|
|
|
|
Dedicated to the Preservation of History |
|
Burgers Ward II Piet Retief District
| Lewensskets van Leonardus Johannes Labuschagne This section is devoted to the branch which is represented by the descendants of Leonardus Labuschagne 17 May 1826-8 Jul 1926. Since most of his descendants are still Afrikaans-speaking, most of the material presented here will be in Afrikaans. Leonardus Labuschagne ("Rooi Leendert") is op 17 Mei 1826 gebore in die Somerest-Oos distrik. Sy ouers was Leonardus Petrus Labuschagne en Anna Wilhelmina Christina Pieterse, en sy grootouers was Frans Labuschagne en Catharina van der Linde. Leonardus oupa was die tweede jongste van 'n familie van sewe kinders. Hulle het oorspronklik vanaf Paarl na die Oosgrens verhuis toe sy moeder na die afsterwe van sy vader, hertrou het met die grensboer, Jan Nel. Vir baie jare lank was die Oosgrens van die Kaapkolonie omtrent wat die Wilde Weste vir Amerika was. Die grensboere is onophoudelik geteister deur kwaadwillige buurstamme. Nie alleen was daar nog heelwat grootwild wat 'n pionier se bestaan bemoeilik het nie, maar hulle moes ook konstant in onveilige omstandighede woon. Pioniersgesinne is dikwels aangeval en vermoor, plase en huise is afgebrand, grootskaalse veediefstal het gedurig voorgekom, en 'n klimaat van groot onsekerheid was aan die orde van die dag. Hiermeesaam het die pioniers boonop die las gedra van 'n Kaapse regering wat hulle oorwegend alles behalwe goedgesind was. Teen hierdie onstuimige agtergrond het Leonardus Labuschagne grootgeword. Van jong ouderdom af sou hy aan die daaglikse gevare van die Oosgrens bloot gestel gewees het. Hy sou ongetweifeld van sy vroë jare al moes leer skiet en perd ry. Rooi Leendert se oupa Frans was in sy jonger dae vaagweg betrokke gewees by die bekende Slagtersnek-gebeure. Hoewel hy nie juis 'n aktiewe rol in die verrigtinge gespeel het nie, was hy wel by die hofsaak betrek en was hy op die ou end gelukkig om nie saam met die ander rebellel geklassifiseer te geword het nie. Die rebellie van Slagtersnek was vir die grensboere waarskynlik nie so 'n groot kwessie as wat die onreg van die teregstellings was nie. Toe die rebellieleiers opgehand is, het die toue gebreek. Tot die groot ontsteltenis en afkeur van die hele gemeenskap het die Britse owerhede eenvoudig nuwe toue laat haal en die veroordeeldes weer 'n keer laat ophang. As Rooi Leendert sy oupa nog geken het, sou hy by hom en by sy eie pa waarskynlik dikwels van die onregte van Slagtersnek gehoor het. Jong soos hy was, sou hy hy die regsvergrype van die Oos-Kaapse regeringstrukture persoonlik beleef het. Die voortdurende teistering van die grenstamme sou hom en sy familie op 'n daaglikse basis geraak het. Die minagtende wyse waarop die Britse regering die grensboere behandel het, sou selfs toe al op hom 'n indruk moes laat. Die Labuschagnes en die Potgieter familie het op daardie stadium redelik noue bande gehad. Rooi Leendert se oupa Frans, was 'n baie goeie vriend van Hermanus Potgieter, die vader van die latere trek-leier, Andries Hendrik Potgieter. Hy was ook op 'n stadium met Hermanus se suster, Cornelia Potgieter, getroud, sodat Andries Hendrik Potgieter dus Rooi Leendert se groot-oom was. Hoewel hulle nie baie naby mekaar gewoon het nie, moes daar tog dikwels genoeg kontak gewees het, en die Oos-grens se probleme sou gedurig met die Potgieters bespreek gewees het. Om die waarheid te sê, wil dit voorkom asof Rooi Leendert se familie moontlik in later jare hulle grond naby die latere Cookhouse, aan die Baviaansrivier, sou verlaat het om in die omgewing van Tarkastad te gaan woon, waar heelwat van hulle ander familielede gewoonhet. Daar sou hulle natuurlik die Potgieters op 'n baie meer gereelde grondslag gesien het. Presies hoe die Labuschagne familie die Oosgrens omstandighede beleef het, weet ons nie, maar dit blyk redelik seker dat daar min huiwering onder Rooi Leendert se familie was toe Andries Hendrik Potgieter en sy familie aangekondig het dat hulle die Kolonie gaan verlaat. Soos talle ander grensfamilies het die Labuschagnes waarskynlik ook hulle grond verkoop, of moontlik selfs net agtergelaat, hul waens gepak, en by die Eksodus aangesluit. Dit mag wees dat die Potgieters eerste vertrek het, en dat die Labuschagnes en enkele ander gesinne hulle moes haas om iewers by 'n rus-halte aan te sluit by die groter Potgieter trek. Die oorsteek van die Oranjerivier sou 'n dramatiese oomblik gewees het. Hoe die Labuschagnes dit ervaar het, weet ons nie presies nie, aangesien ons nie absoluut seker kan wees of hulle wel op daardie stadium al reeds by die Potgieter trek was nie. Dit is egter nogtans redelik waarskynlik dat hulle op daardie stadium al reeds by die uittog aangesluit het. Op die walle van die Oranjerivier, of "Grootrivier," soos dit destyds bekend gestaan het, het die Trekkers vertoef om die laaste trekkers kans te gee om op te vang, en om vlotte van wilgerstamme te bou. Dit was Februarie 1836, en die Karoo-somer het gegloei soos 'n oond toe die Trekkers by Winterhoekdrif die waters gaan toets het. 