hulle bemoei met genealogie en familiegeskiedenis, is dit gewoonlik so. Ons
jaag almal die droom van waarheid en kennis na. Ons jaag teen tyd. Die beweging
van ‘n horlosiehand wat soos ‘n valbyl elke sekonde wat stukkies van ons
lewens onherroeplik afkap en ons gereeld daaraan herinner dat dit net ‘n
kwessie van tyd is voor ons self ook ‘n blote inskrywing iewers op ‘n
stamboom sal word. En dat dit wat ons dán nog nie gedoen het nie, moontlik vir
ewig ongedaan sal bly. Só probeer baie van ons altyd dieper in die verlede in
delf op soek na die genealoog se droom: ‘n stamboom wat regdeur die gryse
verlede loop, sny soos ‘n Spaanse lem deur die grense van tyd en afstand, om
uit-eindelik op ‘n plek uit te kom wat meeste van seker nie sal herken as ons
dit vind nie. Gewoonlik
praat ons van die soeke na ons “wortels.” En hoekom dit in elk geval so
belangrik moet wees, kan niemand regtig verklaar nie. Ek wonder baie dikwels wat
die rede is dat die mens die enigste spesie is wat so behep is met sy
koorsagtige gesoek na wortels. Is dit miskien omdat ons hoop om in ons wortels
‘n verklaring te kan vind van wie ons werklik is? Of is dit moontlik omdat ons
hoop dat ons in ons wortels die antwoord sal vind op wat ons uit-eindelik eendag
gaan wórd? Ek glo graag dat
dit ‘n mengsel van beide is. Dat ons in die verlede, die spieëlbeeld van ons
toekoms sien, omdat die verlede altyd herhaal. Maar dit bly nogtans ‘n droom.
En na jare van soek en arbeid, kom mens altyd opnuut tot die gevolgtrekking dat
ons soeke nooit voltooi sal word in hierdie wêreld nie. Ver in die verlede lê
die droom van ons harte as genealoeë. Ons mag hierdie drome wel dalk nooit
bereik nie, maar van waar ons staan, kan ons hulle darem op ‘n afstand beskou.
So kan ons, in die woorde van Louisa May Alcott, “hulle skoonheid sien, so kan
ons in hulle glo, en so kan ons volg waar hulle ookal heen mag lei.” Vir ‘n
genealoog lê die pad na die droom van ontdekking vol begeerlike oomblikke. Die
wonder van nuwe ontdekkings, die skoonheid van oomblikke van waarheid, en die
fassinering van oomblikke van stille verwondering, wanneer mens skielik uitvind
dat die stukkies en brokkies wat oor jare versamel is, meteens saamsmet om ‘n
wonderlike geheelbeeld te vorm. Ek glo graag dag genealoë tyd-reisigers is.
Wetende dat ons nooit by ons bestemming sal uitkom nie, hou ons nogtans
entoesiasties by ons drome—want ons drome is ons padkaart. En langs die weg lê
ons plesier. En dit, hoe onverstaanbaar dit ookal vir buitestaanders mag klink,
is hoekom ons doen wat ons doen. Die Oos-Kaap as
Area van Belangstelling
Op die kaart
van die verlede, waarop die koers na my wortels lê, speel die Oos-Kaap ‘n
belangrike rol. Dit is hier waar my voorouers, en ook die van baie ander
Afrikaner families, ‘n belangrike herkoms gehad het. Iewers rondom die jaar
1754 het ‘n oer-oumagrootjie van my, Gesina Steenkamp, op haar plasie Pontac,
vlak buite die Paarl gesit. Om ‘n rede wat net ons Maker sal verstaan, was sy
meteens ‘n jong weduwee wat nou sewe kinders alleen moes beskerm en bewaar
teen die geweld van die lewe. ‘n Paar maande later trou haar dogter met Willem
Nel, ‘n burger van Swellendam. Van hier af, moes die moeder waarskynlik af en
toe gehoor het van ‘n pioniersland, wild en totaal anders as die Kaap met sy
mooi berge en rustige diep valleie, sy beskawing en orde. Tog, moes daar iets
gewees het wat die harte van mense getrek het, want enkele maande later trou die
moeder met Wuillem Nel se ouer neef, en verhuis ook na die destydse reusagtige
streek van Swellendam. Min sou die familie weet dat Gesina Steenkamp en haar
verwese familietjie nog hier baanbrekerspore sou trap in die toekoms van ‘n
volk wat nog maar besig was om gebore te word. Hier, langs
die Oosgrens, het die Labuschagnes geplant geraak. Saam met die avonturiers van
hulle tyd, het hulle ‘n vreemde wêreld begin tem, en plesier gevind in die
strewe om selfbeskikking in ‘n streek waar burokrasie en amptenary nie ‘n
meulsteen om die nek sou wees nie. Na die stil valleie van die Oos-grens het ek
nou al meer as een of twee jare teruggekeer om te peins, te dink, te bespiegel,
en te probeer om die patrone en gebeurtenisse van die verlede weer terug te verf
op die palet van die teesnwoordige tyd. “Waar het hulle gewoon? Wat het hulle
gedoen? Waar rus hulle moeë beendere vandag?” vra ek myself onophoudelik. Oor
welker vraaie uitsigte het hulle hulle oë laat wei, waaruit is hulle drome
gebore, en waar lê vandag die klei wat gevorm het onder die druppels van hul
trane? Dit is hierdie vrae, en nog baie ander, wat my telkens weer terugbring om
nogmaals te kom soek na spore in die verlede. Johannesburg na
Burgersdorp, via Bethulie
My vertrek uit
Johannesburg was laat in September. Droog en vaal op die hoëveld, maar met ‘n
vroeë lente wat reeds skaam-skaam begin glimlag het in die groen sprietjies wat
op die vars veldbrande begin dei. Hierdie jaar stop ek nie by Vegkop waar Gesina
Steenkamp se nakomelinge jare later aan die Slag van Vegkop sou deelneem nie. My
pad loop langs die moeggetrapte N1 snelweg, skuins verby Vegkop, en kruis die
Vaalrivier op ‘n plek waar ‘n groot geel bord ‘n nommer vertoon waarby
verkeers-korrupsie gerapporteer kan word. Ek glimlag, half spyt dat ek verby is
voordat ek ‘n foto kon neem. Begryp jou. Dieselfde korrupsie wat in Simon van
der Stel se tyd die burgers se gemoedsrus bederf het, blom na twee eeue nog soos
‘n giftige kaktus op die uiterste grens van Transvaal! Die motor dreun verby,
en van korrupte amptenary sien ek geen teken nie, maar ek weet hulle is daar.
Soos maba’s in die bos. Jy hoef hulle nie altyd te sien om te weet dat hulle
jou een of ander tyd gaan byt as jy nie baie versigtig is nie. By Kroonstad hou ek fyn dop, want daar kruip hulle mos agter klippe en bosse weg soos adders in die dorsland. Ek herinner my aan die holderstebolder gevlug van die Boere kommando’s toe die Britse militêre stoomroller die gesamentlike Boeremagte teen die draai van die 18de eeu bymekaargemaak en begin terugstoot het. Die desperate gekeer van klein groepies dapper helde, wat die agterhoede by Kroonstad gedek het, terwyl ons banger voorvaders met reusagtige stofkolomme dag vir dag oor die verre horisonne bly vlug het. Die koorsagtige oppak van die Vrystaatse regering uit sy tydelike setel in Kroonstad, voor Roberts se magte hulle kon vang. Skande en eer. My voormense was daar, en terwyl my oë oor die droë mielielande streel, sien ek hulle daar. Donderend in hul vlug, dreunend in hul verweer. Langs die treinspoor trek in my geestesoog ‘n groot sampioenwolk stadig die lug in, en ek weet die Boere het nog ‘n treinbrug die lug laat inspring. Ek glimlag. Iewers naby Brandfort sou my oupagrootjie wees, dink ek. Daar sou sy perd eendag tydens ‘n wilde vlugtog in ‘n gat trap en oupagrootjie soos ‘n vrot vel oor die veld laat rol. Wetende dat hy met sy swak sig vir die res van die oorlog buite aksie sou wees as sy bril gebreek het, storm sy broer en vriende op hom af. Onbesorgd oor sy veiligheid is die enigste ding wat hulle van hom wil weet, “Len, is jou bril nog heel?” Die gedagte is half snaaks, en ek dink aan hoe oupagrootjie van hier af elke dag verder gedryf was. Soveel so dat hy van staanplek tot staanplek met sy groepie se pot warm pap in die hand moes jaag. Waar hulle ookal stop, moes hy gou ‘n vuurtjie aanslaan om die pap verder te laat kook. En wanneer dit by skiet kom, het sy vriende met groot vermaak vertel, het oupagrootjie ‘n lepel pap geeët, ‘n skoot geskiet, weer ‘n leper pap gesluk, en reg gemaak vir sy volgende skoot. ‘n Pap-etende Mauser-skut met ‘n dodelike akkurate oog, ten spyte van die dik brille wat hy lewenslank moes dra. Hy het nog altyd ‘n sin vir humor gehad… My oupagrootjie, Leonardus Johannes Labuschagne, op jag in Portugees-Oos Afrika. Met sy dik bril en al was hy 'n buitengewone goeie skut. Dit was hy, wat as jong student op kommando pap kon eet en skiet op dieselfde tyd. Die foto is geneem met die kamera wat regs onder in die hoekie uitsteek. Die verkyker in die foto is 'n Carl Zeiss, en dateer uit die ABO. Moontlik selfs afgeneem van 'n Britse soldaat. By
Bloemfontein dink ek aan my studentejare, en aan wat ou President Steyn moes
voel toe hy sy setel, huis en hoofstad vir die laaste keer moes verlaat. In sy
hart het hy gehoop vir ‘n oorwinning wat hom eendag weer tuis sou lei, maar in
sy verstand was daar oomblikke waarin hy sekerlik moes vermoed het dat die stryd
voor die mag van die grootste ryk in die geskiedenis van die aarde, heel
moontlik nie volhou sou kon word nie. Ek doen teen
middagete aan by ‘n ou vriend naby Tempe in Bloemfontein en gesels oor tye van
gister. Waar sy huis vandag staan, was ‘n opleidingskamp tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Daar het sy ou buurman my eendag vertel, het hy tydens die oorlog geleer
motorfiets ry, en daar is hy op ‘n goeie dag met ‘n groot gejuig dwarsdeur
‘n doringdraad wat hy te laat in die veld gesien opdoem het. Maar min mense
weet dit vandag. Ou Oom Lankey Keys self, is lankal reeds tot stof vergaan, en
saam met hom heen, is ‘n leeftyd vol stories wat ek in my dwaasheid nooit
belangrik genoeg geag het om op te teken nie. Dis jammer. Hy het die lewe beleef
soos ‘n mens dit moet beleef—met passie en oorgawe. Sy avontuure sou boeke
kon vul. Wat ek kan onthou het ek in latere jare opgeskryf, maar dis maar min. Na ‘n
middagete wat te lank geduur het vir so ‘n lang reis, draai my motor se neus
weer suidwaarts, en skeer ek weer oor die snel-veranderende landskap. My doelwit
vir die dag is Bethulie se omgewing, waar ‘n ander voorvader se spore lê.
