Free Web Hosting by Netfirms
Web Hosting by Netfirms | Free Domain Names by Netfirms


The Labuschagne Family
http://labuschagne.netfirms.com

Dedicated to the Preservation of History
Verbind tot die Bewaring van Geskiedenis

Home

Links

Origin

Coat of Arms

Object & Purpose

Nobility

Contact

Concentration Camps

Family Register

Eastern Cape Report 2002

Eastern Cape report 2003

Eastern Cape Report 2004

Humour

Medaljerol

Holkrans Murders

Piet Retief Bittereinder List

Burgers Ward II Piet Retief District

Bloukrans Murders List

Labuschagne References

Loose Threads

Graves

Boer War

Wakkerstroom

Research & Background

How to get started

About the author

Vegkop

Slagtersnek & Van Aardspos

Labuschagne hunters

Wakkerstroom se Labuschagnes

Wakkerstroom Huwelike

Labuschagne photographs

 


Afskrif van brief geskryf tydens die Voortrekker Eeufees in 1938
deur L.J. Labuschagne. 
Spelling en taalgebruik is onveranderd gelaat.

Transkripsie vanaf die oorspronklike dokument, deur Herman Labuschagne, Piet Retief, 20 April 1998

Possak Mooipoort
P.K. Wakkerstroom
26 Oktober 1938

Heer I.H. Labuschagne
Broederstroom
P.K. Broederstroom 

Liewe Herman, 

Met die oog op die aanstaande Voortrekker Eufees het Mama en ek besluit hierdie brief te skryf as ‘n gedagtenis van die gebeurtenis, ook omdat hierdie brief gedra sal word deur een van die Voortrekker waens wat van Kaapstad na Johannesburg trek.

Vir baie mense is die Eeufees slegs ‘n geleentheid van geselligheid of braai vleis aande; andere roem op die goeie deugde van die Voortrekkers hoewel hulle dit in hulle eie lewe nie probeer naleef nie; vir sommige is dit ‘n ververmaak om baarde te groei en Voortrekker kleredrag na te boots, in andere woorde om uiterlik op die Voortrekker te lyk sonder met erns hulle goeie hoedanighede in hierdie innerlike lewenswyse te beoefen. Vir die weldenkendes het die Fees—behalwe die betoning van eer, hulde en dankbaardheid aan die stoere baanbrekers, wat vir die nageslag ‘n skoon land van barbaar en ongedierte skoon gemaak, en bewoonbaar gemaak het met ‘n moed, volharding, ontberinge en opoffering wat ons vandag nie kan besef nie—ook nog ‘n dieper betekenis, namelik ‘n tydstip van selfondersoek om te bepaal hoe ons as persone en ‘n volk staan op morele en godsdienstige gebied; of ons die erfenis deur die Voortrekkers ons nagelaat waardig is; of ons opgebou het op die fondament wat hulle gelę het; of ons die deugde wat hulle besit het behou het; of ons die gebreke wat hulle openbaar het uit ons volkslewe probeer verban het; of ons die eiënskappe wat nodig is om ‘n volk groot en sterk te maak—met erns beoefen en aangekweek het; of ons probeer om af te leer om met mekaar te twis oor nietige sake; of ons werklik probeer verdraagsaam wees teenoor elkaar en andere wat hierdie land ok hulle tuiste temaak het en saam wil opbou; of ons die groothartigheid besit om met almal wat hierdie land hulle eie wil maak ‘n groot en sterk Suid Afrikaanse nasie op te bou; of ons so eng van hart en welvoeglikheid is om andere rasse wat saam met ons in opregtheid die Voortrekkers wil eer opsy te wil stoot, en eindelik of ons politieke moraliteit so laag gedaal het om uit die Fees—oor die grafte van die Voortrekkers—party politieke in te sleep.

As die volk in hierdie gees die fees hou kan dit die wording wees van ‘n nuwe geslag, die Voortrekkers waardig is. Wanneer ons by hierdie geleentheid dink aan ons voorouers, dan betreur ons dit dat soveel van hulle persoonlike lewensgebeurtenisse verlore gegaan het; en spyt dit ons dat ons so min van ons eie familie se wedervaringe kan meedeel.