'n Entjie verders troom-op het die Caledon Rivier en die Oranjerivier verenig, en tussen die mooi koppe wat die rivier-bekken uitlê, mos hulle die sterkte van die stroom skat, en wag vir 'n geskikte dag wanneer die rivier op sy laagste sou wees. Min het hulle geweet dat die dorp Bethulie in later jare nie ver daarvandaan tot stand sou kom nie. Wat met "wilgers" bedoel word is nie seker nie, aangesien daar waarskynlik nie destyds gewone uitheemste wilgerbome sou gegroei het nie. Die dag toe die vlotte gereed was, mos 'n dramatiese en uiters emosionele dag gewees het, wat die hele trekgeselskap vir die res van hulle lewens sou onthou. Die oorsteek van die Oranjerivier was nie net 'n fisiese ontsnapping van Britse oorheersing nie--dit was ook 'n simboliese stap wat vergelykbaar kon wees met die bevryding wat die Israeliete ondervind het toe hulle deur die Rooi See getrek het. Die trekkers het goed geweet dat daar aan die ander kant twee dinge op hulle sou wag: eerstens sou daar onbeskryflike gevaar, dood, swaarkry en elende op hulle wag. Maar tweedens sou daar ook 'n onbekende belofte van voorspoed en menswaardigheid wees. Voorspoed het baie boere na die jarelange geplunder op die Oosgrens lankal nie meer geken nie. Veiligheid is iets wat al so lank nie meer vir die grensboere bestaan het nie, dat die bedreiging anderkant die rivier waarskynlik as 'n bestuurbare risiko beskou kon word. Vryheid is iets wat slegs die oudstes onder die trekkers nog kon onthou. Op 'n balans van alle argumente het die pad vorentoe dus heelwat beter as die pad agtertoe gelyk, hoe donker did ookal voorgekom het. Die eerste gedeelte van die pad anderkant die Grootrivier was vir sommige trekkers nie noodwendig heeltemal onbekend nie. Trekboere het jare reeds in hierdie omgewing agter weiding aangeswerf, voortvlugtende misdadigers was reeds jare lank tuis anderkant die rivier, en boonop het Britse en Franse sendelinge al geruime tyd reeds 'n teenwoordigheid gehad, nie ver van waar Bethulie vandag geleë is nie. Die Karoo, tot waar die lang-grasveld begin was dus nie werklik 'n groot onbekende nie. Dit was wat anderkant die Karoo gelê het op die groot sentrale hoëveld, wat onsekerheid verwek het. Op die hoëveld het Mzilikazi se moordbendes lank reeds die binneland in 'n smartvolle wildernis van leweloosheid verander tydens hulle volksmoord-strooptogte van die Mfecane-tydperk. Hoe sou hulle deur Mzilikazi ontvang word as hulle deur sy verowerde grondgebied sou probeer trek? Vir Andries Hendrik Potgieter was dit belangrik om so ver as moontlik van die see af weg te kom. "Waar see is, is Engelse," was sy waarskuwing altyd. Die Potgieter trek was dus nie so besonders bekommerd oor die bedreiging wat die Zoeloes van koning Dingane vir hulle sou inhou nie, want hulle het nooit werklik beplan om Natal-toe te trek nie. Maar daar was altyd die onsekerheidsfaktor, en daar was letterlike honderde maniere waarop die genadelose Afrika-landskap sy trekgeselskap eenvoudig totaal sou kon uitwis. Op die wal van die rivier het die trekkers dus eers bymekaargekom om hulle oortog na wat hulle as die Beloofde Land beskou het, aan die sorg van die Allerhoogste op te dra, om Sy leiding, wysheid en beskerming te vra, en om erkenning te gee vir die nietigheid van hulle bestaan. Dit moes 'n aandoenlike gesig gewees het om die trekkergesinne--almal gekleë is sobere formele lanfer, sis, satyn, wol en ferweel, die hoofde te kon sien buig. En heel waarskynlik sou die opregte gesange wat hulle ten laaste gesing het, hoendervleis verwek het. Na hierdie byeenkoms is die waens aan die vlotte gemaak, en versigtig die stroom ingestuur. Die oorgang moes skouspelagtig gewees het, want die wêreldsgoed wat die trekkers moes saamneem, sou die hele landskap kon vul. Dosyne waens, swaar gelaai met kruit, lood, yster ploeë, saad, meubels en huisware, het skommelend begin dobber en kommerwekkend gekantel. Mens kan jouself die skouspel voorstel: oral manne wat skreeu en raad en bevele uitdeel. Bekommerde boere wat hul perde langs die waens laat swem, terwyl hulle benoud aan toue rem om die waens reguit te laat beweeg. Senuwee-agtige gelag as die eerste wa behoue die vastigheid van die oorkantste wal bereik. Krampagtige vasklouing van moeders aan hulle kinders, terwyl hulle op die wakiste sit en bid vir 'n veilige oorkoms, terwyl almal so kort-kort oor hulle skouer moes geloer het om te kyk of daar nie dalk op die laaste oomblik 'n afdeling Britse soldate sou opdaag om hulle die oortog te probeer belet nie. Die verhuising na vryheid was iets wat baie van hulle nog nie behoorlik sou kon glo nie. Die oorsteek van die rivier moes lank geduur het, want die skaal van die operasie sou dit baie ingewikkeld en gevaarlik gemaak het. Toe dit gelyk het asof die oortog veiling kan plaasvind, is die troppe vee effens stroom-op geneem, en toe met die geklap van swepe en 'n groot geraas en geskree toe in die vlak water gedryf. Hier en daar sou 'n koei en 'n kalf probeer wegbreek, en dan sou die perde omvlieg terwyl 'n boer op 'n stywe gallop nael om hulle af te keer en weer terug te dryf. Op hierdie manier is die reuse troppe beeste, bokke en skape uit-eindelik noodgedwonge diep genoeg in die rivier gedryf totdat hulle moes swem. En van daar het die diere in groot spartelende sarsies, snuiwend, met rollende wit oë deur die slik-belaaide