George Augustus Kolbe het in 1820 nie as ‘n setlaar nie, maar as ‘n
onafhanklike imigrant in Suid-Afrika aangekom. Iewers is ‘n slang in die gras
met sy lewensverhaal, want op sy en sy bruid se doopsertifikaat gee hy hulle
ouderdomme as 21 aan, maar ons weet vandag beslis dat hulle albie intlik net 19
jaar oud was. Hulle het dus oor hulle ouderdom gelieg, en dit nogal binne in die
kerk. Mens kan maar net raai dat hy sonder sy ouers se medewete getroud is. Daar
is rede om te vermoed dat een of beide van die families nie noodwendig baie
gediend met die huwelik sou wees nie. Aangesien hulle wederregtelik as
minderjariges getroud is, kan mens weereens raai dat hulle plan sou wees om so
vinnig so ver as moontlik van hul familie af weg te kom voordat die families van
die huwelik sou uitvind en dit laat ontbind. Wat ookal die geval was, George Kolbe bekom in 1820 ‘n pos as sendeling, en word spoediglik na ‘n Franse sendingstasie naby Bethulie gestuur. Daar wil bestaande getuienis dit laat blyk asof hy nie volgens die uiters negrofilistiese deuntjie van die sendelinge van sy tyd wou dans nie, en na etlike jare van struweling en moeilikheid word hy uit-eindelik uit sy sendingspos ontslaan. Nie dat dit teen daardie tyd ook meer veel hoef saak te gemaak het nie. Groot-oupa George was moontlik ‘n meer suksesvolle boer as wat hy ‘n sendeling was. Hoe dit ookal sy, sy plaas Eenzaamheid, lê vandag nog aan die voet van ‘n rantjie digby Agtertang treinhalte, en slegs ‘n klipgooi van Gary Player se perdeplaas af. Agtertang treinhalte. Die oumense het altyd beswaar aangeteken as "ordentlikheid" te sprake was, en driftig verklaar: "Dis regte Agtertangse mense!" Ek doen by
Bethulie aan, maar besef dadelik dat alles nie so meer so lekker in Blommeland
is nie. Die Suid-Vrystaat het oseane vol reën gekry en waar ek ookal gaan, is
dit ‘n gegly en ‘n gesuig in die modder. Ek ry heen en weer deur die dorpie
maar vind nie die begraafplaas nie. Ek stop langs ‘n swart vrou en vra haar
waar die begraafplaas is. Sy beduie iets in die trant van “nee, ek weet
nie,” maar swaai haar arm in die teenoorgestelde rigtnig om ten minste vir my
te wys dat ek heeltemal verkeerd mik. Hmm. Ek het so gedink. Met die omdraaislag
bemerk ek ‘n omie wat aangestap kom. Ek draai uit, en ek dink hy dink
aanvanklik eers dat ek wil hom omry, maar toe besef hy meteens dat ek eers wil
gesels. Hy steek ‘n hand uit om te groet met ‘n palm wat voel soos ‘n
rou-baksteen—hard en vriendelik soos die veld. “Die
begraafplaas?” sê die oom. “Man, as ek kan saamry gaat wys ek jou sommer
gou waar dit is. Wat sê jy is jou naam nou weer?” “O, ja, my
ma was ‘n Labberskagnie. Ja, hier wás van hulle, maar nou nie meer so baie
nie. Hulle is mos meer Steynsburg se kant toe, jy weet?” Ek maak die
deur oop en die omie klim in met skoene wat soos Hollandse klompe lyk, so dik is
hulle sole van die modder. Ek het die kar laat skoonmaak net voor ek weg is,
maar ek dag toe, “ag jong, laat los. Dis wêreldsgoed, en jy is nou besig met
belangriker dinge.” Die oom lig sy
karaktervolle vinger en beduie vorentoe: “Man, kyk, jy ry nou hier op, en daar
voor links, en dan sal ek jou wys hoe nou vorentoe.” Ek draai die
wiel gehoorsaam en vra: “Hoe lank bly oom al hier?” “Jongie, al
sewen-in-dertig jaar.” “En is dit
‘n goeie plek om te woon?” “Bethulie?
Ja man, dis ‘n baie lekker plek hierdie. Hier gebeur nou nie so baie nie, maar
soos ek sê, ek bly al sewen-in-dertig jaar hier, en mens word vir die plek nie
moeg nie.” Die oom gaan wys my die begraafplaas en ek ry terug na die ander kant van die dorp om hom te gaan aflaai. “Wel, ten minste weet ek dat Bethulie één vriendelike gesig het,” sê ek vir myself terwyl ek weer begraafplaas toe ry. Die wolke is grys en die wind kerf aan die gebeente soos ‘n skeermeslemmetjie. Dis dertien grade en ek sien die temperatuur bly val, ‘n halwe graad op ‘n slag. Ek het tyd verloor en is haastig want ek weet nog nie waar ek gaan oornag nie, en dit gaan nou-nou donker word. Op Bethulie, kry ek die gevoel, gaan ek nie op ‘n Sondag blyplek vind nie, en ek neem my foto’s by die ou Voortrekker monumentjie so vinnig as wat ek kan, en daarna gaan grawe ek my baadjie op die agtersitplek uit tussen my boeke en leêrs. Bethulie se Voortrekker Monumentjies, digby die begraafplaas Die
begraafplaas van Bethulie is in ‘n minder goeie toestand. Die onkruid word op
‘n manier van soorte beheer, maar eintlik maar meer in die letter van die wet
as in die gees van die wet, soos die Bybel sou sê. Of miskien is dit andersom.
Ewenwel, die bossies groei asof die dood nie bestaan nie. Die reën het alles
‘n pappery gemaak en ek voel hoe my eksotiese stads-voorkoms begin om kolle en
strepe van plattelandse kamoeflering op te tel. Ek pluk die kamera uit en begin
bibberend foto’s neem. Ek snuffel al die Kolbe’s uit en neem hulle af. By
‘n ou tannie se graf staan ek ‘n oomblik stil. Dis ‘n ou graf, maar die
stormreën het ‘n gat langs die steen laat inval, en ek loer morbied in die
donker duisternis in om te sien of daar dalk bene lê. Ek kan niks sien nie,
maar ek wonder so in my sondigheid of die ou tannie geskrik het die die stroom
yswater so skielik deur haar ribbebene trek. Vir ‘n oomblik wonder ek of dit
disrespekvol is om so te dink, maar dan besluit ek dat die lewe nie die moeite
werd sou wees sonder humor nie, en dat die dood maar netsowel af en toe kan deel
neem aan die oefening. Ek rammel die
fotonemery maar vinnig af, en wriemel verlig in die warmte van die motor in. Ek
ry weg met klonte modder wat vrolik teen die motor se onderstel vasklots totdat
ek die dorp verlaat en begin spoed vang. Met die dag se laaste lig wil ek nog by
Knapdaar verby ry, so daar is nie tyd vir duime rol nie. Op die brug oor die
Oranjerivier stop ek egter eers, want sover ek kan onthou is dit die langste
brug in Afrika, en die uitsig is regtig merkwaardig mooi. Ek neem ‘n stel
foto’s in die huiwerende lig, en probeer myself voorstel hoe dit sou gelyk het
in die dae toe enorme troppe olifante nog vreedsaam in die rietbeddings gestaan
en wei het. As mens so rondkyk is dit maklik om jou te verbeel dat jy deur die
eeue heen kan terugstaar. Al wat jy hoef te doen is om Bethulie se dorp se
buitelyne mis te kyk, groot trope wild op die landskap terug te plaas, en jou
tydmasjien is perfek. Van die brug af versleg die situasie vinnig soos die pad na Burgersdorp verander in ‘n grondpad. Verby is die dae toe vriendelike ou omies met grys-groen pap velt hoedjies hulle trotse padskrapers gereeld oor die lewensare van ons plattelandse infrastruktuur geskraap het. Skielik mis ek hulle met nostalgie soos die middelmannetjie van die grondpad al hoër word totdat dit elke nou en dan teen die motor se onderstel begin vasslaan. Ek verbinder spoed, lig een wiel op die middelmannetjie, en ploeg dan moedig voort terwyl die motor sy stert heen en weer waggel in ‘n rebelse obsessie om die pad te verlaat en die veld in te foeter. Op ‘n draai lê ‘n doodgetrape meerkat en die karkas van ‘n dooie lammetjie, en ek sê vir myself, “Self, as jy wéér sien is jy van die pad af, en as die boere jou uit die modder kom sleep gaan hulle vir jou sê, ‘vir wat neuk jy op so ‘n pad met ‘n simpel stadsmotor?’” Ek vervies my vir die duisendste maal omdat ek ‘n stadsmens geword het. Mens weet mos as iets nie werklik jou plek is nie. Die eensame pad tussen Bethulie en Burgersdorp, nie ver van Knapdaar treinstasie af nie. In die laaste
lig is die wêreld verruklik mooi. Ek neem foto’s sommer so deur die vooruit
in die ry, want daar is nie tyd om te stop nie. Die omie in Bethulie het gesê
hulle het drie duim reën gehad, en selfs meer op plekke. Oral staan plate water
in die veld, en die boere se damme staan tevrede vol grys water. Op hierdie pad
is nie eintlik padaanwysings nie, maar ek hou maar so suid-oos se kant, en kry
ten minste die gevoel dat dit nie te ver verkeerd kan wees nie. Die heel tyd
verkyk ek my aan die mooi wêreld en balanseer my vrede met ‘n gevoel van
ontsteltenis dat die owerhede ons plattelandse infrastruktuur so laat verval
het. En dan, terwyl ek nog sit en werk aan my bloeddruk, rye ek Knapdaar binne.
Ten minste, mens ry hom uit omtrent die oomblik wanneer jy hom binne ry. By die
ou spoorwegstasie wat eers Knapdaar was, is nou knap niks. Die geboue staan
almaal eensaam en verlate, en oral is die ruite vol gate soos die booswigte
klippe deurgegooi het. Daar is nie veel om na te kyk nie, en ek gaan nie tyd
mors om te soek nie. Na Knapdaar se ou Kolbe plaas sal ek later kom soek.
Miskien volgende jaar. Vir eers moet ek op Burgersdorp uitkom waar die ou Kolbe
stamvader en sy eggenote geduldig in die kerhof lê en wag op die laaste basuin
om te blaas. Snaaks hoe
mens teerpad met ‘n mengsel van blydskap en afsku begroet wanneer jou wiele
dit skielik weer tref. Ek kan nie besluit of die motor nou meer of minder ratels
het nie, maar dit maak ook nie saak nie. Ek moet druk vir Burgersdorp. Die omie
van Bethulie het my gewaarsku: “Burgersdorp lê in ‘n gat. Dis vriesend koud
in die winter en hel-uit warm in die somer.” Ek tref Burgersdorp ewe skielik
en sonder waarskuwing. Op die regterkant begroet ‘n ou klip blokhuis uit die
Boere-oorlog die reisiger met ‘n stywe buiging, en oomblikke later ontvou die
hele dorp voor jou. In die verbygaan kyk ek die blokhuis so met een oog en ‘n
skewe kop soos ‘n hoenderhaan wat die son meet om te besluit of dit al tyd is
om ‘n sit-stok te gaan uitsoek en ek dink by myself: “Vir jou kom ek môre
afneem as die son uit is!” Burgersdorp
Burgersdorp ry
ek van hoek tot kant deur. Dis ‘n pragtige ou dorpie vol mooi ou geboue en
groot bome. Soos gewoonlik kan ek nie besluit watter gastehuis om te probeer
nie. Ek en ‘n Toyota bakkie, lykbaar ook vol vreemdelingeuit ‘n ander oord,
ry van plek tot plek, en vind vinnig uit dat jy nie maklik plek in ‘n
gastehuis kry so laat op ‘n Sondag in Burgersdorp nie. Ek begin al klaar sien
hoe my aand in ‘n bron van teleurstelling begin ontaard, maar gaan klop
uiteindelik aan by ‘n groot, statige woning. ‘n Lui Labrador begroet my
koms, en ek stap versigtig deur die absolute pappery in die parkeerarea. ‘n
Dame kom uiteindelik te voorskyn, maar dit lyk nie of sy bly is om besigheid te
sien nie. Moeg, verduidelik sy dat sy net een kamer oop het want daar was die
naweek ‘n bruilof in die dorp en alles is nog chaos na die gaste weg is.