Die Voortrekkers in ons familie—sover aan my bekend—was Leonardus Johannes Labuschagne, sy eggenote Anna Wilhelmina, gebore Pieterse, my oor-grootvader en -moeder, en hulle seun Leonardus Labuschagne, my grootvader, oupa soos ons dit soms noem. Hulle het uit Somerset Oos getrek, waarskynlik met die trek van Potgieter. My grootouers het vertel—hoewel hy destyds nog ‘n jong seun was—dat hulle vertoef het by Sand Rivier en Windburg in die Vrystaat, in 1846 of 1847 na Marico getrek het, later na Mooi Rivier, nou Potchefstroom, en daarna na Hartebeesfontein, dist. Heidelberg, waar my oor-grootvader hom gevestig het, en ook begrawe is. Ongelukkig kan niemand my die graf in die kerkhof daar aanwys nie. Die klipmure om die landerye, vervalle dog nog daar, het hy en sy seuns gepak. Van die vrugte-bome deur hom geplant is nog van oor. Die ou groot appelkoos bome op die wal van die spruit het hy nog geplant.

Hy het ‘n uitstekende jag-perd gehad met die naam Bonaparte. In Marico se distrik het oupa-grootjie eën dag op ‘n klomp leeus afgekom. Hy het gemeen ‘n leeu kon Bonaparte nie inloop nie; en het op die leeus van die perd af begin skiet. Die leeus het gestorm, maar Bonaparte kon nie voorbly nie. ‘n Mannetjie het hom bespring, met een klou net agter die saęlklap, en perd en ruiter omgeruk. Oupa-grootjie het ‘n boom, sonder sy ou sanna, gehaal; en daaruit moes hy toeskou hoe die leeus Bonaparte verslind. Eers die volgende oggend kon hy uit die boom by sy geweer kom, na die leeus die nag weg is.

Grootvader Leonardus Labuschagne was in Somerset Oos distrik gebore op 17 Mei 1826, en as seun met sy ouers optrek gegaan. Hy het deelgeneem aan die slag te Boomplaas in 1848. Was met ‘n klompie andere by ‘n ou kraal, waar hulle die Engelse teengekom het, toe hulle ontdek die kommando het gevlug; en hulle het met moeite kon ontvlug. Sy perd het ingegee of weggehardloop en hy het van sy maats afgeraak. Moes die nag in ‘n bos skuil, en het vermoeid twee daë later te voet eers by mense aangekom. Hy het in die vroë daë ‘n ekspedisie teen ‘n kaffer hoof in Transvaal as jong man meegemeek en later in al die kaffer en ander oorloë meegedoen; en in daardie dae saam met die ander gehelp geskiedenis maak.

Toe hulle reeds in Heidelberg distrik op Hartebeesftfontein gewoon het is byna al sy vee met die “Groot Kapok” in 1853 verlore gegaan, en het hy in die houtbosse in die Drakensberg naby Newcastle gaan hout saag, dit verkoop en verwerk in tafels, stoele en rusbanke en sy boerdery so weer opgebou. Hy het ok waëns gemaak en geweerlaaie. Hy was ‘n behendige timerman. Ongelukkig het byna al sy handewerk in die oorlog 1899—1902 verlore geraak. In ons spens staan ‘n tafel wat hy gemaak het toe hy byna 80 jaar oud was.

Hy was ‘n goeie skut en jagter. Sy bruin perd “Alfie” kon uitstekend hard loop. In Standerton distrik het hy met hierdie perd voëlstruise ingejaag en geskiet. Hy het baie gehelp leeu jag wat vee gevang het. By een leeu-jag het ‘n leeu hom gestorm en het hy hom tien tree van hom af doodgeskiet.

Tydens die Vryheids oorlog 1880—1881 was hy offisier oor die burgers wat Standerton dorp belę het. Met die uitbreek van die 1899—1902 oorlog het hy op 73 jarige leeftyd vrywillig op kommando gegaan en op ‘n kou mistige dag met ‘n daarop bitter kou volgende nag, gehelp “Long Tom” die Pokwane Berg uittrek. Sy offisier het om egter terug na huis gestuur.