mag van die Grootrivier gebeur totdat hulle duipend nat die oorkantste wal bereik het. In alle waarskynlikheid sou die oorkoms 'n volle dag of meer geduur het. Aan die anderkant van die rivier sou die trekkers dankbaar bymekaar gekom het om dit wat natgeword het uit te droog, om vuur te maak vir ete en koffie, en om vir 'n oomblik stil te staan en te probeer voel hoe vryheid nou werklik voel. Anderkant die rivier het die Kaapkolonie stil en gevoelloos gelê, asof die vertrek van sy kinders nie werklik saakgemaak het nie. En van Britse soldate was daar geen teken nie. Dit was asof niks verander het nie, en tog het alles verander. Party mense sou sekerlik die lug diep ingeasem het, en kon sweer dat iets nie meer dieselfde was nie--asof die horisonne skielik groter geword het. Die trek van die Grootrivier af het kenmerkend stadig en moeisaam geskied. Sonder 'n pad vorentoe, moes die trekkers hulle laat lei deur die aanwysings van klein groepies verdwaalde stamme, of trekboere, sendelinge en Griekwa rondlopers wat oral aanwysings kon gee oor waar goeie water en brandhout vir die volgende dag se staanplek gevind kon word, waar 'n leegte sou lê met soet gras vir die diere, of waar die terrein darem nie te ongelyk of styl was nie. Langs die pad het die skote geklap, want die wêreld was nog wild, en hoewel menslike teenwoordigheid rondom Bethulie lank reeds die wild ietwat verminder het, sou daar nogtans genoeg gewees het om elke nou en dan iets op die kole te kon voeg: hier 'n gebraaide koedoe lewer, daar 'n springbokboud, gestop met knoffel en droë appelkose uit die Kolonie, of miskien selfs 'n smaaklike eland-tong, opgedig is in 'n kosbare porselein opskepbak, wat wie weet--waarskynlik in elk geval nooit heel by sy onbekende uiteindelike bestemming sal uitkom nie. Na 'n aantal dae se trek het die trekkers skynbaar iewers wes van vandag se Smithfield halt geroep, om te wag vir Sarel Cilliers en 'n aantal trekkers van die Colesberg distrik wat by hulle sou aansluit. Die ontmoeting sou ongetwyfeld een van groot vreugde gewees het, en Sarel Cilliers sou 'n geestelike pilaar van sterkte, geloof en mannemoed geword het wat vir die trek nog baie sou beteken. Van hier af het die menigte moeisaam voortgerol oor die veranderende landskap, terwyl hulle hulle verwonder het aan die stille natuurskoon, en altyddeur bekommerd hulle oë oor die verre deinings laat gaan het. Uiteindelik het die Karoo landskap begin verander, en soos die landskap hoër gestyg het, het die gras langer en digter geword, totdat hulle die diep rooigrasvelde van die sentraal-Vrystaat betree het. Op die eindelose ryk rooi tapyt het die trek aangerol gekom soos klein wit skepies op 'n see van rooi, terwyl die troppe diere van ver af uitgesprei soos spikkels op die landskap bly streep het. Oos van Bloemfontein het Tabanchu berg, of Blesberg, soos die trekkers hom geken het, 'n baie groot landmerk gevorm wat die trek vir dae lank in sy rigting bly lok het. Patrollies is voortdurend in alle rigtings uitgestuur, en verkenners moes gereeld 'n paar dae vooruit trek om seker te maak dat die wêreld vorentoe nog oop, begaanbaar, en nie te gevaarlik was nie. Van Blesberg af sou die bespieders sonder twyfel die enorme landskap in stilte gesit en indrink het--die onbeskryflike skaal van die landskap voor hulle--alles gevul met 'n land van goeie grond en weiding. Hier kon die trekkers egter nie stilstaan nie, want die landstreek het al hoe gevaarliker begin word, en teen die pas waarmee hulle moes trek, het die winter met sy wrede koue reeds 'n gevaarlike bedreiging begin inhou. Iewers naby die teenswoordige dorpie Theunissen, het die trek uiteindelik uitgespan op die oewers van die Vetrivier. Die noodsaaklikheid om voort te beur moes hier eenvoudig opsy staan vir die nodigheid om die vee te laat rus, om voorrade aan te vul, en om herstelwerk aan die waens en trekgoed aan te bring. Ook was daar gedurigdeur kleiner groepies trekkers wat van agter af probeer opvang het, en hier waar die wêreld gevaarlik begin word het, was dit belangrik dat almal bymekaargebring moes word. Daar moes beraadslaag word oor hoe om verder te gaan, en vele punte van organisasie het bespreking genoodsaak. Dit was nou herfs, en met die winter voor die deur was dit nie meer moontlik om reguit deur die hoëveld te trek nie. Wat historici nie altyd mooi besef nie, is die logistieke probleme wat so 'n groot trek sou veroorsaak het. Op die ope veld is dit nie prakties moontlik om perde onbepaald te laat werk sonder om van tyd tot tyd 'n bietjie kragvoer te gee nie, en dit was natuurlik nie werklik moontlik nie. Ook het die waens met hul swaar vragte gedurig onderhoud vereis, en waar 'n disselboom gebreek het, of 'n voorviel in 'n miershoop vasgesteek en 'n naaf of 'n speek gebreek het, het dit tyd gevat om reg te maak. By die welkome uitspanning is seekoeie geskiet, vet uitgebraai en seep gekook. Rieme is vervang, sambokke gesny, vuurstene vir die gewere is skerpgemaak, klere is verstel om groeiende kinders te akkommodeer, en honderde ander klein takies is verrig waarvoor daar nie altyd op trek genoeg tyd is nie. Hier op die wyd-uitgestrekte landskap het egter iets gevaarliks begin gebeur. Onder die pote en