“Kom kyk maar of jy daarvan hou.” Ek stap deur,
maar sommer van ver af begin iets aan my nekvelle krap. Die akkommodasie is
heeltemal billik, maar ek voel beslis nie welkom nie, en toe die dame aankondig
dat sy nie etes aanbied nie, ten spyte van wat die bordjie in die straat
adverteer (“restaurant”), begin die irritasie van ‘n lang dag my
ongeduldig maak. “Waar anders kan mens probeer vir ‘n maaltyd,” vra ek
beleefd. “Nee, ek
weet nie,” antwoord die dame. “Ry maar rond en kyk of jy iets sien.” Ek kyk die
dame so, en besluit toe dat ek ‘n ander reëling sal tref. My ma het my geleer
ons Boere moet oorloop van warmte en gasvryheid. Dit is ons kultuur en dit is
ons heilige plig. Baie keer vandat ek ‘n kleuter was het sy ons vermaan,
“want mens weet nooit wanneer jy dalk eendag ‘n engel in jou huis ontvang
nie.” Met ‘n paar
komplimente oor die mooi huis, dui ek beleefd aan dat ek liewers maar nog so
bietjie sal rondkyk. Ek doen nie maklik so iets nie, maar nou ja. Mens wil nie
voel of jy ‘n oorlas is nie wanneer jy nog bonop ‘n betalende gas is nie… Uiteindelik
tref die geluk my om ‘n klein kothuisie met die naam “The Nook”[1]
raak te loop. Anita Joubert is die eienares en aan haar stem kan ek onmiddelik
hoor dat sy “een van “onse mense” is, soos my ma altyd gesê het. Dis die
ene warmte en sorg en sy klink presies netsoos ‘n veraf-groot tante van my. “Die bed is
nog nie opgemaak nie, sê sy, maar as jy bietjie sal wag, maak ek dit gou
reg.” Ek steek vinnig die hande op. “Nee wag,
wag. Ek het duisende beddens in my lewe opgemaak en ken van beddens regmaak op
kort kennisgewing as die gaste jou skielik toesak. Ek vat gou een kant, dan is
dit vinnig klaar.” Anita
verduidelik verskonend dat ‘n gas die vorige nag ten spyte van regulasies in
die kamer gerook het, en dat sy die stank met geen geweld kon uitkry nie. Ek sê
dit maak nie saak nie, maar later besef ek, wat die vrou ookal gerook het, dit
moet uit Van Hunks se eie tabaksak gekom het. Dit kon netsowel donkiemis gewees
het. Ek is nie sensitief oor sulke goed nie, maar dit is skielik uiters
irriterend om te dink dat iemand so ‘n ordentlike mens se gasvryheid met sulke
minagtende disrespek begroet het. Min het ek geweet, maar die hele nag sou ek
nog lê met wraakgedagtes teenoor ‘n anonieme roker wat geen respekte vir
ander had nie. In ieder geval, Anita beduie waar die beste ete op ‘n
Sondag-aand verkry kan word, en ek stap sommer soontoe. Biefstuk en eier, soos
dit ‘n goeie Boer betaam, terwyl die bestuurder vir my ‘n TV so groot soos
‘n snoekertafel op die sportkanaal stel. Wel, nie heeltemal so groot nie, maar
groot genoeg. Ek het wel verduidelik dat ek regtig nie belang stel in TV nie,
maar toe hy sien ek kyk nie Sewende Laan nie, toe dink hy seker sport sal beter
afgaan. Ek kan nie onthou wat gewys het nie, maar ek is amper seker dit was
rugby van soorte. Iemand wat iemand anders bespeel het—haaie of katvisse of
seekatte of enigeen van die snaakse nuwe name wat ons spanne vandag dra. Ek het
my belangstelling total verloor vandag geld en politiek ons sport beduiwel het.
Ek was die enigste gas, en daardie aand was my gedagtes 180 jaar terug in die
verlede, wat die rugbyspelers ookal probeer bereik het op hulle modderige
sportveld. Daardieselfde
aand sit ek en Anita en nog ‘n gas, en gesels oor die land, die verlede, en
die toekoms. Die ander gas is op pad terug van ‘n besoek aan Nieu Seeland. Sy
sê sy teken etniese volksmusiek op, en ek luister belangstellend. Ek het nie
werklik ‘n buitengewone belangstelling in etniese kultuur nie, maar dit het my
nog altyd vreemd voorgekom dat die mense so bitter min belangstelling in die
behoud van hulle eie kultuur getoon het. Die bewaring van ou musiek-erfenis
klink vir my interessant, want ek en die pianiste Anna Bender, het al lekker
daaroor gesels. Dis iets wat haar ook ná aan die hart lê. Ons ontdek dat ons
al drie so tussen ons, vaagweg dieselfde mense in die kuns en kultuur bedryf
ken. Die ander gas stel ook in genealogie belang, en kort voor lank begin ons
die beendere op die tafel uitpak om te sien waar ons stambome dalk ‘n raakpunt
maak. Ek en Anita is via die Jouberts met ‘n lang, lang ompad verwant, maar ek
en die ander gas spook so bietjie en gee die stryd dan gewonne. “Die
gemeenskaplike skakel lê seker nader aan Adam en Eva as wat dit aan ek en jy
is,” dink ek net voordat ek verskoning maak en bedwaarts keer. Die volgende
oggend volg ‘n groot ontbyt en nog gesels om die ontbyt tafel. Ons ruil
adresse uit. Anita vertel my van ‘n ou oom wat ‘n treindrywer was, wat
Labuschagne familiegeskiedenis opgeteken het, en sy beduie my waar sy dogter in
die dorp werk. Herma Bosch is haar naam en sy werk by die dorp se oogkundiges.
Ek maak ‘n nota en beloof om haar te gaan sien. Maar eers wil ek begraafplaas
toe. Burgersdorp se begraafplaas is nogal groot, en ek begin hom moedig
deurstap. Hier en daar lê ‘n bekende steen wat ek dadelik op film vasvang,
maar baie van hulle is Engelse soldate, vroeë emigrante en vreemdes wat vir
altyd vanaf die horison van onthou verdwyn het. Die gedagte is treurig vir my.
Party grafte is gevandaliseer, sommige val in, en party is al so totaal verweer
dat die inskripsies onleesbaar is. Die ergste is dat sommige grafte nooit ‘n
steen opgehad het nie, en nou al so goed soos gelyk met die grond is. Ek het al
reeds verneem dat die begraafplaasregisters op ‘n stadium verbrand het, en dus
is diegene wie se name nie in graniet opgeteken is nie, nou moontlik vir ewig
vir die geskiedenis en die nagedagtenis verlore. Hoe verder ek
loop, hoe langer word ek soos die modder op my skoensole saampak. Ek stap elke
enkele graf van die duisendes deur en sien nie my stamvader nie. Later voel ek
al heel knorrig en erg teleurgesteld, en begin toe maar kar toe stap, terwyl ek
vererg my hare deurmekaar krap om te dink waarom ek die graf dan nie kan kry
nie. Anita bel
egter net toe ek die stryd finaal gewonne gee. “Herman—jy het jou leê by
die gastehuis vergeet!” Ek bedank en verwens myself vir my agterlosigheid met iets wat vir my persoonlik, nogal ‘n kosbare bron is. Maar toe tref ‘n ingewing tref my. In die vergete leêr is ‘n foto van die graf. Miskien sal dit help. Ek gaan haal die foto, en jou waarlik—van ver af sien ek die onmiskenbare vaas bo op die hoë grafsteen. Dis van daardie moeilik-leesbare pienk graniet en ek het hom eenvoudig misgekyk. Die graf het ‘n ornamentele staal heining om, maar een kant is afgesteel. Seker nou al die hek van ‘n hoenderhok, dink ek. Ek neem fotos en maak eerbiedig kennis met my stamvader. Dan kyk ek respekvol boontoe en glimlag met ‘n woordjie van dankbaarheid dat die man wie se beendere hier in stof rus, lank gelede na Afrika gebring was, en dat sy nageslagte teen alle verwagting in, behoue gebly en gespaar was sodat ek vandag hier kan staan. ‘n Volle sirkel is voltooi na net so neffens die 200 jaar. Dan neem ek afskeid van die egpaar wat ek nooit geken het nie. Om te dink—ver van die groen landskap van Engeland en die vaal strate van London, om hier te kom rus van alle plekke. Arme ou George Kolbe en Margaret Downing het hulle families in Engeland nooit weer gesien nie… Die graf van Stamouers George Augustus Kolbe en Margaret Downing, Burgersdorp begraafplaas. Te oordeel aan die datum is dit een van die oudste grafte in die begraafplaas. Let op die gesteelde segment van die heining aan die regterkant. Ek lê besoek
af by die vriendelike dorpsmuseum, waar die kurator my met alle hartlikheid
toestemming gee om foto’s te neem van ‘n kaart wat ou plaasgrense aandui.
Dit sal handig te pas kom vir latere navorsing. Ek gaan fotografeer die
blokhuis, en die taalmonument op die stadsplein, terwyl ‘n klomp lieplappers
in die park my aankyk asof ek daar is om nog ‘n kop van een van die
standbeelde te kom afbreek (een standbeeld se kop is naamlik deur die Britse
soldate tydens die Anglo-Boereoorlog afgebreek). Dan gaan sien ek die ou
treindrywer se dogter, Herma Bosch, by Philip de Wet Oogkundiges. Hartlike,
vriendelike mens. Sy verduidelik dat haar broer, Frans Labuschagne, die kenner
is, maar hy bly in Oudshoorn.[2] “Toemaar,
glimlag ek, ek gaan van tyd tot tyd daardeur. Gee my sy nommer, dan maak ek
later kontak.” Toe ek
Burgersdorp vaarwel toeroep, kry ek die gevoel dat miskien nooit weer daar sal
kom nie. Dit sal jammer wees, want dit was ‘n vriendelike en ‘n mooi dorp
vir my. Maar mens weet nooit. Miskien gaan kuier ek weer eendag vir ou George
Kolbe en Margaret Downing, net om seker te maak dat hulle nog daar is. Burgersdorp na
Cradock
Van hier af
word die wêreld erg Karoo. Oral is panne water, en die woestyn blom soos ‘n
narsing sodat mens jou verlustig in die uitsig na alle kante, en skaars kan wag
om oor elke nuwe horizon te kan kom. Ver in die weste lê die berge wit van die
sneeu, en ek probeer my verbeel dat hulle nog presies netso lyk soos toe my
voorvaders daar verby getrek het. Die reis geskied sonder voorval, behalwe dat
ek myself vervies oor ek nie gedink het om padkos saam te bring nie. Steynsburg
se hotel oortuig my nie om aan te doen vir ontbyt nie, en die volgende dorpie
het geheel niks om aan te bied nie. Nou ja dan. Dan vas ons maar so bietjie,
besluit ek. Dis tog goed vir die gesondheid en my oupa’s moes dit seker
dikwels doen. Teen middagete stoom ek Cradock warm en effens moeg binne. In
hierdie distrik is baie van ons almal se voorvaders gebore, gedoop en getroud.
Ek fotografeer die uiters imposante ou kerk, en ontdek dan ‘n tweedehandse
snuistery winkel wat as ‘n antieke winkel maskereer. Die kêrel
agter die toonbank groet familiêr en uitbundig: “Lat weet ma’ as ek vi’
jou met iets kan help!” Ek knik en mik
onmiddelik vir ‘n bank meestal onbekende ou familiefoto’s wat eenkant te
koop aangebied word. Aan die gelaatstrekke kan ek dadelik sien dat dit nie my
familie is nie. Nou ja. Ek hét probeer… Daar is
interresante goed, maar op die ou end stap ek net uit met ‘n hand vol
dof-aangeslane ou silwerware wat werklik ‘n winskopie was, en ‘n ordentlike
klein gasverwarmer vir Johannesburg se winter. Die res van die dag spandeer ek
om die dorp te verken. ‘n Besoek aan die museum bring my in aanraking met
vriendelike mense. “You need to
speak to Mr Furgeson,” sê die kurator met sy groot militêre snor vir my.
“He knows everything about the history of Cradock.” A! Ek wou hom
juis kom besoek, maar het sy nommer verloor. Ek skakel hom, en die foon word
beantwoord met ‘n growwe en emosielose: “Hello. Mr Ferguson speaking.”[3] Mr. Ferguson
het ongelukkig al klaar middagete gehad, en wil nie dat ek hom ‘n tweede keer
uitneem nie, maar nooi my oor om in sy argiewe te gaan delf. Sonder berou skryf
ek middagete af en gaan soek sy nederige huisie in Hospitaalstraat op. Mens kry
dit maklik. Hy loop my tegemoed. ‘n Karaktervolle figuur in ‘n ou growwe
materiaal Britse sportbaadjie en ‘n trui. Hy dra ‘n swartraam bril, en sy
grys hare is agteroor gekam. Mr. Ferguson praat nie koeitjies en kalfies nie. Hy
is ‘n praktiese man. Ek is hier om iets te soek, en hy is hier om my te help.
Ek word ingenooi in ‘n huis wat sekerlik presies dieselfde daar uitsien as 40
jaar gelede. Die linoleum is deurgeloop in die gang, en oral is die muure met
boekrakke uitgelê—selfs tot by die voordeur. Ek meet altyd ‘n man aan sy
boeke, en kyk dus vinnig deur. Militêre geskiedenis, gewone geskiedenis,
aardrykskundige, genealogie… En dan word ek in ‘n sykamer van sy
studeerkamer ingelei. Nog meer boeke, ‘n vertoonkas vol oudhede en
aandenkings, en ‘n reeks artikels op die vloer, die muure en tot teenaan die
dak, wat alles stories vertel van die goeie ou dae. Ek vind vinnig uit dat Mr.