Figuur 19 ‘n Boere Long Tom kanon, met die loop verwyder en na agter geplaas vir vervoer. Op hierdie manier sou Long Tom teen Pongwane-berg uitgesleep gewees het.

Hy was getroud met Catherina Johanna Susanna Potgieter, wat enige jare voor hom gesterwe het. Hy het later op Beaumaris, distr. Wakkerstroom gewoon, waar hy na ‘n veelbewoge lewe op 93 jarige leeftyd te ruste gelę is langs sy vooroorlede eggenote.

Welke aandeel die Beytel familie—die ouers van julle ouma Labuschagne in die Groot Trek geneem het, weet ons ongelukkig nie. Hulle was twee ou liewe goeie mense, die regte goeie Voortrekker tipe, waarop enige nasie kan trots wees. Hulle was Andries Josephus Beytel en Johanna Martina Snyman. Het op die plaas Rodewal, dist. Heidelberg gewoon van vroeë jeug af. Daar het hulle gewerk en daar rus hulle albei.

Figuur 20 Stamvader George Augustus Kolbe wat in 1820 na Suid-Afrika ge-emigreer het.

Die Kolbe familie het nie aan die Groot Trek deelgeneem nie. Ons stam af van George Augustus Kolbé, wat as ‘n Duitse sendeling dokter na Suid Afrika gekom het. Hy het geseende werk gedoen en was nie die klas sendeling wat die lewe vir baie mense suur gemaak het en ‘n skandelike invloed onder die inboordlinge opgewek het nie. Oupa grootjie was getroud met ‘n Engelse dame Downing van Londen. Hulle het hulle arbeidsveld in die Kaap gehad; waar ons oupa Frederick Fortunatus Kolbé gebore is. Hy was getroud met Elisabeth Johanna du Toit.

 

Figuur 21 Frederick Fortunatus Kolbe

Figuur 22 Elizabeth Johanna du Toit

Hulle het eers in die Kaapkolonie gewoon, en later op Saxony, naby Wakkerstroom kom woon. Daar rus die twee waardige en voorbeeldige ou mense, en ons kan vir julle niks beter toewens nie as dat julle lewenswyse soos die van die twee voorouders mag wees wees nie. Hulle seun George Augustus Kolbe, is in Colesberg distrik gebore, en saam met sy ouers na Transvaal gekom, waar hy met Martha Sophia Klopper getroud is. Ons sal hulle eer vir wat hulle lewe vir ons beteken het.

Figuur 23 George Augustus Kolbe en Marta Sophia Klopper, tesame met hul kinders.

Julle oupa Izak Hermanus Labuschagne en ouma Susara Maria Regina Catherina, gebore Beytel, het julle geken. Miskien later meer oor hulle, aan wie ons nie genoeg dankbaarheid kan betoon nie vir hulle vorbeelde, liefde en opofferinge en gebede. As sulke ouers eers heengegaan is voel mens eers hoeveel jy verloor het.

 

Figuur 24 Susaria Maria Regina Catharina Beytel

En so sluit ons met die bede dat hierdie Eeu fees daartoe mag bydrâ om van ons beter vaders en moeders, beter seuns en dogters, beter Kristene, beter burgers en vaderlanders te maak, en dat ons die erfenis van ons voorouers ontvang altyd in ere sal hou, sal opbou en verbeter, en also mag word ‘n edel volk in ‘n skoon land.

Dat jy, liewe Hermantjie, met almal aan jou toevertrou, ‘n gelukkige en geseende toekoms in ons geliefde Suid Afrika mag hę, is die heilbede van jou liefhebbende ouers.

 

L.J Labuschagne

E.J. Labuschagne (Kolbe)

 

Contact: mellivora@hotmail.com 
Copyright 2004, H Labuschagne. All rights reserved. No part of this material may be used for commercial gain. 

Data on this site is managed using Legacy genealogical software.  

Legacy 5.0 is a full-featured professional genealogy program that helps you track, organize, print, and share your family history. Includes source documentation, dozens of beautiful reports, expert merging capabilities, To Do list, pictures, videos, Web page creation, spell checking, Internet searching, relationship calculation, name tag printing and more. The program imports and exports standard GEDCOM files as well as directly reads PAF files. 

Hit Counter