honger bekke van tienduisende stuks vee kon die trek nooit vir lank op een plek stilstaan nie. Met vee wat deurmekaar geraak het en al hoe verder moes wei, was dit spoedig onvermydelik dat die trekkers moes uitmekaar beweeg en aanhou versit oor die golwende landskap. Dit was nie lank nie of kleiner trekkersgroepe en families het hulleself baie wyd-verspreid langs die rivier af bevind--veels te ver van mekaar om veilig te kan wees. Maar mens moet die omstandighede indink om te verstaan hoekom dit gebeur het. Die landskap was groot, en oor die kale vlaktes heen was daar dag tot dag geen teken van gevaar nie. En Mzilikazi se spioene, wat die trekkers die heel tyd dopgehou het, het disktreet op 'n veilige afstand gebly--anoniem en ongesiens. Intussen het Andries Hendrik Potgieter besluit om van die wintermaande gebruik te maak deur 'n langafstand verkenning te doen en te probeer kontak maak met Louis Tregardt en Lang Hans van Rensburg wat geruime tyd vantevore reeds die binneland ingetrek het. Niemand het in 'n lang tyd enige tyding van die twee trekke verneem nie, en Potgieter en sy manskappe wou graag weet hoe die twee trekleiers die wêreld vorentoe ervaar het. Gevolglik het hulle 'n klein perdekommando uitgerus, en met provisies vir 'n langdurige afwesigheid oor die horison verdwyn. Dit was nie te moeilik om oor die veld te trek op die diep spore wat die Tregardt trek in die grond gelaat het nie. Die spore het suid van Johannesburg verby die Suikerbosrand geloop, en oor die Oos-Transvaalse hoëveld gesny tot by die bolope van die Olifantsrivier. Van hier af het die landskap begin daal, en het die terrein toenemend rof en moeilik begaanbaar begin raak. Uiteindelik verander die vriendelike grasveld van die hoëveld in ruie bosveld, en daar, na ongeveer twee maande se trek, ontmoet Andries Hendrik Potgieter vir Louis Tregardt naby die Soutpansberg. Van Tregardt en sy mense kon Potgieter waardevolle inligting ontvang omtrent die terrein van die noorde, en die geaardheid en gesindheid van die plaaslike stamme wat plek-plek aangetref is. Potgieter en Tregardt het verskillende uitkyke op hulle toekomstige bewegings gehad. Tregardt wou opsluit 'n roete na 'n seehawe hê en het om hierdie rede na Delagoabaai in Portuguess Oos-Afrika (vandag se Mosambiek) bly mik. Potgieter, daarteenoor, wou noordwaarts gaan. Gevolglik het hy die wildernis van Mashonaland aangedurf deur sy kommando oor die Limpopo met al sy krokodille te neem. In sy afwesigheid het orde effens begin verval op die hoëveld waar sy mense geduldig op sy terugkeer sit en wag het. Hoe langer Potgieter weg was, hoe meer het die families begin versprei, sodat sommiges uiteindelik selfs so ver as die Vaalrivier versit het. Party families het inderdaad selfs die rivier deurgetrek. Die gevolg was dat daar op 25 Augustus 1836 'n nag van verskrikking sou plaasvind wat die trekkers vir weke lank nog nagmerries sou besorg. In daardie rampspoedige nag word die Lienberg trek in die donkerte uitgemoor digby waar die dorpie Parys vandag staan. Ander trekfamilies is ter noue dood betyds gewaarsku, sodat die verspreide trekke toe in groot benoudheid en in aller yl weer suidwaarts gejaag het om sterkte in getalle te probeer vind. Binne enkele dae is alle families terug oor die Vaalrivier, en was die agterste trekke reeds besig om teen hulle beste spoed terug te val na die veiligheid van die Blesberg, 'n goeie drie honderd myl agtertoe. Onder die verspreide families, moes die Labuschagnes hulle oënskynlik bevind het. Waarskynlik weens vriendskaps- en familie redes het hulle blykbaar naby hulle neefs en niggies in die Potgieter hooftrek gebly. Hulle was egter nie in staat om betyds verder terug te val nie, en kort voor lank het hulle tyding gekry dat die moeilikheid besig was om hulle in te haal. Tussen die teenswoordige dorpe Heilbron en Lindley, lê die vlaktes meetloos wyd en gelyk vir byna so ver die oog kan sien. In die middel van hierdie groot arena was egter 'n enkele langwerpige bergie met 'n betreklike plat kruin. Toe hulle besef het dat hulles tadige trek nie betyds sal kan ontsnap nie, is besluit dat die waens in 'n laer getrek moet word om die Matabele aanval wat gaan kom, die hoof te bied. Van die kruin van Vegkop af kon die landskap tot op die verre gesigseinders gesien word, en hier, het die trekkers gevoel, sou hulle hul beste kans staan om vir die gevaar voor te berei en dit met genade, moontlik te kan oorleef. Toe Andries Hendrik Potgieter en sy manskappe uitgeput en vol verhale van eksotiese wêrelde wat hulle oë aanskou het, uiteindelik die Vaalrivier streek bereik, het hulle harte ineengekrimp van ontsteltenis by aanhore van die verskriklike nuus. Teen die beste spoed waartoe hulle afgematte ryperde instaat was het hulle hulle gehaas om hulle laer in te haal, en hulle bereik dit ook net-net betyds om voorbereidings vir die komende geveg te help tref. In die suidelike skaduwee van die berg wat later as Vegkop bekend sou staan, het Potgieter sy laer laat trek. Sommige sê dit was rond, terwyl ander meen dit was 'n vierkante laer. Van die doringbosse aan die voet van die berg het Potgieter takke laat kap om die gapings onder- en tussen waens mee toe te stop. Waens is aanmekaar