Ferguson ál Cradock se doop-, huweliks- en ander registers oor die jare heen
getranskribeer en oorgetik het. “I’ve worn
out several typewriters already,” voeg hy droogweg by, terwyl my kakebeen sak
in stille bewondering. En dan begin
hy laaie ooptrek. “I’ve
already drawn my files that contain Labuschagnes,” sê hy vir my. “What
other surnames from here are you also interested in?” “Well,
Potgieter, Pieterse en one Van der Merwe,” antwoord ek. Mr. Ferguson
dink so bietjie na. “Well, you’ll find some in here,” sê hy, en begin nog
stapels uit sy argiewe aandra. Duisende
rekords, alles deur sy vingers getik. Ons gaan hulle teen ‘n vinnige pas deur.
Alles wat belowend lyk, fotografeer ek onmiddelik—Mr. Ferguson gee glad nie om
nie. Om die waarheid te sê, dit lyk asof sy lewe daaruit bestaan om ander mense
met navorsing van alle soorte te help. Hy kla so bietjie omdat hy dikwels baie
moeite doen vir mense wat hom nooit weer bedank of ooit erkenning gee vir sy
hulp nie, maar stem saam dat dit op die ou end ook nie so belangrik is nie. Ek
kry minder inliting as wat ek gedink het ek sou, maar versamel nogtans ‘n hele
string rekords wat ek later kan deurgaan. Dis nie eintlik total unieke inligting
nie, maar ek kan darem my bestaande rekords kruis-vergelyk en probeer bevestig.
En dit spaar my miskien om in die Kaapse argief daarvoor te moet gaan
soek—iets wat ek nog nooit die geleentheid voor gehad het nie. Kort voor lank
bring Mr. Ferguson ‘n reeks boeke en pamflette om ook na te kyk. Dan neem hy
my terug museum toe om ander papiere te gaan fotokopieër. Terug by sy huis,
takel ons die Boereoorlog en sy belangstelling in spoorweg-geskiedenis, waarin
ek in ‘n klein mate ook deel. Ons lag bietjie oor die ou dae, en hy vertel my
hy was sy lewe lank ‘n spoorwegwerker. En hy doen al diep in die dertig jaar
genealogiese navorsing, en omtrent niks anders nie. Hy was nooit getroud nie, en
het al die tyd in die wêreld. Ons werk deur verskeie boeke, ruil nota’s en
gedagtes uit, en hy wys my bronne wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Dit
voel of Mr. Ferguson alles weet daar is om te weet, maar hy weet darem nie hoe
mens Generaal Pole-Carew se naam uitspreek nie. “Pollie-kêrrie”,
beduie ek. Hy skud sy kop
en sê niks nie, maar ek besef dat Mr. Feguson alles absorbeer waarmee hy in
aanraking kom. Ek glo nie hy is ‘n man wat maklik iets vergeet nie. My tyd is
helaas heeltemal te kort met Mr. Ferguson, en na ons kontakbesonderhede
uitgeruil het, neem ek teësinnig afskeid om ‘n nuwe gastehuis te gaan soek.
Soos gewoonlik kan ek nie besluit nie en ry heen-en-weer totdat die hele dorp
seker al praat van die geheimsinnige wit motor wat stadig op en af ry en
suspisieus optree. Teen skemer besluit ek op Annie’s House,[4]
‘n baie ordentlike gegradeerde gastehuis, sommer baie naby die dorp se enorme
groot begraafplaas. Weereens is dit ‘n hartlike Boere-ontvangs. Baie vinnige
kom dit aan die lig dat ek op ‘n ontdekknigsreis is langs die paaie van die
verlede, en ons begin opnuut bene op die tafel uitpak. Die dame klink
belangstellend oor my aardige stokperdjie. “Sê my, is
dit ‘n siekte?” vra sy. Ek dink so
bietjie en antwoord huiwering: “Hmm. Ja-a-a…” Is dit soos
‘n verslawing?” wil sy weet. Ek skud my
kop. “Nee, nie regtig nie… Dis baie
erger!” Die nag op
Cradock is koud, maar uiters aangenaam en die akkommodasie laat niks te wense
oor nie. Die volgende oggend se ontbyt ontlok ‘n nuwe genealogiese diskussie
en die dame gee raad omtrent my reisplanne, terwyl ek ‘n bottel van haar
tuisgemaakte marmalade uitsoek om as ‘n geskenk saam te neem. “Jong, ek
het met my man gepraat en hy sê jy moet liefs nie in die berge ingaan nie.
Hulle sê naby Queenstown het dit plekke so ses duim gereën, en Tarkastad se
kant toe was daar ook baie reën.” Ek is
teleurgesteld. Dit beteken my hele besoek na Tarkastad en die reis langs die
Baviaansrivier en Glen Lynden is buite die kwessie. Ek het baie werk wat ek nog
daar wil gaan doen, maar ek verstaan. Dit help nie jy gaan grawe jouself in ‘n
drif vol modder in en dan moet jy daar sit en stokkies kerf vir drie dae voor
die volgende trekker verby kom nie. Dan maar liefs met die Visrivier langs. Daar kan
maklik gevra word hoekom mens dit doen. Waarom loop krap sommiges alewig in die
verlede? Hoekom blaas party van ons alewig op die sand van tyd in die hoop om
lank-verlore voetspore onder dit te vind? Hierop kan ek maar net glimlag en
beleefd wegbuig. Daar is tog nie regtig ‘n antwoord nie. Al wat ek kan sê is
dat daar party mense is wat verder as die huidige kyk. Party van ons sien
gedurig iets in die newelrige sagtheid van ‘n vroeë sonsopkoms. Dit is ons
wat kort-kort iets sags hoor in die fluistering van die aandwind, of wat ‘n
storie sien afspeel in die warm gloed van ‘n kampvuur. Party mense sit langs
‘n leë slagveld waarvan die wonde lank reeds weer toegegroei is met veldgras
en wilde blomme. Maar ‘n oomblik later, hoor ons nog steeds die perde runnik,
voel die koeëls gons, luister na die gedruis van die krygsrumoer, die krete, en
die geroep na hulp of genade. Party van ons
sit langs die graf van ‘n onbekende, en sien nie ‘n hoop grond nie, maar
‘n moeder wat bemind was, en bemin het. Dat sy aan ons bekend is of dalk nie,
maak nie regtig saak nie, want ons het haar soort
geken, ‘n honderd maal reeds. In die datum op haar grafskrif sien ons nie
syfers nie, maar ‘n tragedie. ‘n Jong vrou wat in die greep van die Spaanse
Griep van 1918 die lewe moes aflê, om ‘n huis vol klein kindertjies
verwilderd en verlore agter te laat. Ons sien die hand van ‘n voortydige dood
soos ‘n swart wolk na ‘n klein familie gryp, om ‘n negentig grade draai in
die pad van ‘n hele geslag neer te lê. Tussen die vervalle muure van die
dig-oorrankde ruïnes van ‘n plaashuis, hoor ons die gelag van kinders, die
glimlag van ‘n pa wat van die lande af tuiskom om sy kinders te groet. Hoed in
die hand, ‘n glimlag so wyd soos die horizon, en oë so vaal soos die winterse
hoëveld lug. Op die gebarste stoep met sy kakiebos en verwaaide droë
mielieblare in die hoek, sien ons nog die skommelstoel en gevoude, knoetsige
hande van ‘n gryse grootmoeder. Onder die uitgebrande latei van ‘n venster,
sien ons ‘n kat lê en spin in die oggendson, die oggend voor Kitchener se
kolonne met hul vuur kom besoek af lê het. In die konsentrasiekamp kerkhowe
hoor ons die gesug van elende. In die monumente sien ons die mylpaalmerke op die
pad na die bou van ‘n nasie. En so, kry ons drome gestalte. Later gaan ons
na die argiewe waar vragmente van gister bewaar word. Met koorsagtige haas en
jarelange geduld belê ons ons lewens in die tydsame proses om substansie aan
ons drome te gee. Om getuienis te vind vir die beelde wat voor ons geestesoog
afgespeel het, en materiaal te vind waarmee ons nuwe drome kan bou. Miskien is
‘n ware geskiedkundige of genealoog, op die ou end, wat Koos du Plessis sou
genoem het: “’n droomswendelaar.” Dit is ‘n mooi woord. Dit is iets wat
mens bybly as jy deur die Groot Karoo krys met ‘n naald wat huiwer rondom die
perk waar spietkops met kamera’s vir jou wil begin kyk. Van Cradock na
Somerset-Oos: op soek na Voortrekkerplase
Met gemengde
gevoelens draai ek die motor se neus skuins en mik suidwaarts. Ek voel aan die
een kant ek is nog lank nie klaar met Cradock en sy ryk geskiedenis nie, maar
aan die ander kant roep die moontlikheid van nuwe ontdekkings vrolik. Soos die
horisonne ons voorvaders alewig bly roep het met ‘n fluistering van ‘n beter
belofte. Ek was nie seker wat die dag gaan oplewer nie. Om die waarheid te sê,
ek was nie eers seker presies wat ek gaan soek het nie. Om reguit deur te ry na
Somerset-Oos sou my moontlik met te veel tyd laat. En om af te draai en in die
Baviaansriviervallei op te ry mag onder die nat omstandighede dalk moeilikheid
soek wees, maar ek het besluit om maar te kyk waarheen my neus my lei. Die ander
opsie was natuurlik om te gaan soek na Van der Lindeskraal, wat relatief naby
die pad in ‘n kromming van die Groot Visrivier moes lê. Ek het voor die tyd
die kaarte mooi bestudeer met die oog op ‘n besoek aan Van der Lindeskraal, en
het welliswaar selfs die vorige jaar al daarna gaan soek. Maar dit moet almal
vir eens en vir altyd weet—ek kon nog nie ‘n padkaart kry wat die
Visriviervallei en omstreke behoorlik uitlê nie. Ek dink dit moet wees omdat
baie van die ou grondpaaie vandag al so verwaarloos is dat dit omtrent nie meer
as ware nasionale paaie beskou word nie. Hoe dit ookal sy, selfs Gideon de
Klerk, wat nie ver daarvandaan af boer nie, het die vorige jaar sy kop geskud
met frustrasie en uitgevaar oor hoe onakkuraat my splinternuwe kaart-boek
was—die misrabele een waarvoor ek R50 betaal het, net om uit te vind dat dit
nog presiés dieselfde inligting bevat as die een wat ek reeds 13 jaar gelede
bekom het. En dit het my verwonde ego darem ietwat gesalf en my laat voel dat ek
miskien nie heeltemal so rigting-onnosel was as wat dit begin lyk het nie. Van der
Lindeskraal is die plaas waar my oor-oupagrootjie se oupa, Leonardus Petrus
Labuschagne, in alle waarskynlikheid sy wederhelfte gaan haal het. Leonardus
Petrus Labuschage is op 2 Mei 1790 in die distrik Swellendam gedoop. In daardie
dae was die distrik van Swellendam enorm groot, en het ‘n reuse gebied
ingesluit wat met verloop van tyd in verskeie onafhanklike distrikte opgedeel
sou word. Leonardus
Petrus het aan die Oosgrens grootgeword en soos in die geval van die ander seuns
van sy tyd, sou ‘n baie harde jeugtyd waarskynlik gebalanseerd gewees het deur
die bekoorlikhede van ‘n wilde, avontuurryke woongebied vol bekoorlike
natuur-skoonhede en nuwe ontdekkings. Sy pa, Frans, was in die Kaap gebore, en
het as jong seun saam met sy weduwee moeder na die Oos-Kaap verhuis toe sy
moeder met die vrydenkende trekboer, Jan Nel, getroud is. Een van “ou
Frans,” soos hy soms later genoem sou word, se beste vriende was Andries
Hendrik Potgieter se pa, Hermanus Potgieter (wie se statebybel vandag in die
Voortrekkermonument te sien is). Hy is ook met Hermanus Potgieter se suster
Cornelia, getroud, sodat die Labuschagnes en die Potgieters dus aangetroude
familie was. Van veral Andries Hendrik Potgieter se avontuurlustigheid en
vrydenkende gees, is daar heelwat bekend, en mens kan aanneem dat die
koorsagtige wanderlust van die Potgieters sekerlik ook tot ‘n mate op die
Labuschagnes moes afgevryf het. Mens kan dit aflei aan die feit dat die
Labuschagnes se name aan verskeie plase op die Oosgrens gekoppel kan word,
sonder dat mens kan aflei dat hulle noodwendig aan ‘n spesifieke een verknog
was. Moontlik het hulle ook soos baie ander boere tydens hierdie stormagtige
jare, gedurig bly versit na gelang van veranderende omstandighede, voordoen van
nuwe geleenthede, en verskeining van nuwe gevare. Van een leningsplaas tot die
ander. Ons weet dat
Frans Labuschagne al in Mei 1775 ‘n boer van die Oos-grens was, saam met boere
soos Louis Nel, Jacob Potgieter, Willem Prinsloo senior, Hendrik Kriegler, Claas
Prinsloo junior, Johannes Kloppers, Hendrik Klopper, en Johannes Nortje senior,
en dat hulle blykbaar teen hierdie tyd al verhuis het na die Bruintjieshoogte
omgewing. Die gebied van Bruintjieshoogte, wat vandag as die Somerset-Oos
distrik bekend staan, is Karoo-wêreld. Van Cradock af mik die Groot Visrivier
min-of meer suid, en aan weerskante van die rivier verreis ‘n wildernis berge
wat die rivier soos vlerke aan die ooste en weste begrens. Wes van die Visrivier
loop die berge in ‘n aaneenlopende lyn oor Pearston na Graaff-Reinet. Oos van
die rivier lê die berge weer soos ‘n groot ronde eiland, met Winterberg wat
misterieus en onverbiddelik oor die hele massa waghou. My
veronderstelling is dat die Boere aanvanklik effens skrikkerig sou gewees het,
en eers wes van die Visrivier sou gewoon het, maar dat hulle baie vinnig onder
die versoeking sou geswig het om die rivier oor te steek en ook die berggebied
ten ooste van die rivier te koloniseer—totdat sekere boere soos die latere
Voortrekkerleier Piet Retief, uiteindelik baie ver oos sou gaan vasskop. Wat die
Labuschagnes aanbetref, weet ons net dat hulle waarskynlik teen die laat
1700’s al in die Visrivier omgewing gewoon het, en dat hulle teen 1795 buure
was van die wel-bekende Freek Bezuidenhout van Slagtersnek-faam. Die Potgieters
het verder noord in die rigting van Tarkastad gewoon, en alhoewel die afstand
tussen hulle betreklik groot was, moes die twee families nogtans van tyd tot tyd
kontak gehou het, gesien aan die feit dat hulle lotgevalle in later jare baie
nou aan die van die Potgieters verbind sou wees. Die gedagte
dat die Oosgrens nog ‘n baie wilde en ongerepte gebied was, kan afgelei word
van die feit dat Frans se een broer, Casper, reeds in 1791 deur Hottentotte
vermoor was. Inderdaad het die Labuschagnes ook soos ander boere, gereeld onder
die moord-en-strooptogte van die Khosas en Fingos deurgeloop. Die wêreld was
nog vol grootwild, en dit sou logies wees dat die Labuschagne seuns almal op vroë
ouderdom reeds goeie skuts en perderuiters sou gewees het. Leonardus
Petrus Labuschagen en sy kleinboet Adriaan was nog maar jong seuns tydens die
Slagtersnek-gebeure. Op hierdie stadium het die Labuschagnes reeds oos van die
Visrivier gewoon in die Baviaansriviervallei, wat soos ‘n klein slagaar deur
die droë half-Karoo berge loop. Leonardus Petrus en Adriaan was ten tye van die
opstand werksaam gewees by Freek Bezuidenhout. Freek, wat herhaadelik opdragte
verontagsaam het om weens klagtes van beweerde aanranding en veediefstal in die
hof op Graaff-Reinet te verskyn, het geweet dat hy een of ander tyd moeilikheid
te wagte kon wees. Derhalwe het hy Leonardus Petrus en Adriaan, sowel as sy
ongedoopte basterseun, Hans, opdrag gegee om op die uitkyk vir die gereg te
wees. Uiteindelik het die gereg wel op Freek toegesak, en in die skietgeveg wat
gevolg het, het die drie seuns ‘n minimale rol gespeel. Veral die aandeel van
die Labuschagne seuns is onbekend. Mens kan maar net raai dat hulle vader hulle
vroegtydig aangesê het om hulle uit die voete te maak as daar moeilikheid sou
kom, of dat hulle eenvoudig die rieme neergelê het toe die pandoers op Freek
Bezuidenhout toesak. Ongelukkig kon
ek nog nie die presiese plaas, “Zeekoegat,” vind, waar die Labuschagnes
blykbaar langs Freek Bezuidenhout sou gewoon het nie. Baie naby Freek se ou
plaas loop wel die “Zeekoerivier,” maar die huidige plaasname langs hierdie
onbeduidende klein stroompie bied geen leidraad nie. In alle waarskynlikheid het
die vroeë inwoners hulle plase ongeregistreerde name gegee, wat òf later deur
nuwe eienaars verander was, òf eenvoudig nuut geregistreer was toe die
lenignsplase meer formeel opgeteken was deur die naderkruipende Britse
burokrasie. Aangesien die
soeke na Zeekoegat aan die Baviaansrivier na bewering te riskant was weens die
nat paaie, het ek langs die pad besluit om maar liewer na Van der Lindeskraal te
mik. Van der Lindeskraal was eintlik ‘n Pieterse plaas wat behoort het aan
Johannes Theodorus Pietersen (1785-1836) x Anna Maria Bezuidenhout. Johannes
Theodorus was weer die seun van Bartel Pietersen en Anna Christina Minne. Bartel
was ‘n Deense matroos wie se skip aan die Kaapse kus gestrand het, en wie toe
deur goewerneur Simon van der Stel verlof gegee as om fortuin te gaan soek waar
hy dit ookal kon vind. Of Bartel nog geleef het teen die tyd dat sy seun Van der
Lindeskraal bewoon het, is te betwyfel, maar dit kan ook nie summier aangeneem
word nie. Na afloop van
die aaklige gebeure rondom die Slagtersnek opstand, het Leonardus Petrus op 3
Februarie 1811 getrou met Magteld Margaretha van der Merwe. Presies wie sy was,
weet ons nie, want sy verskyn maar in ‘n enkele huweliksinskrywing, en ek kon
nog nooit enige verdere gegewens omtrent haar opspoor nie. Sy moes egter vroeg
gesterf het, want kort daarna trou Leonardus Petrus met Margarita Pieterse, ‘n
dogters van Van der Lindeskraal. Sy kon moontlik ook redelik vroeg gesterf het,
want in 1815 of 1827 hetroud hy weer met haar suster, Anna Wilhelmina Christina
Pieterse. Dit is heel waarskynlik dat die Labuschagnes en die Pieterse mekaar
gereeld by nagmaal sou gesien het wanneer boere van heinde en verre die
Baviaansriviervallei ingetrek het om by die ou Glen Lynden kerkie geestelike
versterking te soek. Vir die Labuschagnes was so ‘n nagmaal trek niks
besonders nie, want die kerk was naby hulle plaas. Vir die Pieterses was dit
egter ‘n baie langer trek, wat sonder twyfel, besonders rof en stowwerig sou
gewees het. Van der
Lindeskraal moes destyds reeds ‘n spog-plaas gewees het. Die Visrivier gebied
het oor groot dele nie juis merkwaardige goeie grond nie, maar Van der
Lindeskraal lê in ‘n rivier-bog wat besonderse mooi diep, ryk rooi alluviale
grond bevat. Dit kon ek reeds by vorige geleenthede op landkaarte aflei. Hierdie
keer het ek gehoop om darem met my eie oë die feit te kan bevestig. Sonder
akkurate kaarte het ek maar gehoop om met geduld en geluk hopelik die regte pad
te kan vind, en ek het my voorgeneem om die eerste en die beste wat wat regs
afdraai te neem. Die eerste afdraaopad het inderdaad redelik droog en netjies
gelyk, en ek het vol selfvertroue afgedraai. Soos meeste plattelandse paaie is
dit egter misleidend. Die eerste paar kilometer lyk alles mooi, maar dan vernou
die pad tot ‘n enkelspoorwydte op verskeie plekke, en as jy jou weer kan kry,
dan moet jy woes uitswaai vir klippe, gate en modderpotte. My rigting het darem
reg gevoel, dus het ek besluit om voort te gaan tot ek nie meer anders kon nie.
Ek het darem so bietjie tyd gehad. Na etlike
kilometers kom ek op twee boere bakkies af by ‘n stoor waar ‘n klompie
werkers besig was om hooi-bale te stapel. Ek besluit net daar en dan om die
teuels in te trek en eers rigting te loop vra. Van ver af kon ek sien hoe meet
die boere my verfoeilike GP nommerplaat, en ek lees sommer op ‘n afstand die
wantroue in hulle gedagtes. Ek kon my omtrent indink wat die boere sit en raai:
“Hier kom seker nou een van daardie verdomde ANC grondeise prokereurs wat vir
ons kom moeilikheid maak…” Ek stop in
‘n wolk van stof, draai die vensters oop, haal die sonbril af om minder na
‘n skurk te lyk, en kom nadergestap met ‘n vrome gesig. Ek, wat self ‘n
boer was, probeer my beste boere-glimlag ten toon stel, maar ek weet al klaar
dat my wit gelaatskleur en netjiese klere my klaar laat uitstaan soos ‘n
neon-pink verkleurmannetjie op ‘n groen boomvaring. “Môre, môre!”
probeer ek, terwyl ek my sagte kantoor-handpalm vriendelik uitsteek. “Ek is
Herman Labuschagne. Ek wonder of julle my kan help. Ek is is ‘n
familiegeskiedenis navorser en ek probeer ‘n plaas met die naam Van der
Lindeskraal vind waar my voorouers gewoon het voor die Groot Trek.” “Willem
Marais,” antwoord die jong boer. “Dan moet jy met dié man praat,” sê hy,
terwyl hy na die groot man in die dubbelkajuit bakkie beduie. “Hy weet álles
in die distrik.” Die ander
meneer stel homself ook bekend en beluister my storie so met een oog half-toe,
terwyl ek die gevoel kry dat hy my nog steeds so bietjie aansien vir ‘n
grondeisespioen. Maar ek druk braaf voort en hoop om die wantroue met boere
clichés dood te versmoor. Uiteindelik laat val ek dat die plek wat ek soek
langs die plase Kanaän, Erfdeel en Paradys is. “O-o-o-o-ja-a-a,”
sê Willem. “Nou weet ek wat jy soek. My broer boer op Kanaän, en Van der
Lindeskraal is daar naby. Dit behoort aan Michael Vermaak.” Ek knik my
kop. Van Michael het ek al gehoor, maar ek had my nommer vir hom verloor. Nou
word ek egter ingelig dat ek nie op die regte pad is nie. “Nee kyk, jy
moet nou omdraai,” sê die groot man in die wit dubbelkajuit. “Ry nou weer
t’rug grootpad toe soos jy gekom het, want jou kar gaan dit nooit hier deur
maak nie. Hier lyk dit nog orraait, maar daar voor word dit lelik. Dan ry jy nou
so daar by Daggaboersnek af, tot jy sulke groot wit pilare kry.” “Is dit nou
by De Klerksdal?” vra ek, want ek was al daar gewees. Dis waar die vriendelike
Gideon de Klerk woon, wat my verlede jaar so mooi gehelp het. “Ja,
netso,” sê Willem. “Nou daar draai jy regs. Jy sal sien, dis ‘n grondpad.