vasgeketting, en bespieders is bo op die berg aangestel om te kyk vir die koms van gevaar. Die slag wat gevolg het is reeds elders beskryf, maar dit dien nogmaals vermeld te word dat hierdie veldslag sou neergaan in die roemryke annale van Suid-Afrika se geskiedenis as een van die mees-dramatiese en wonderbaarlikste veldslae ooit. Teen 'n uiterste oormag van etlike duisende Matabele krygers, het die 37 weerbare persone wat bestaan het uit mans, seuns en bediendes--enigeen wat 'n geweer kon hanteer, 'n onbeskryflike oorwinning behaal. Die slagting was uitermatig groot, en die enigste verliese aan die kant van die trekkers was Andries Hendrik Potgieter se broer, Nicolaas Johannes, en sy skoonseun Pieter Johannes Botha. Hulle liggame is naby die laer in die sagte vleigrond weggelê, vanwaar die gemeenskaplike graf in later jare effens hoër op na die terrein van die Vegkop museum verskuif sou word. Tydens hierdie slag was klein Leonardus Labuschagne 'n skamele tien jaar oud. Aangesien hy nog te klein was om aaneenlopend met die trekkers se groot snaphane te skiet, moes hy en sy maatjie, Stephanus Johannes Paulus Kruger--wat later die staatspresident van die ZAR sou word--die heel dag help om hulle vaders se gewere te laai. Leonardus Petrus Labuschagne, sy vader, was 'n man van 46 en in die fleur van sy lewe, en na wat verwag kon word, sou sy geweer soos die van die ander trekkers in die laer, daardie dag bly brand totdat die kruit ontvlam by aanraking met die loop, sodat die gewere se lope van tyd tot tyd eers in vate water afgekoel sou moes word. Die benoudheid wat so 'n groot gevaar 'n ouerpaar moes besorg het, kan geen mens homself vandag behoorlik meer indink nie. Toe die veldslag oor was, het die Potgieter laer soos 'n groot rooi oog in 'n see van kreunende, klaende swart lyke gelê, terwyl die nag in 'n ongemaklike stilte neergedaal het soos 'n swart gordyn oor 'n onnoembare opvoering. Ver oor die horison het die verminkte oorblyfsels van Mzilikazi se uitsoek-leër hinkend verdwyn in 'n enorme stofwolk wat ten hemele gestyg het weens die duisende hoewe van omtrent al die trekkers se vee. Die behoud van hulle lewens was niks minder as 'n wonderwerk nie, maar die verlies van die trekkers se vee was 'n ernstige ramp. Sonder trekdiere kon hulle die waens nie verskuif na veiligheid nie. Die volgende dag het klein Leendert en sy maatjie Paul Kruger gespandeer deur die ouer garde te help om die ontbindende Matabele lyke van die laer af weg te sleep. Selfs in die koel hoëveldse son het die lyke begin opblaas, en weldra sou 'n ondraaglike stank die laer besoedel. Om die verslane menigte se oorskot te verskuif was 'n onbekonnde taak, en dag na dag het die afgryse van die situasie vererger. Maak nie saak hoeveel die trekkers teer en swael gebrand het nie, die reuk kon nie ontsnap word nie. Boonop het die honde begin om mensereste die laer in te dra, en sonder twyfel moes vlieë en brommers tot die afskuwelike situasie se elende bygedra het. Uiteindelik is daar besluit om met 'n groot gesukkel die trekkers se enkele oorblywende ryperde te gebruik ten einde die waens een-vir-een weg te sleep tot waar hulle ten minste van die onheilsame atmosfeer kon wegkom. Intussen is ruiters suidwaarts gestuur om by die Amerikaanse sendelinge naby Blesberg hulp te gaan vra. Weldra sou hierdie genadige mense trekdiere en hulp stuur om die waens te verwyder, en kon die trek darem sodoende uit die skrikwekkende landskap waar hulle vasgevang was, ontsnap. Die gebeure met die Liebenberg moorde en Vegkop was vir die trekkers 'n geweldige skok, en meteens het sommige sommer begin praat van omdraai en terugkeer na die Kolonie. Vir die meeste was dit egter nie 'n opsie nie. Hulle het geweet dat gevaar sou voorlê en dat vryheid 'n prys sou hê. Omdraai was nie 'n uitkoms nie, en slegs deurdruk sou voorlê. Maar vir eers moes die trekkers met hul swak vee in die skadu van Blesberg oorwinter, en hulleself verskans teen die snydende koue van die winter winde wat ongehinderd oor die aarde sou spoel. Hulle volgende beweging kon beslis nie voor die komende lentereëns plaasvind nie. Vroeg in Desember 1836, na die landskap al reeds begin juig het met die ontwaking van 'n nuwe lente, het iets plaasgevind wat die trekkers met groot vreugde begroet het. Sommige trekkers was waarskynlik al moeg vir Potgieter se eiesinnigheid en beheptheid met die noorde, en toe die elegante heer Gert Maritz uiteindelik opdaag met 'n groot gevolg, was sy koms met uitbundige vreugte begroet. Die koms van Maritz sou egter 'n verdeeltheid in trekker-geledere kenmerk, wat lateraan rampspoedige gevolge sou hê. Aan die voet van Blesberg is 'n volkstemming gehou, ten gevolge waarvan 'n regering van soorte verkies is om oor die volksverhuising leierskap te voer. Gert Maritz met sy swierige kleredrag, netjies-geverfde waens en dorpsmaniere is verkies as president, en Hendrik Potgieter--"ou Blouberg"--met sy forse geaardheid en ontaktvolle natuur, is aangestel as laerkommandant. Hierdie verkiesing was nie vir almal aanvaarbaar nie, maar vir eers was daar ten minste 'n billike poging aangewend om die beste van die omstandighede te maak. Maritz en Potgieter het feitlik onmiddelik koppe