Nou hou jy met hom net re-e-e-guit aan. Die pad gaan later oor ‘n brug, maar
jy hou net regs. Dan sal jy sien jy kom by ‘n vreeslike mooi plek so aan die
voet van die berge. My broer is daar en ek gaan hom nou bel en sê jy kom. En
dan kan hy jou miskien sommer met sy fô-baai-fô plekke gaan wys waar jy nie
met jou kar sal kan kom nie.” Tevrede dat
die onheilspellende vreemdeling met sy GP nommerplaat darem nou weet hoe om sy
pad weer uit die vallei uit te kry, groet die groot boer in sy wit bakkie, en
verdwyn in ‘n stofwolk om die draai. Ek vra nog verder uit omtrent die
pad-aanwysings, en Willem vertel my meer. Sy broer het Klein Kaanaan gekoop
nadat dit erg verwaarloos was. Hy het baie werk in die plaas gesit, en het
persimmon boorde aangelê. “Nou,” sê
Willem, “is die plaas ‘n juweel vir die streek.” “Persimmons,”
sê ek, “dis vir my ‘n simpele vrug. Dit proe so iets soos ‘n laf tamatie
wat pap geword het. Ek het ‘n vriendin wat vir ‘n Jood gewerk het naby
Swellendam en Bonnievale en sy sê as jy die goed kunsmatig ryp maak, dan word
dit ‘n heerlike lekkerny en ‘n peperduur uitvoerproduk.” Willem stoot
sy blou pet agteroor, en lek oor sy lippe, en ek kan sien die bottel se prop
skiet los. Ja, hy weet van die Jood, en dit wil voorkom asof sy broer ook iets
met die konneksie te doen het. Skielik besef ek dat die GP spioen nou as vriend
aanvaar word, en die ys smelt oor die Karoo bossies. Ek en Willem Marais staan
daar en gesels vir byna twee uure lank. Die gesprek gaan oor familie, oor die
“goeie ou dae,” oor die foute wat ons pa’s en oupa’s in ons opinie
gemaak het in hul pogings om toe te sien dat hulle nageslagte finansieël
onafhanklik die wêreld ingestuur kan word, en toe kerm ons oor grondeise,
politiek en arbeidsonrus. Ons praat presies dieselfde taal, en nes die vorige
jaar met Gideon de Klerk, voel dit na 20 minuute of ons al jare lank buure kon
gewees het. Ek vra nog uit omtrent die voor-Groot Trek se plase, en Willem
beduie dat ek vir ‘n Tannie Pieterse moet gaan opsoek. “Voor jy nou
by my broer or Paradys kom, sê hy, “—dis nou voor jy oor die brug gaan,
maar nes jy oor die brug oor die rivier gaan, jy weet? Nou ja, dan kyk jy so
skerp terug, en daar sal jy ‘n bord sien met haar naam op. Daar draai jy nou
in, en dan ry jy net reguit aan vir so paar kilometer. Jy sal naderhand haar
huis sien. Dan vra jy die tannie sommer self. Daar is iewers nog grafte op ‘n
plaas en sy behoort jou meer te kan sê.” Ek maak
nota’s, skryf telefoon nommers af, en hou my stories vas wanneer Willem
kort-kort haastig na die hooimiedens toe stap om te gaan raas omdat die werkers
die bale verkeerd pak. Willem vertel my toe ‘n snaakse storie. Hy sê iemand
van sy geweste het eendag ‘n werker gehad wat so sleg was dat hy later nie
meer met hom kon saamwerk nie. Mens kan vandag in elk geval nie meer net iemand
afdank net omdat hy nutteloos-sleg is nie, dus die persoon maar besluit om vir
die kêrel ‘n werk te gee wat hom ten minste net onder sy oë uit sou hou. “Daar
oorkant,” beduie Willem, “vat hy toe die ou na die middel van sy lusernland
toe, en hy wys hom ‘n gat in die grond. ‘In dié
gat,’ sê hy toe, ‘woon ‘n muis. Ek wil hê jy moet nou hier sit met
hierdie hamer en wag, en as die muis uitkom, dan slaan jy hom dood. Verstaan jy
vir my?’” Blykbaar het
die stomme kêrel uure lank in die son gesit en wag vir die muis met die hamer
in sy hand, en toe besluit die lewe bied beter geleenthede op ander plekke. Vies
het hy huis-toe gestap, die hamer neergesmyt en aangekondig dat die baas nou
maar sy werk kan hou, want hy het ander planne… Ek het lekker
gelag en my weereens daaraan herinner dat vandag se grensboere weer sit en
sukkel met presies dieselfde probleme as 200 jaar gelede: onveillige
woontoestande, ‘n onvriendelike regering, ‘n geregstelsel wat nie die vermoë
besit om sy landsburgers se lewens en besittings te beskerm nie, en ‘n sisteem
wat boere egter aktief vervolg wanneer hulle gereg in eie hande neem ten einde
hulleself behoorlik te beskerm. Dan ook nog verkreupelende belastings,
vervallende infrastruktuur, en ekonomiese insinking. Dit is ‘n lang lys
probleme… Toe ek en
Willem omtrent twee uure later groet, besef ek helaas te laat dat ek myself
staan en verbrand het in die Karoo son. Ek kan my al klaar voorstel hoe ek later
die velle van my gesig sal moet sit en aftrek, soos wanneer ‘n grillerige
buitelander droëwors se velle so vieserig aftrek. Maar gelukkig was dit nie so
erg nie. Ek het baie tyd gespandeer, en nou moes ek vinnig ry om in te haal. Gly-gly om die draaie, en elke nou en dan ‘n nare geskuur soos die motor se ABS remme inskop wanneer ek probeer om modderpotte en slaggate te omseil. ‘n Genealoog het nie tyd vir stadig ry op so ‘n dag nie. Dan terug op die teerpad, en ‘n klompie kilometer op teer, terwyl ek aandagtig sit en luister om te besluit of die motor nou meer of minder kraakgeluide het as vantevore. “Dieselfde,” besluit ek—net toe die wit hekke van De Klerksdal wys dat ek nou moet regs draai op ‘n nuwe grondpad. Klein Kaanaan, met die plaas Erfdeel wie se geboue links uitsteek. Om Klein
Kaanaan te vind was nie so moeilik nie. Die pad is net hier-en-daar lelik, maar
ongelukkig op so ‘n manier dat jy dit eers te laat sien en met geweld deur
elke derde beproewing moet ploeg. Ek probeer ontspan en myself herinner dat mens
jouself nie die opfoeter van wêreldsgoed te erg moet aantrek nie, maar dit gaan
maar swaar. Mens gaan by ‘n paar werklike mooi plase verby, en as jy weer sien
steek jy die enkelwydte brug oor die Visrivier met ‘n groot gejuig oor. Ek
stop en neem ‘n foto, want mens wil darem vir die nageslagte wys hoe het die
rivier gelyk wat oor-oupagrootjie se oupa moes oorsteek as hy wou gaan vry. Die
water is nog wild van die vloede en ek glimlag as ek dink dat ek nog nooit van
‘n wilde rivier gehoor het wat ‘n jongman kon keer as hy by ‘n nooi wou
gaan opsit nie… Spoedig maak my aanwysings nie meer sin nie, en ek ry so voel-voel terwyl ek probeer klarigheid soek aan die plaas-naambordjies. Uiteindelik vind ek Klein Kanaan se bordjie en draai in. Mooi plaas. Lyk nes Willem dit beskryf het, maar ongelukkig is die eienaar nie tuis nie. Ek neem maar ‘n paar foto’s en draai toe om. “Sal maar vir Tannie Pieterse gaan soek,” neem ek myself voor. Die afrdraai na Tannie Pieterse se plaas. Selfs dit,
neem ‘n bietjie konsentrasie, maar kort voor lank vind ek haar uitdraaibord,
en durf die plaaspaadjie aan. Die pad is nogal mooi, tot naby die einde waar dit
in ‘n pappery ontaard. Soms het jy net ‘n paar sekondes om te besluit of jy
jou reis net daar gaan kort-knip deur in ‘n vernederende stofwolk met
druisende ABS remme tot stilstand te kom voor jy die drek tref, en of jy maar
gaan vet gee en probeer deurploeg. Ek besluit ‘n Voortrekker-nakomeling skrik
nie om ‘n kans te vat nie en ek trap die diesel. Die motor grawe gruis en tref
die modder soos ‘n nat biefstuk op ‘n blokman se tafel meergeklap word. Sy
draai haar neus links en regs, gooi haar agterstewe rond, maar nog voor daar
enige rede vir teleurstelling ontstaan breek sy deur, en die volgende oomblik is
ek op die tante se werf. Ek stop, en
van ver af sien ek vir Moeilikheid. Ek weet nie wat is die hond se regte naam
nie, maar Moeilikheid sou ‘n goeie keuse wees. Ek gaan staan beleefd by die
hekkie en wag dat die hond se lawaai die huismense moet nader trek. Na ‘n paar
minuute kom ‘n skraal, ouerige dame te voorskyn, en sy begin met die hond
raas. “Staan net
so, laat ek hom eers gaan toemaak,” sê sy. “Dis deesdae so onveilig op die
plase. Tot die dominee weet al hy kan nie hier inkom voor ek nie die hond gaan
toemaak het nie.” “Nee, dis
reg so Tannie,” verklaar ek. “Mens kan nooit te versigtig wees vandag
nie.” ‘n Rukkie
later kom die tannie weer te voorskyn en luister my storie aan. Sy kyk my
diep-aandagtig, so asof sy probeer besluit of ek pas uit die tronk ontsnap het,
en of ek maar net ‘n armsalige drommel is wat ‘n varkie vermis. Een van
daardie treurige mense wat mens liefs met Bybelse deernis moet probeer ontvang.
Genadiglik besluit sy blykbaar op laasgenoemde opsie en nooi my in. “Kom, ek
maak eers vir ons iets om te drink,” sê sy. “Drink jy koffie of tee?” Ek glimlag.
Dis die Boere-gasvryheid wat ek ken. Eintlik verkies ek tee, maar by boere-mense
is dit altyd veiliger om koffie te kies, en ek dui my keuse so aan. “Swart en
bitter, soos die siel van Afrika.” Die tannie vang nie die grappie nie, maar
sy dra die orders aan die kombuis oor, en kom dan langs my sit. “Gee jy om
as ek rook?” vra sy. “Ek kry die goed nie gelos nie. Nou-die-dag, toe sien
die dominee my rook, en toe sê hy vir my, ‘ag wat Tannie, as dit jou plesier
gee, ROOK maar!” Ek glimlag
weer en maak my leêrs oop terwyl ek liefs niks sê oor my filosofie dat die
enigste ding waarvoor sigarette goed is, is om tabak-tee van te trek waarmee jy
gogga’s op jou groente kan doodspuit nie. Ek verduidelik
dat my oer-oupagrootjie met ‘n Pieterse getroud was van die omgewing, en dat
ek nou hulle voetspore probeer navolg. Die tannie sit agteroor en dink so
bietjie terwyl sy aan haar sigaret suig. “Ja kyk, my
man se mense was Pieterses, né? Nou, ek is seker nie heeltemal die regte
persoon om jou te help nie, maar wag so bietjie. Ek gaan bietjie mense bel en
uitvind. Sit jy nou eers hier. Verskoon tog maar dat die plek so lyk. Ek trek na
my dogtertoe want dit het te onveilig hier geword. Nou is alles deurmekaar van
die inpakkery…” Ek sit en wag,
en kyk by die venster uit terwyl ek wonder hoe dit vir my voormense was om hier
te gewoon het. Ek hoor die tannie op die telefoon praat: “Jong, ek het nou
‘n man hier, en hy sê hy doen navorsing oor families en goeters. Nou, hy wil
graag weet van Pieterses…” Ek luister
geduldig terwyl die tannie ‘n opsomming gee van wat sy van my verstaan het,
maar ek kan dadelik hoor dat ons nou agter die verkeerde Pieterse aan mik. Maar
ek weet ook dat ‘n genealoog se besigheid die soek van naalde in hooimiedens
behels, en al weet ek al klaar dat hierdie besoek waarskynlik nie die verlangde
goudklont gaan oplewer nie, sal dit nogtans seker darem iets positief oplewer.
Dit was ook so. Na ek nog name en telefoon nommers afskryf en my koffie beleefd
drink, bekom ek darem aanwysing oor hoe om by die grafte uit te kom. Jy gaan
weer links in die grootpad, dan draai jy regs by die brug, gaan die bultjie uit,
en dan sal jy later ‘n afdraai aan die een kant kry, so naby waar daar ‘n ou
skooltjie was. En dis waar die grafte is. Ek bedank hartlik en opreg. Diep
dankbaar vir die ouwêreldse gasvryheid en hartlikheid wat ek so hoop ons
volksgenote darem minstens vir nog een geslag sal kan vashou voor dit ook
uitsterf. Dit is goeie mense hierdie, besef ek toe ek wegry en weer mik om deur
die modderpoel te ploeg. Sout van die aarde. Die motor klief die modder, en
skeur die gemors oop soos die walle water van die Rooi See toe die Israeliete
deurgemasjeer het. Net baie vinniger. En ek het nog iets om oor dankbaar te
wees—dat ek nie verleë moes terugstap om ‘n trekker te loop vra om my uit
te sleep nie. Om die grafte
te vind sou ‘n avontuur van soorte word. Laat ons maar net sê dat ek moontlik
die tannie se aanwysings in totaliteit heeltemal verkeerd verstaan het. Of
miskien het die tannie te veel staat gemaak op my nugtere redeneringsvermoë en
bekendheid met die terrein. Die punt is dat ek toe ‘n baie lang tyd spandeer
om heen en weer te ry op grondpaaie wat skielik heelwat leliker geword het, en
wat blykbaar almal behep daarmee is om na etlike kilometers die verkeerde
rigting in te draai. My eerste poging eindig in ‘n tweespoor paadjie wat oor
‘n treinsoor loop op ‘n plek waar ek geen hoop het om met my lae GP motor
oor te kom nie. Ek kan nie onthou of ek toe gevloek het nie, maar die kanse was
goed. Nie hardop nie, want ek is nie so grootgemaak nie. Maar miskien darem so
effens binnemonds, want perfek is ek ook nog nie. Toe maar omdraai en weer
probeer. Ek stop op verskeie plekke en vra plaaslike voetgangers. Hulle beduie
noord, oos, wes, suid—omtrent die hele wêreld vol, en almal skep die indruk
dat ek sommer baie naby is. Uiteindelik raak ek regtig geïrriteerd en
ongeduldig en sien al klaar hoe ek ‘n hele halwe dag se tyd kom mors het. Ek
ry al hoe vinniger en vinniger, en elke klip wat ek tref, laat my wonder of die
nuwe bande wat ek opgesit het, die beproewing gaan deurstaan. Skielik wens ek
myself geluk dat ek van daardie nuwes opgesit het, wat die vervaardiger beloof
om te vervang as hulle binne ‘n sekere tyd verwoes raak om enige rede op
aarde, oorlog en massa-aksie uitgesluit. Dit was omtrent R100 meer, maar dit
voel vir my soos ‘n winskopie onder die omstandighede. Die bande hou egter.
Dis net die onderstel wat keer op keer bly deurstamp en my laat wens dat ek
liewer nog in ‘n goeie, stemmige boere Hilux bakkie gekom het. Ek stop by nog
‘n ou siel, wat my vrolik beduie ek moet berg-op gaan. Heeltemal anders as wat
ek verwag het. Ek ry. Eintlik jaag, want die son tuimel al verkeerde kant toe.
En die pad word al hoe kleiner en nouer en leliker. Uitendelik is dit net ‘n
tweespoor plaaspad wat tussen die doringbome inkronkel. By ‘n melkery lê daar
‘n bank kraalmis wat oor die pad gespoel het, en die lorriespore daardeur is
so diep, kan kan van ver af sien dit is dieper as wat my wiele hoog is. “De
hel daarmee,” dink ek weer in ‘n breukdeel van ‘n sekonde terwyl ek die
huiwering tersyde vee. “Hier gaan ek deur al moet ek onder deur die spul
ploeg.” Die volgende
oomblik is ek in die mis, en seil-seil so half onderdeur, half bo-oor. Ek
luister en sug verlig toe ek hoor die uitlaatpyp is nog vas. Van hier af ry
ek maar so vra-vra, totdat ‘n bediende by ‘n verlate plaashuis my
uiteindelik inlig dat ek moet omdraai want ek het nou te ver gegaan. Na ‘n
lang gesukkel kom ek by ‘n dame uit wat sê haar man is nie nou tuis nie, maar
ek kan agter daardie wit Venture aanry, want die mense gaan ook nou grafte toe.
Ek kon my geluk omtrent nie glo nie. Uiteindelik het ek nie net die grafte
gevind nie, maar selfs iemand gekry om soontoe te volg! Ek spring dus dadelik in
en sit die wit Venture agterna voordat dit my dalk kan ontglip en weer oorlaat
aan die genade van misdrifsels en wel-menende aanwysings wat my dalk nog in
Koekenaap sal uitbring voor die son onder is. Die kerkhof
was ook nie baie verder nie. Jy ry so skraap-skraap oor ‘n groot wal, en
sukkel dan ‘n entjie ondertoe na waar ‘n klompie bome ‘n vierkant maak.
Dis ‘n groterige begraafplaas vir ‘n plaas. Ek merk dat die familie in die
wit Venture reeds by ‘n graf doenig is met blomme, en voel half soos ‘n
skurk om op hul oomblik van privaatheid inbreuk te maak. Ek knik egter beleefd,
en loop so bietjie rond. In die verste hoek merk ek dat dit ‘n baie bedroefde
geleentheid vir die familie is, en die dame ween bitterlik by ‘n vars hopie
grond, terwyl sy blomme in ‘n vaas rangskik. Met dié voel ek toe baie gemeen
om met ‘n kamera tussen grafte te moet rondloop, en ek stap nader om te sober
te gaan kennis maak. Ek verduidelik dat ek hier is om die grafte te kom
fotografeer om genealogiese redes, maar ek is heeltemal bereid om eers ‘n
ander draai te gaan ry, en later weer terug te kom. Die familie groet my egter
heel vriendelik, en die man verduidelik dat dit vandag presies ‘n jaar gelede
is dat hulle dogter deur ‘n dronk vent in Johannesburg gedood is in ‘n motor
ongeluk. Dit is haar onopgemaakte graf wat hulle kom beween het. So iets laat
mens altyd ‘n bietjie van ‘n knop in jou keel wegsluk. Om te sê hoe jammer
jy is om sulke nuus te verneem klink altyd so lamlendig, maar mens hoop maar dat
die mense darem kan aflei dat daar werklik simpatie is—al is ons vreemdelinge
vir mekaar. Die man vertel my dat hy in die geweste grootgeword het, en dat hy betrokke was by die ontwikkeling van die Visrivier se besproeiingsbedrywighede. Ek het nie ‘n naam gevra nie, maar ek vermoed dat hulle moontlik verwant aan die Vosloos kon gewees het. In ieder geval, hulle vra toe dat ek asseblief moet voortgaan om foto’s te neem, want hulle sal nie lank bly nie. Ons groet broederlik en inniglik, en ek verskoon my om my met fotografie te gaan bemoei terwyl die bedroefde ouers hul eer betoon aan die herinnering van hulle 21-jarige dogter. So in die afnemery dink ek weer dat dit nou net mooi bewys wat ek so baie kere dink: agter die steriele name en datums en feite op geslagsregisters, skuil ‘n wêreld van lag en vreugde, verdriet en verlore liefde. Elke grafsteen getuig van die lewe van ‘n geliefde wat eens op ‘n tyd geliefd was, en by sy of haar heengaan, meestal met diepe droefheid beween was. Dit is ‘n aangrypende oomblik om so iets weer vars te moet beleef. Ek voltooi die
fotografiese sessie betreklik vinnig, en sukkel-sukkel maar so om my nuwe
digitale kamera behoorlik te leer gebruik. Baie van die grafstene is van daardie
vreeslike blink graniet, en in die skaduwee van die bome weet ek al klaar dat
mens die foto’s later baie moeilik gaan lees. Dit was ook presies die geval
toe ek later die foto’s aanskou het. Ongelukkig het ‘n paar grafte geen
inskripsie op nie, en die baie ou grafte wat daar was, se stene ontbreek
meestal. 'n Transkripsie van al die leesbare grafstene, plus foto's, is hier
te sien. Die begraafplaas is in betreklike goeie toestand, maar dit is vir my
nogtans ‘n groot teleurstelling. Ek het werklik gehoop om Pieterses of
Labuschagnes daar raak te loop, wat dalk my Pieterse/Labuschagne verbintenis kon
help toelig. Die kans is seker goed dat daar van hulle mog wees, maar by gebrek
aan enige stene en inskripsies het die hele besoek my net mooi niks nie. Die
meer moderne Pieterses, so het die egpaar by die vars graf my verduidelik, woon
al baie lank in die omgewing, maar hulle is natuurlik uit ‘n baie meer
onlangse geslag, en dateer beslis nie uit die voor-Groot Trek era nie. Ek neem
die kerkhof se stene maar af vir die Nasionale Begrafnisprojek, en troos my
daaraan dat van die informasie dalk meer van waarde mag wees vir sommige van my
ander genealogiese vriende. En ook dat die fotografering van die grafte, hopelik
‘n laaste verwysingsbron kan word indien verdere grafstene met verloop van tyd
verweer of vernietig word. Teen hierdie tyd akuut bewus van die verloop van tyd, moes ek vinnig op pak en weer in die pad val. My volgende oogmerk was om te gaan soek na die plaas Van der Lindeskraal, waar my Labuschagne voorvader, Leonardus Petrus, sy twee Pieterse vrouens gaan haal het. So vinnig as wat die pad my toelaat, beur ek weer terug met die pad soos ek gekom het. By die T-aansluiting is ‘n groot tipe van ‘n fabriek op linkerkant, en die ou jong wat ek daar gevra het, het vir my mooi beduie: “Draai nou hier links (noord), en ry aan op die Witmos pad totdat jy die groot naambord sien op jou regterkant.” Ek mik soontoe, en vir een maal kan ek begin sien hoe die aanwysings en die topografie ooreenstem. Die eerste plaas op regterkant is Paradys van Schalk Vermaak. Daarna kom die Klipfontein spoorweghaltetjie, nou vervalle en verlate, maar karaktervol en mooi vir die oog van ‘n fotograaf. Paradys van Schalk Vermaak--Geleë langs die Groot Visrivier. Nee veel verder nie, kom die grondpad en die spoorlyn bymekaar uit op ‘n plek waar die Groot Visrivier ‘n draai maak wat reg in die berge insny. Hierlangs is die pad aan die berhang uitgegrawe, terwyl die spoorlyn self met ‘n sierlike brug oor die draai van die rivier sny. En net na die draai verkondig ‘n stel imposante hekke met trots: “Michael Vermaak. Van der Lindeskraal.” Ek draai vrypostig af en ry deur. Onmiddelik kan ek sien dat dit die regte plek is, want hier lê die plaas lewensgroot soos ‘n groot rooi vinger van voorspoed in die vriendelike elmboog van die Visrivier. Die plaaspad is rond-geskraap en ‘n plesier om op te ry. Sonder buig of draai loop dit reguit na ‘n netjiese werf waar ‘n moderne huis waghou oor ‘n kompleks skuure waar blink-skoon plaasimpilmente en bottel-groen John Deere trekkers in die son staan en blink. Dit is altyd ‘n plesier om ‘n netjiese plaaswerf aan te tref, waar dit lyk of net kan goed gaan. Rondom die opstal pryk die diep rooi grond van landerye in alle rigtings, netjies gedis sodat die rye parallel lê soos kam-strepe in die olie-deurweekte hare van Ducktail. Van der
Lindeskraal se Plaasingang Ek stop so
‘n diskrete afstand van die Lexus wat in die garage pryk, en nader die
agterdeur (wat blykbaar ook diens doen as voordeur). ‘n Klein seuntjie onder
‘n afdak is besig om te speel met een of ander troetelder in ‘n kampie. Ek
kan my nie nou onmiddelik herinner of dit ‘n eend of ‘n makou of dalk ‘n
hond was nie. Brein-gaping… By die agterdeur word ek vriendelik ontvang deur
‘n persoon wat voorkom asof hy dalk die plaasbestuurder kan wees. Hy beduie
dat Michael Vermaak—wat ek nog nooit suksesvol kon kontak nie—nie op die
oomblik daar is nie, maar sy vrou sal nou-nou hier wees. Ek kan gerus vir haar
wag. Ek sien die man is besig met ‘n middagete van brood en stroop, en ek bied
aan om buite te gaan staan en wag. Tien minuute later daag ‘n jongerige dame op en vra hoe sy kan help. Ek verduidelik dat my oor-oor-oor oupagrootjie op hierdieselfde plaas gewoon het, en dat ek vreeslik graag wil kom hoor of hier dalk nog bouvalle van ‘n ou postal, of dalk grafte kon wees, wat dalk uit die Groot Trek era sou dateer. Sy dink so bietjie na en skud haar kop. Nee wat, vertel sy my, die ou opstal is net daar anderkant die skuure, maar selfs op ‘n afstand kan ek sien die huis lyk nie baie oud nie. En van enige grafte weet sy niks nie. Sy stel voor dat ek maar alter vir Michael moet bel en vra of hy dalk iets weet. So tussen die landerye deur kan ek sien dat meeste van die oppervlakte van Van der Lindeskraal se land-tong, van hoek tot kant reeds bewerk is, en ek kan sien dat die kans van enige argeologiese oorblyfsels van my voorvaders see teenwoordigheid, ‘n skrale hoop moet wees. Half teleurgesteld, knik ek maar die hoof, en bied ‘n bedanking aan vir die oudiënsie. Na twee of drie jaar se gesoek kon ek darem vir eens Van der Lindeskraal vir myself sien. Ek het geweet dat die droom van grafstene met die name van my voorvaders, en ou klip-muure waar hulle moontlik kon gewoon het, maar ‘n skrale hoop was. Met foto’s van Van der Lindeskraal sal ek maar tevrede moet wees. Van der Lindeskraal lê
weerskante van die netjiese grondpad, maar met 'n effense geronde rug, sodat
mens nie eintlik in een oogopslag enige panoramiese uitsig oor die plaas kan kry