gestamp, maar een ding waaroor hulle wel kon saamstem, was die noodsaaklikheid dat Mzilikazi 'n beslissende les geleer sou moes word aloverens die sentrale hoëveld ooit weer aangedurf sou kon word. Na Kersfees van 1836 is wapens nagegaan, perde beslaan, en proviant ingepak vir die ekspedisie na die noorde. Almal het geweet dat die voortbestaan van die hele Groot Trek van die sukses van hierdie ekspedisie sou afhang, en nogtans het betreklik min mense aan die ekspedisie deelgeneem. Van die blankes was daar maar ongeveer 107, gevolg deur 'n onsekere getal nie-blankes. Waarskynlik het 'n heel reeks persone aangesluit wat tydens die Mfecane elende aangedoen was deur die Matabele, en wat baie begering was om onder die witman se wapens en leierskap, wraak te neem. Of Leonardus Petrus Labuschagne aan die ekspedisie deelgeneem het, kan nie met sekerheid gesê word nie, maar dit lyk tog meer as waarskynlik, aangesien hy kort na die Groot Trek direk getrek het om te gaan afsaal op die terrein van hulle voormalige strydveld in die Marico distrik. Wat die ekspedisie self aanbetref, sou dit beswaarlik akkuraat wees om te sê dat die militêre resultate skouspelagtig was. Die trekkers het Mzilikazi totaal onverhoeds betrap, en in die goue tydperk van algehele verassing, het hulle met strategiese vernuf gehandel wat gelei het tot 'n uiters beslissende nederlaag vir Mzilikazi. Die vlugtende Matabele is agtervolg van vesting tot vesting en van kraal tot kraal, en oral waar die stof gaan lê het, het net as en verwoesting oorgebly. Toe die trekkers uiteindelik omdraai, was dit eenvoudig omdat hulle proviant en ammunsie, maar bowenal hulle rydiere uitgedien was. Sonder die vlugvoetigheid van hulle perde kon die stryd nie voortgaan nie, maar die trekkers het nogtans besef dat Mzilikazi 'n gevoellige les geleer is. Sy hoofstad Mosega is in puin gelê, en die oorblyfsels van sy nasie en gevreesde leërs wat vir jare lank die grootste skrikbewing van alle tye op die hoëveld gevoer het, was in totale wanorde. Boonop het die trekkers duisende beeste gebuit, en hiermee is die Labuschagnes en ander families wat hulle vee by Vegkop verloor het, waarskynlik meer as voldoende her-uitgerus. Intussen het die sukses in die noorde die trekkers die moed gegee om weer nader te kon trek, hierdie keer sover noord as die huidige Suikerbosrand, tussen Johannesburg en Heidelberg. Mzilikazi was nog nie totaal verslaan nie, en die trekkers het al te goed besef dat as hulle die bedreiging nie finaal kon uitwis nie, sou Mzilikazi wel op sy eie tyd en op 'n plek van sy keuse, dood en vernietiging op die verspreide trekkers neerbring. Gevolglik is 'n nuwe strafekspedisie 'n paar maande later in die lente van 1837 weer op die been geroep. Teen hierdie tyd het Piet Uys en sy manne ook al by die trek aangesluit, en hy sou die nuwe ekspedisie met kenmerkende energie en drif meemaak. In die wilde noord-weste het die trekkers en Mzilikazi se slagordes gebots, en die gevegte wat gevolg het, was soos die desperate worsteling van gewonde leeus. Vir meer as 'n week lank het die kruit gebrand en het die klowe en berge gedreun soos donderweer terwyl die trekkers besoeking gebring het oor die Matabele krygers vir al die jare se moordsug en tirannie op hul mindere volke. Die nederlaag van die Matabele was algeheel. Onder Potgieter se verbeeldingryke leiding, en met die determinasie gebore uit woede oor die verlede, en besorgdheid oor die toekoms, het die trekkers Mzilikazi se leërs agtervolg, hulle nedersettings in puin gelê, hulle gesteelde vee met rente teruggeneem, en die hele nasie van rowebendes oor die Limpopo gejaag sodat hulle nooit weer 'n wesentlike gevaar vir die trekbeweging sou inhou nie. In Mashonaland sou die Matabele hulle spoor van dood en verwoesting voortsit, en verbysterende vernietiging op die onskuldige inwoners laat neerdaal, maar na 'n skrikbewind van jare kon die hele sentrale hoëveld egter uiteindelik sug van verligting. Daar was waarskynlik nie 'n enkele stam wat 'n voortvlugtigingsbestaan gevoer het op die hoëveld, wat nie gejubel het ten aanhore van die nuus dat die wrede Mzilikazi besoeking ontvang het vir die sondes van sy verlede nie. Ondertussen het dinge nie goed gegaan onder die trekker leierskap nie. Maritz en Potgieter was beide koppig en trots, en hulle kon eenvoudig nie saamwerk nie. Potgieter se drang om noordwaarts te trek was ononderhandelbaar, en toe Maritz nie tot 'n besluit kon kom nie, het Potgieter eenvoudig sy waens gepak en noordwaarts getrek. Noodgedwonge en lusteloos moes Maritz hom op 'n teësinnige afstand bly volg. Teen die herfs van 1837 gebeur iets egter wat hierdie situasie heeltemal sou verander. Die aankoms van die charismatiese leier, Piet Retief, met sy groot gevolg, is oral met groot verwagting begroet. Onmiddelik het die loyaliteit van vele persone wat moeg was vir Maritz en Potgieter se struwelinge, na Piet Retief verskuif. Tydens 'n nuwe referendum word Piet Retief as goewerneur verkies, en die uiteinde van vele onderhandelings was dat Retief besluit om die hele trek na die land van Port Natal--sy gekose heekome--af te keer. Ter wille van eensgesindheid moes Potgieter en sy minderheidsgevolg, eenvoudig maar saam trek, en