nie. Met die terugry bewonder ek weer die netheid en goeie indruk wat die plaas skep. Op so ‘n mooi leningsplaas, hoop ek, kon die Pieterses en hul Labuschagne skoonseun, dalk vooruitstrewend geraak het. Maar mens weet ook nooit. Dit is diep, ryk alluviale grond, maar die rivierbog se rug is hoog, en ek twyfel of die oumense leiwater uit die rivier sou kon bekom. Miskien was hulle nie eers werklik ernstige saaiboere nie. Wie weet? In elk geval, vooruitgang in boerdery hang van meer af as net goeie grond en ‘n vriendelike reënbui op sy tyd. Die Pieterse testament se inventaris gee maar ‘n relatiewe diskrete lys bates op, dus mag dit wees dat die alewige geroof en plunder of die Oosgrens in elk geval die vooruitgang van ook hierdie familie bederf het. Met die terugry stop ek om ‘n paar foto’s te neem, en ek glimlag heimlik as ek dink hoe ek die foto’s met Gerda Pieterse—my mede-belangstellende genealoog in hierdie plaas—sal kan deel. Die netjiese landerye van
Van der Lindeskraal. Die Groot Visrivier kronkel aan die voet van die berg in
die verte, netjies om die plaas. Met die lange
ambisie van ‘n besoek aan Van der Lindeskraal uiteindelik vervul, draai ek die
motor se neus suidwaats en trap die diesel. Dit raak-raak so aan die verkeerde
kant van middagete, en ek besef dat as ek vinnig maak, mag ek dalk nog ‘n
besoek of twee iewers kan inruim. Die volgende stap, dus, is Somerset-Oos. Met
‘n gebruil en ‘n wolk van stof, wik ek om die groot vragmotors wat die paaie
snuif trap, hoog gelaai met lifelike ronde lusernbale. So, na gruime tyd, tref
ek weer die teerpad by De Klerksdal, en raak die gekraak en gekletter van
grondpaaie vir eers iets van die verlede. Innig jammer
omdat ek nie tyd het om gou eers vir Gideon de Klerk en sy hartlike familie te
gaan groet nie, brul ek tot by Cookhouse, waar die pad weswaarts aftak na
Somerset-Oos. Dit is naby die plek waar die Slagtersnek rebelle opgehang was, en
ek trek kortstondiglik weer my mus van wrewel aan om te dink hoe die Britse
owerhede die stomme mense sommer twee maal gaan hang het. Maar dit is dinge van
die verlede, en die pad na Somerset-Oos wink vrolik aan. ‘n
Soeke in Somerset-Oos Somerset-Oos
is ‘n mooi dorpie, geleë aan die voet van die Bosberg, byna 1200 km sedert ek
Johannesburg verlaat het. Hier kry die dorp ortografiese reën, wat die Karoo
koel, lowerryk en vriendelik daar laat uitsien. Ek besluit om hierdie keer nie
weer tot skemer te wag voor ek akkommodasie soek nie, maar die Archer gastehuis
waar ek die vorige jaar gebly het, is ongelukkig vol. Ek besluit om maar eers
‘n draai by die dorp se museum te gaan maak. Die museum word gehuisves in ‘n
indrukwekkende ou herehuis aan die voet van die berg, so entjie van die
middedorp af. Die lang gras in die grasperk getuig van baie reën, maar die
parklandskap van ‘n tuin is weelderig en oordek met blomme. Langs ‘n groen
dam sit ‘n groepie toeriste en piekniek hou, en hulle kyk my nuuskierig aan
terwyl ek voordeur toe stap. Ek mis die voordeurklokkie en moet naderhand agter
by die kombuisvenster gaan aandag trek. ‘n Korterige dame maak die deur oop en
nooi my vriendelik binne. “Wat bring
jou hier na ons dorp toe?” word ek gevra. Ek glimlag en
probeer skadeloos voorkom, terwyl ek nogmaals geduldig verduidelik dat my
oor-oor oupagrootjie se geboorteplek as “Somerset-Oos” opgegee word, en dat
ek sy voetspore kom soek het. “O, dan moet
jy met ons kurator praat,” sê sy. “Hier kom gedurig mense soos jy aan, en
ons het baie goed om hulle mee te help.” Sy lei my
plegtig na die kurator se kantoor en laat my sit. Ek word koffie en tee
aangebied, maar ek wys dit vriendelik van die hand. Die dame verdwyn in die gang
af terwyl sy roep: “Emile! Emi-i-i-ile! Hier is ‘n meneer wat met jou wil
praat oor familiegeskiedenisse!” Ek sit ‘n
rukkie lank in stilte, tot ‘n groterige besoeker met ‘n kort broek ingestap
kom. Hy kom vra belangstellend na die rede van my besoek, en toe ek hom inlig
word ek plegtig gewaarsku dat mens versigtig moet wees om te diep te krap.
Netnou, sê die besoeker, kry ek swartes in my voorgeslagte, en sulke goed wil
‘n mens tog nie van weet nie. Ek knik die hoof vol erns terwyl ek my glimlag
moet wegsluk oor die stukkie ou Suid-Afrika wat so braaf hier voor my staan. “Toemaar,”
antwoord ek, “genealoë is gewoond aan sulke ontdekkings. Daarmee moet mens
maar vrede maak. Ons kan ongelukkig nie ons voorgeslagte self uitsoek nie.” Die omie maak
later verskoning, en vertrek weer op sy weg. Die vriendelike museum-dame kom in
en verduidelik dat die omie maar nog so bietjie rassisties ek. “Ag wat,”
sê ek, “eerder dit as wat mens skynheilig is oor wat jy werklik voel.” Emile Els is
die kurator se naam. Baie vriendelik jong man wat dadelik vra waar ek beplan om
tuis te gaan. Ek antwoord dat ek ‘n plek soek waar daar stilte en veilige
parkering is. Hy dink so bietjie aan en bied toe die dorp se natuurresservaat
aan. “Dis baie
nice,” sê hy. “Jy sal daarvan hou.” Met dié
skakel hy sommer ook en vra of daar plek is. Daar is glo nog een hut beskikbaar,
en hy vra die beampte om dit vir my uit te hou. Ietwat oorbluf oor die
vriendelikheid bedank ek vir die behulpsame gebaar en bied aan om maar gou te
gaan in-bespreek terwyl dit nog vir my uitgehou is. Emile sê hy het baie goed
wat ek kan deurwerk, en hy sal dit vir my regsit wanneer ek terugkom. Ek vertrek toe
met die nodige spoed en vind die grondpaadjie wat langs die berhang uitwentel,
verby die gholfbaan (wat glo spog dat dit een van die mooiste in die land is),
en toe in ‘n stukkie woud in wat netsowel in Knysna kon gewees
het—geelhoutbome en al. Ek kon sien dit is tipiese ou-parkeraad standaard,
maar ek het vir navorsing gekom, en sonder om te gaan kyk, bespreek ek solank.
Ek moet R200 deposito vir moontlike toekomstige breekskade betaal, en wou my
eers daaroor wip, toe ek maar besluit om hoflik en instemmig te wees. Die
beampte belowe dat hulle die geld onmiddelik sal terugbetaal, selfs al vertrek
ek 04:00 die oggend. Ek haas my
hierna weer terug na die museum, waar ‘n hele reeks bokse al reeds op die
eetkamertafel uitgepak is. Die vriendelike dame dra vir my tee en varsgebakte
soetkoekies met rosyne aan—dieselfde koekies wat hulle ook te koop aanbied. By
hierdie tyd is ek al meer honger as nuuskierig, en dit word met groot waardering
aanvaar. Terwyl ek my nog so verstom dat ek by die museum-tafel tussen al die
kosbare breekware mog sit en navorsing doen, kom sit die dame langs my. “Ag jong, ek
het niks anders om te doen na werk nie. Kom ek help jou sommer bietjie. Na wie sê
jy soek jy hierso?” Half verbaas
mompel ek: “Labuschagnes, Pieterses of Pietersens, een Van der Merwe dame, en miskien ook Potgieters. O, en ‘n
Bester ook, maar hy is nie so belangrik nie.” Sy skud haar
reg en skuif ‘n doos nader. Dit is die dorp se begraafplaasregister en
nuweliksregisters, wat deur ‘n vriendelike vrywilliger in duisende
indeks-kaartjies gekataloguseer is. Dit is nie eintlik die tipe rekords wat ek
in gedagte gehad het nie, maar gedagtig daaraan dat dit in elk geval nut mag
inhou, val ek gulsig weg, notaboek in die hand. Na ‘n lange
gesoek was daar eintlik verbasend min om op te teken. Op die ou end is die
nuttigste rekords wat ek kon uithaal, bloot die volgende: Begraafplaasregister: 66. JHM
Labuschagne (nota lees: “vermoedelik”) bl. 56 – L5 – no 34. Huweliksregisters: Anna Francina
Labuschagne x 1881 Cornelius Francois De Lange Verder is daar
niks nie, en van die Pieterse inskrywings kon ek duidelik sien dat hierdie nie
“onse mense” is, soos my ma graag sê nie. Wilde Kans op die
Ingewing van die Oomblik: Brakfontein
Teen hiedie
uur was dit al na toemaaktyd, en hoewel ek seker nog maklik ‘n uur daar kon
gesit en snuffel het, was die rekords basies deurgewerk en my taak dus volbring.
Op die ingewing van die oomblik skat ek die hoeveelheid daglig wat nog oor is en
besluit om ‘n wilde kans te waag. My ou Leonardus Petrus Labuschagne het
volgens die Pieterse boedel, die helfte van ‘n plaas Brakfontein van sy
skoonvader gekoop. Die ander helfte het aan die Bester behoort waarna ek graag
sou wou soek. Op hierdie plaas is Adriaan Labuschagne gebore, my voorvader
Leonardus Petrus se 18-jarige jonger broertjie, wat saam met hom by die
Slagtersnek opstand betrokke was. Al wat ek weet is dat hy tydens die verhoor
aangedui het dat hy op sy vader se plaas “Brakrivier aan de Vischrivier”
gebore was. Ek het
wel geweet dat daar aldus die plaaslike boere, baie “Brakfonteine” in die
omgewing was, maar op die padkaart kon ek ‘n Brakfontein sien wat langs die
Klein Visrivier geleë was. Ek het gewonder of die verwysing moontlik na hierdie
plaas kon verwys, en het besluit om die moontlikheid te gaan ondersoek. Toe die
museum-dame van my plan hoor wou sy my onmiddelik daarvan afraai. Nee wat, het
sy beswaar gemaak, dis ‘n baie slegte pad daardie, dit loop langs die lokasie
verby, en dit word nou-nou donker. Ek het maar
voorgegee dat die raad aanneemlik was, maar het onmiddelik suidwaarts gedraai om
hierdie naald in die hooimied te gaan opsoek. Die pad was eintlik glad nie so
vrot sleg nie, en op ‘n stadium was hy selfs vars geskraap, dus kon ek daaroor
nie kla nie. Die lokasie was ook nie ‘n bedreiging nie, en benewens dit was
dit half ‘n plesier om oor die groot plat vlaktes van die Karoo te kan skeer.
Ver suid het Grahamstad gelê, en my rigting was daarheen. Vinniger as wat ek
verwag het, het ek uiteindelik by ‘n plaasbordjie uitgekom wat
“Brakfontein” lees. “Nog ‘n
gruwelike plaaspad,” het ek innerlik gesug, en uitgeklim om die geroesde hek
oop te maak. Die geskraapte pad het spoedig versleg sodat ek moes vleg tussen
klippe en modder-potte deur. Op een plek moes ek so voel-voel aan die een kant
van ‘n modder dam deurry, en gehoop ek val nie daar vas nie, want hier—het
dit vir my gevoel—is geen lewe in die omgewing nie. Alles was stil en verlate.
Na ‘n tyd het die pad egter na ‘n eensame plaashuis gelei, ‘n weerbarstige
gebaar geplant in ‘n klein groen oasis van ‘n tuin en pasgemaak op ‘n
groot vaal vlakte. Van hek tot hek het ek gevorder en toe voor die tuinhekkie
stilgehou. Onmiddelik word jy bestorm deur ‘n bende vriendelike honde. Die ou
grote was so ‘n ou langneus teef met geel oë wat my herinner het aan ‘n ou
tante wat ek jare gelede geken het. By die huis was daar egter geen verdere
teken van lewe nie, maar net toe ek wou ry, toe kom ‘n ou jong aangeloop. Met
‘n glimlag vol lang geel tande wat enige tandarts ‘n visioen van kreatiewe
rekonstruksiemoontlikhede sou besorg, het hy beduie dat die baas “by die
beeste is daar annerkant.” Ek vra toe maar uit oor grafte, en hy knik sy kop. Hy wys weer |