hierdie keer was dit hulle wat dikbek die agterhoede moes trek. Heel waarskynlik het sy Labuschagne familie hierdie beskouing gedeel. Op die rand van die hoëveld het die enorme uittog uiteindelik tot stilstand gekom, terwyl 'n komplekse stel gebeure gevolg het, waartydens Piet Retief probeer het om op diplomatieke eiers te loop ten einde 'n veilige verblyfreg in Natal van die koning van die Zoeloes te bekom. Die uitkoms van onderhandelinge het bepaal dat Retief 'n groot aantal beeste moes terugkry wat Sikonyella na bewering van Dingane sou geroof het. Dit het Retief suksesvol gedoen, en daarna is hy en 'n uitesoekte aantal verteenwoordigers ontbied om die traktaat te onderteken waarmee Dingane die sentrale deel van Natalia aan die trekkers sou verkoop. Wat hierop gevolg het, is welbekend. By sy vertrek het Retief sy mede-trekkers streng vermaan om nie die Drakensberge af te trek voordat dit veilig was en hy hulle laat kom nie. Hieraan het die trekkers ongelukkig nie gehoor gegee nie. Die land van Natal het soos 'n beeldskone Lorelei in die verte gewink. Dit was 'n deinende paradys wat gewemel het van wild, gevulg met klowe wat gevloei het met kabbelende waterstrome--berge met digeboste hange, valleie met ryk en geurige weivelde, hellings begroei met veldblomme van alle kleure, en grond wat gesmeek het om bewerk te word. Die versoeking om eerste te wees om die vrugte te eet van hierdie wonderskone tuin van Eden was net te groot. Weldra het die wit watente streep-streep die duiseligwekkende hoogtes van die Drakensberge begin afstroom, en kort voor lank was 'n groot aantal trekkers ver versprei oor die gevaarlike land--tot sover as die Bloukransrivier, baie uure se ry van die naaste hulp af. Die stille vrede wat geheers het was totaal misleidend, en min het hulle geweet dat Dingane se oë via sy alomteenwoordige spioene, geen beweging gemis het nie. Op die vroeg in 1838 het die nagmerrie aangebreek waarvoor almal sedert die Kolonie verlaat is, nog altyd gesidder het. Terwyl Piet Retief en sy hele gevolg skielik op verraderlike wyse deur Dingane vermoor word tydens 'n staatsbanket om die beklinking van die grondtransaksie te vier, sluip 'n groot leërmag deur die nag in die bo-opvangsgebied van die Tugelarivier, terwyl die trekkers salig ongbewus lê en slaap. Diegene wat hoër op en nader aan die berge geleë was, kon laat die nag in die vertes die dowwe plofgeluide hoor van wat duidelik 'n desperate vuurgeveg was in die nag. Kort daarna het die skote begin verminder, totdat net die stilte oorgebly het, terwyl veraf-vuurgloede vertel het van die brandende laers. Plek-plek het brawe ruiters wat die slagtings ontsnap het, ter noue dood daarin geslaag om etlike ander laers betyds te waarsku sodat hulle hulleself effektief kon verdedig. Die chaos was volslae, en toe die dag breek, het die aaklige werklikheid in stukkies en brokkies by die agter-trek se leier, Gert Maritz, uitgekom. Die werklikheid daarvan was byna te verskriklik om te kon glo. Dingane se leërs het die verste trekke totaal oorrompel. Sommige trekgeselskappe is in totaliteit uitgewis sodat nie 'n enkele vrou, kind of hoender ontkom het nie. Babas se koppe is teen die wawiele vergruis, vewagtende vrouens se buike is oopgesny, en enige lewende ding is met assegaailemme doodgesteek of met knopkierries die harsings ingeslaan. Nie eers die bediendes is ontsien nie. In die smeulende as van verskeie trekgeselskappe, is 'n toneel van asembembenemende verwoesting aangetref. Van verbrande waens het net die houtskool skelette oorgebly, met wiel-vellings wat dronkerig skuins gelê het, en speke wat uitgebrand onder die gewig geswig het. Vere van oopgesnyde matrasse het soos sneeu die makabere toneel bedek, terwyl die verspilde bloed van vriende, familie en vyande, obsene strepe deur die omliggende gras gelaat het. By die verstyfde lyke van hulle vriende en familie, vind die trekkers die tekens van 'n desperate geveg om lewe en dood. Manne en vroue het duidelik geveg tot die laaste ons kruit en lood, of totdat hulle hopeloos oorweldig was. Sommige het hulleself hierna verdedig met geweerkolwe, byle, jagmesse en enige ander voorwerp wat hulle in die hande kon kry. Die gebreekte gewere en bebloede lemme wat nog in hulle saamgeklemde vuiste te vinde was, was onweerlegbare getuienis hiervan. Die gesigte was iets wat geen persoon wat dit gesien het, ooit sou kon vergeet nie. Dit was tonele wat selfs die sterkste hart laat skeur het. In een nag is meer as 500 kosbare lewens verloor, en meteens het almal geweet dat dit net een ding kon beteken: Piet Retief en sy manskappe moes byna sekerlik ook omgekom het. Die bevestiging van hierdie vermoede sou egter nog geruime tyd duur. Waar al die Labuschagnes hulleself op hierdie stadium bevind het, is nie seker nie. Sommiges was by die Retief trek, party waarskynlik saam met die Maritz trek, en Leendert en sy familie was waarskynlik nog saam met Hendrik Potgieter en sy familie. Daar is rede om te vermoed dat daar 'n Labuschagne laer was aan die Tugela rivier op die verskriklike nag van die moorde by Moordspruit, Boesmansrivier en Bloukrans. Waarskynlik was hulle naby die gebied van Potgietersdrif, digby die plek waar die beroemde slag van Vaalkrans later tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog sou plaasvind. Indien hierdie suspisie korrek is, dan sou hulle volgens die vermoede van Professor FJ Labuschagne, moontlik betyds waarskuwing kon gekry het. Of hulle was dalk eenvoudig gemis deur Dingane se stroperbendes. Hoe dit ookal sy, geen Labuschagnes word gelys onder die dodetal van daardie afgryslike nag nie, en hulle ontkoming was iets waarvoor almal waarskynlik baie dankaar sou wees. Die gevaar was egter nie so maklik verby nie. Die grootste laer naby die Tugela was die van Gert Maritz. Sy staanplek was op 'n hoogliggende gebied, en met tydige waarskuwing was hy in staat om genoegsame voorbereidings te tref. Die aanval op die Maritz laer was skrikwekkend en het 'n halwe dag lank geduur. Toe dit verby was, was daar groot verliese aan beide kante, maar ten minste het die trekkers die dag oorleef. Hierop het Maritz so gou hy kon 'n teenaanval van stapel gestuur, maar hoewel hy die Zoeloe krygers ver kon jaag en baie kon doodskiet, was dit reeds te laat. Die gebuite vee van die trekkers, wat 'n oseaan van lewende hawe was, het reeds in die vere blou dieptes van die valleie van Zoeloeland verdwyn, vanwaar dit onmoontlik sou wees om hulle met so min aanvallers weer te kon verower. Hierop is daar tussen die leiers Maritz, Potgieter, Piet Greyling en Uys, besluit dat 'n hernieude aanval op Dingane se leër gemaak moes word. Die aanval is egter haastig beplan en daar was van die staanspoor af 'n rampspoedige onenigheid onder die leierskap. Uiteindelik word dit onder verdeelde leierskap van stapel gestuur, en op hierdie manier storm die trekkers deur die Buffelsrivier, die grondgebied van Zoeloeland binne. By 'n sekere kloof aan die voet van Italenie-berg, sit die trekkers 'n afdeling Zoeloe krygers agterna, wat haastig besig is om beeste weg te dryf. Van ver af het Potgieter die kloof egter betrag, en 'n gevoel gekry dat alles nie pluis is nie. Piet Uys wou egter nie na rede luister nie, en het daarop aangedring dat hy die kloof gaan binnedring om die agtervolging voort te sit. Hiervoor was Potgieter nie te vinde nie, en gevolglik het hy sy kommando terug gehou. Uys se besluit sou die laaste fout van sy lewe wees, want netsoos Potgieter gevrees het, was hierdie kloof die terrein vir 'n goed-beplande en perfek-geloodste lokval. Uys en sy manne het met die verwoede desperaatheid van leeus geveg, maar onder die hernieude golwe van aanvalle het hulle een vir een onder die singende lemme van die krygers geval. Piet Uys is tydens hierdie aanval noodlottig gewond, en sy jong seuntjie, Dirkie, het sy vader bygestaan totdat hy saam met hom die dood van 'n held gesterf het. Saam met sy manskappe het minstens een Labuschagne gesterf. Toe Potgieter se kommando terugkeer met die skokkende nuus, is sy tyding op passievolle wyse ontvang. Onder die ontvlamde emosies was daar uitbarstings, en in die proses is Potgieter van lafhartigheid beskuldig. Hierin het Potgieter hom bloediglik vererg en diep gekrenk gevoel sodat hy onmiddelik opdrag gegee het dat sy hele trek op hulle hakke omdraai en Natal vir goed verlaat. Na verwagting sou Leendert en sy familie moontlik hiermee ook Natal verlaat het. Dit was die stap waarvoor almal nog altyd gevrees het, en Potgieter se vertrek het die pioniers in Natal verswak en hoogs-bedreig gelaat. Hoewel baie persone nie van Potgieter gehou het nie, was sy driftige geaardheid en uitstekende militêre insig nog altyd vir hulle 'n bron van vertroue en hoop. Maar nou was hulle aan hulleself oorgelaat. Intussen het die trekkers in groot benoudheid verkeer. Die winter wat voorlê sou gekenmerk word deur bittere lyding. Die trekkers was geforseer om seemgehok te word in groot laers, waar dit aaneenhoudend gereën het, siekte epidemies uitgebreek het, pes onder die vee voorgekom het, en hulle veiligheid voortdurend bedreig was. Dit was 'n tyd van donker gemoedere en uiterste bekommernis. In hierdie droewige middernag-uur het Gert Maritz ook gesterf, en so die trek sonder 'n sterk leier gelaat, juis toe hulle dit die nodigste sou hê. Voor die seisoen nog behoorlik kon draai het die lank-verwagte nuwe aanval uiteindelik plaasgevind. Op 13 Augustus 1838 het 10,000 krygers op die die trekkers-laer toegesak op 'n koppie wat vandag bedek is deur die Spioenkop dam, digby die Tugela rivier. Die desperate geveg wat hierop gevolg het, het 'n enorme slagting onder die Zoeloes veroorsaak, en toe hulle uiteindelik bebloed en vermind terugsteier na twee dae van afskuwelike gevegte, het die trekkers moeg, maar dankbaar en verlig, as oorwinnaars uit die stryd getreë. Word vervolg... http://www.groottrek.za.cx/trek.htm |
|
Contact: mellivora@hotmail.com Data on this site is managed using Legacy genealogical software. Legacy 5.0 is a full-featured professional genealogy program that helps you track, organize, print, and share your family history. Includes source documentation, dozens of beautiful reports, expert merging capabilities, To Do list, pictures, videos, Web page creation, spell checking, Internet searching, relationship calculation, name tag printing and more. The program imports and exports standard GEDCOM files as well as directly reads PAF files.
|